1 Konings 19:1-18 – God lei nooit aan uitbranding nie!

19 Junie

1 Konings 19:1-18 – God lei nooit aan uitbranding nie!

1Toe Agab vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het en hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het, 2stuur Isebel ‘n boodskapper na Elia om vir hom te sê: “Mag die gode my swaar straf as ek nie môre teen hierdie tyd jou lewe maak soos die lewe van een van hulle nie.” 3Hy het bang geword, gereedgemaak en uit vrees vir sy lewe padgegee. Toe hy in Berseba, wat aan Juda behoort, aankom, het hy sy dienaar daar agtergelaat. 4Hy self het egter die woestyn in gegaan, ‘n dagreis ver. Daar aangekom, het hy onder ‘n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot ‘n einde moet kom. Hy het gesê: “Dit is nou genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.” 5Hy het gaan lê en aan die slaap geraak onder die enkele witbesembos. Skielik was daar ‘n engel wat hom aanraak en vir hom sê: “Staan op, eet!” 6Toe hy rondkyk, is daar sowaar by sy kop ‘n roosterkoek op gloeiende kole gebak en ‘n fles met water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Maar die engel van die Here het ‘n tweede keer teruggekom, hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet! Want die reis gaan vir jou te veeleisend wees.” 8Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God. 9Daar het hy in ‘n grot ingegaan en daar oornag. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom. Hy het vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” 10Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die Here, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” 11Maar Hy sê: “Gaan uit en staan op die berg voor die Here. Kyk, die Here sal weldra verbygaan.” Daar was ‘n geweldige sterk wind wat die berge geskeur het, wat die rotse verbrysel het voor die Here; in die wind was die Here nie. Ná die wind was daar ‘n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie. 12Ná die aardbewing was daar vuur; in die vuur was die Here nie. Ná die vuur was daar ‘n sagte gesuis. 13Toe Elia dit hoor, het hy dadelik sy gesig met sy mantel bedek. Hy het uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan. Meteens was daar ‘n stem wat vir hom vra: “Wat maak jy hier, Elia?” 14Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die Here, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” 15Toe sê die Here vir hom: “Gaan terug op jou pad deur die woestyn, na Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael as koning salf oor Aram. 16Jehu, seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel, en Elisa, seun van Safat, uit Abel-Megola, moet jy salf as profeet in jou plek. 17Wie aan die swaard van Gasael ontkom – Jehu sal hom doodmaak, en wie aan die swaard van Jehu ontkom – Elisa sal hom doodmaak. 18Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie.”

Die verhaal van Elisa speel af in die tyd van koning Omri wie se koningskap die begin was van ’n dinastie of koningshuis, deurdat sy seun Agab hom opvolg as koning van Israel. Uit ’n politieke hoek was hy ’n gerekende koning, wat ook in buite-Bybelse bronne vermeld word. Hy het dit reggekry om binne 12 jaar die 10-stammeryk te verenig en ’n pragtige hoofstad vir hulle te vestig in Samaria, een van die weinige stede wat van nuuts af deur Israel gebou is. Die Assiriërs verwys bv. ’n 150 jaar na sy dood nog na Israel as die “land van Omri” en hy word op ’n Moabitiese stele (steen met inskripsies) vermeld. Maar hy loop geestelik dieselfde pad as Jerobeam en die vorige konings van die Noordryk wat die Here met hulle afgodsbeelde uittart. Daarom staan die Konings skrywers baie min spasie aan hom af. Hy word opgevolg deur sy seun Agab wat nie net so afvallig is soos sy voorgangers nie, maar nog verder gaan en Israel intensief aan die Baälgodsdiens blootstel, veral nadat hy met Isebel, die dogter van Etbaäl van Sidon trou. Dit wil selfs voorkom asof hy vir Giël van Bet-El aanmoedig om teen die wil van die Here Jerigo te herbou (Jos 6:26) met tragiese gevolge vir Giël se kinders.

Dit bring die groot profeet Elia op die toneel wat die Here se toornigheid oor Israel se afgodsdiens in geen onsekere taal verkondig. Daar is min oor Elia bekend. Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn. Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ’n engel uit die hemel beskrywe. Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in 5:17 sê dat Elia ’n mens nes ons was! Soos die eerste vers van hoofstuk 17 vertaal is, lyk dit asof hy ’n nederige afkoms het, ’n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan. ’n vertaling wat al meer verkies word deur geleerdes. Die frase kan egter ook vertaal word as: “Elia, ’n Tisbiet uit Tisbe uit Galilea”. Maar in sy naam al sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken “Jahwe is God”. Elia was sterk teen enige vorm van sinkretisme gekant was. Die sinkretisme was natuurlik van altyd af ’n versoeking vir die volk, reeds in die woestyn (goue kalwers), maar het deur die optrede van Omri en Agab tot ’n wesenlike gevaar ontwikkel dat hulle die ware Jahwe aanbidding heeltemal sou versaak. Op die platteland het mense Jahwe nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl aanbid. Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ’n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of Baäl. Die eerste teken aan Agab dat Jahwe God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom. Die tweede teken is die vuur uit die hemel wat die offer op die berg Karmel verteer. Die derde teken is die reën wat na die gebed van Elia die droogte breek. Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie.

Elia se moedeloosheid, moontlik as gevolg van uitbranding, kom na hierdie hoogtepunt, die grootste van sy bediening: die oorwinning oor Baäl voor die oë van die koning en sy mense. In só ’n situasie werk ’n mens se kop natuurlik nie meer logies nie, want die dreigement van Isebel, die krag agter die troon en die godsdiens, wat die gode aanroep, is eintlik hol na Elia se demonstrasie op die berg Karmel dat daar nie ander gode is nie! Hoe ironies dat ’n leë dreigement só ’n uitwerking op Elia kon hê. Elia sou egter nie veilig wees in Juda nie, aangesien koning Agab en koning Josafat van Juda ’n goeie verhouding gehad het (hulle veg bv saam in ‘n oorlog 1 Kon 22) en Elia vlug na Berseba, die mees suidelike deel van Israel (vgl die frase “van Dan tot Berseba” wat die verste Noord-Suid punte van die land aandui – 1 Sam 3:20). Hier was ook ’n heiligdom waarteen Amos in die tyd van Jerobeam II uitgevaar het (Amos 5:5). Dit is egter ook die plek waar die ooreenkoms tussen Abraham en Melgisedek gesluit is (Gen 21:27 vv), waar Elia self nou ’n ontmoeting met ’n engel het. Dit is ook die plek waar Hagar deur die Here se engel tegemoet gekom is (Gen 21). En dit is veral ook die plek waar Moses wonderwerke beleef het. Let op hoe Elia ’n doodsbegeerte het, net soos Moses dit lank tevore gehad het (Num 11:15). Die Here versterk hom egter deur die brood en water (vgl die manna en water in die woestyn met Moses) wat die engel vir hom voorberei, en stuur Elia na die berg Horeb (ten nouste verbind aan die berg Sinaï, wat moontlik die naam is van ’n bergpiek in die Horeb gebergtes), die plek waar Moses by die brandende braambos sy opdrag kry (Gen 3), hy later water uit ’n rots in die woestyn laat loop (Gen 17), en uiteindelik op die Sinaïberg die wet van die Here ontvang (Eks 19-24). Die tydperk van sy reis, 40 dae en nagte, kom ook ooreen met Moses se tyd op die berg. Na ’n nag se uitrus, ontmoet Elia vir God self. Anders as met Moses bied die Here aan om voor Elia verby te gaan (vgl Moses in Eks 33). Hy is egter nie in die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie. Hy is in die fluistering in die windstilte. Let op hoe die Here twee keer vir Elia vra: “Wat maak jy hier?” Die eerste keer antwoord die Here Hom met die fluistering in die windstilte, die tweede keer met ’n aantal nuwe opdragte: “Draai in jou spore om …” Uit dié opdragte sou ’n hele aantal konsekwensies vir Israel kom. Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die ongehoorsaamheid van die volk teenoor God laat kom, waartydens Isebel ook sterf, en Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit. Om die waarheid te sê, Elisa sou eintlik vir Gasael salf en iemand uit sy groep sou Jehu salf tot koning. Let ook op dat die Here self sorg dat daar 7 000 gelowiges oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie. Dit is eintlik vir my die mees gerusstellende boodskap in die gedeelte. God sluimer of slaap nooit nie, en Hy lei nooit aan uitbranding nie!

Lees meer: https://bybelskool.com/1-konings-19-god-lei-nooit-aan-uitbranding-nie/

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: