Psalm 120 – God antwoord in nood
Ek gebruik die volgende 13 weke op Saterdae die sogenaamde Pelgrimspsalms 120-134. Psalm 126 is al in Maart gedoen. Jy kan dit hier lees: https://wp.me/pZl58-3Ha.
Psalm 110-118 het die geloofsgemeenskap herinner aan God se (veral Messiaanse) beloftes uit die verlede wat bedoel was vir ‘n beter toekoms. Dit was veral in die na-ballingskap tyd ‘n inspirasie en motivering om die Here te dien in afwagting van die herstel wat Hy in die geloofsgemeenskap en wêreld sal bring. Psalm 119 het hulle gehelp om te fokus op die belewenis van God se teenwoordigheid in die Woord wat bedoel was vir die uitdagings van elke dag in die hede. Dit is die Woord van God in sy wet en sy woorde wat die lamp vir hulle voet en die lig vir hulle lewenspad sal wees. Psalm 120-134 help nou op soortgelyke wyse die geloofsgemeenskap om te fokus op die belewenis van God se teenwoordigheid in die tempel waar hulle met mekaar versterk kan word vir die geloofstryd. Dit is waar hulle saam sing en die Here loof wat hulle innerlik die krag kry om te doen wat die Woord van hulle vra. Hierdie vyftien Psalms word daarom Pelgrimsliedere genoem wat bedoel was om drie keer ‘n jaar met die reis na die groot feeste by die tempel in Jerusalem gesing te word om onder andere die verlange na God (Ps 121), die gebed vir Jerusalem (Ps 122), die belydenis van afhanklikheid van God (Ps 123), en die gebed om beskerming van God (Ps 125) te verwoord.
Psalm 120 – God antwoord in nood
1‘n Pelgrimslied. Na die Here het ek in my nood geroep en Hy het my geantwoord. 2Here, bevry my lewe, van lippe wat lieg, van ‘n tong wat bedrieg. 3Wat moet Hy jou gee, en wat moet Hy vir jou byvoeg, bedrieglike tong? 4Die skerpgemaakte pyle van ‘n held saam met gloeiende kole van ‘n witbesembos! 5Wee my, want ek vertoef as ‘n vreemdeling in Meseg; ek woon by die tente van Kedar. 6Te lank woon ek by hulle wat vrede haat. 7Ek is vir vrede, maar wanneer ek praat, is hulle gereed vir oorlog.
Die nood (en konteks) van Psalm 120 lê waarskynlik in die xenofobiese kwaadpratery wat die Psalmis ervaar het in sy verblyf in die noord-weste in Mesek en in die suid-ooste in Kedar (Ps 120:5). Die burgers van hierdie lande was mense wat gelieg en bedrieg het in hulle verhouding met hom (Ps 120:2-4) en altyd gereed was vir oorlog (Ps 120:7), omdat hy ‘n vreemdeling was in hulle land. Vreemdelingehaat het sy verblyf daar dus amper onhoudbaar gemaak. Mesek word verbind met die landstreek Frigië in Klein-Asië (vgl Eseg 27:3) wat ons vandag as ‘n deel van Turkye ken. Kedar is min of meer waar Arabië vandag is. Terloops, ons lees in die NT hoe Jode van Frigië die wonder van die Pinksteruitstorting ervaar het (Hand 2:10) en deur Paulus bedien is (Hand 16:6; 18:23).
En al is die Psalmis ten gunste van vrede – letterlik staan daar: “Ek is vrede” (anî-sjâlôm) – reageer sy teenstanders op enigiets wat hy sê met oorlogvoering (waarskynlik ‘n “woorde-oorlog”, maar dit kan ook meer om die lyf gehad het). Maar, die Psalmis verkondig dat hy sy toevlug neem tot die Here – eintlik as verteenwoordiger van almal wat in soortgelyke situasies verkeer – en getuig dat die Here hom in sy nood geantwoord het. Let op die raak beskrywing van hoe God hulle bedrieglike taal troef: sy woorde is soos “Die skerpgemaakte pyle van ‘n held saam met gloeiende kole van ‘n witbesembos.” (Ps 120:4). Dit is so flymskerp soos ‘n skerpgemaakte pyl wat getemper is oor gloeiende kole.
Maar, die Psalmis bely ook dat hy nou al te lank woon by mense wat vrede haat. En ‘n mens kan jou amper indink in sy onuitgesproke gedagtes – op pad na die tempel toe – dat dáár in die geloofsgemeenskap hy weer vrede in die teenwoordigheid van die Here sal ervaar. En só stel ek my voor het al die pelgrims dié lied eintlik as hulle eie opgeneem terwyl hulle oor die berge en die dale van hulle verspreide verblyf in die vreemde na Jerusalem opgetrek het, en Psalm 120 met intense heimwee en hartlike verlange gesing het. Dié Psalm is dus ‘n lied vir almal wat die pyn van vreemdelingskap en vreemdelingehaat ervaar, waar julle jul ook al mag bevind. Soms voel ‘n mens mos ‘n vreemdeling selfs in ‘n bekende omgewing. Die Here belowe bevryding van bedrieglike tonge. Veel later sou Petrus aan die vreemdelinge in die Diaspora – die verstrooiing van gelowige Jode – skrywe in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet 1:1) – dele wat grens aan Frigië (Mesek) – en hulle met genade en vrede seën omdat hulle deur God uitverkies is en ‘n nuwe hoop het op ‘n erfenis: “wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word …” (1 Pet 1:2,4).
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-120-here-bevry-my-van-bedrieglike-tonge/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar