Eksodus 15:22-27 – Ek is Jahwe Rapha, die Here wat jou gesond maak

13 Januarie
Eksodus 15:22-27 – Ek is Jahwe Rapha, die Here wat jou gesond maak
22Moses het die Israeliete laat wegtrek van die Rietsee, en hulle het uitgegaan na die Surwoestyn. Hulle het drie dae lank in die woestyn getrek en nie water gekry nie. 23Toe hulle by Mara aankom, kon hulle die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom word die plek Mara genoem. 24Die volk het teenoor Moses gemor en gesê: “Wat moet ons drink?” 25Hy het na die Here om hulp geroep; en die Here het hom ‘n stuk hout gewys. Moses het dit in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het die Here vir hulle ‘n vaste voorskrif en ‘n bepaling neergelê; daar het Hy hulle getoets.26Hy het gesê: “As jy noukeurig luister na die stem van die Here jou God, doen wat reg is in sy oë, aandag gee aan sy gebooie en al sy vaste voorskrifte nakom, dan sal Ek nie een van die siektes wat Ek op die Egiptenare gelaai het, oor jou bring nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak.” 27Hierna het hulle by Elim aangekom, waar daar twaalf fonteine en sewentig dadelpalms was. Hulle het daar langs die water kamp opgeslaan.
In elke Naam van God regdeur die Skrif is daar ‘n belofte of beloftes opgesluit. Hier met die Uittog uit Egipte word God as Jahwe Rapha aan die eerste geslag bekendgestel: “die Here wat jou gesond maak.” Moses sal hierdie beskrywing van God as Jahwe Rapha herhaal in sy laaste preek voor die tweede geslag uiteindelik die Beloofde Land inneem: “39Sien tog nou in dat Ek, ja, Ek die Een is; daar is geen god naas My nie. Ek maak dood en Ek maak lewend; Ek verpletter, ja, Ek maak gesond, en niemand red uit my hand nie.” (Deut 32:29)
Hierdie belydenis oor God word gekoppel aan die bitter water van Mara (Mara beteken “bitter” in Hebreeus) wat die Here soet gemaak het. Die stuk hout kon as ‘n soort filtreerder gefunksioneer het, of die smaak van die water verander het, maar die belangrike is dat dit die Here is wat vir die aanwys van die hout sowel as vir die verandering van die water verantwoordelik was. Mara word hiermee ‘n getuienis van die genesing wat God bring vir dié wat na Hom luister, doen wat reg is in sy oë, en aandag gee om sy voorskrifte nougeset uit te voer.
Die genesing geld vir die drinkwater – die water van Mara wat soet geword het (vgl Elisa wat dieselfde doen in 2 Kon 2:21) – sowel as vir die siektes van Egipte – die tien plae. Dit geld ook vir fisiese sowel as geestelike siektes of kwellinge soos dit in die res van die OT vertel word. Dit geld onder andere vir kinderloosheid (Abraham wat vir Abimelek bid – Gen 20:17), dodelike siektes (Hiskia – 2 Kon 20:5) en geestelike “siektes” (Jes 30:26; Jer 30:17; 33:6; Hos 6:1). In Jesus het Jahwe Rapha ook jou God, die Here wat genees, geword. Soms sal die Here indirek werk – ‘n natuurlike proses soos ‘n stuk hout gebruik – en ander kere direk genees – soos met Hiskia en talle ander genesings in die Bybel.
Lees meer: https://bybelskool.com/eksodus-15-die-here-is-die-bewerker-van-wonderdade-wat-sy-volk-beskerm-en-sy-vyande-verpletter/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Pieter Olwagen
More Ds Chris
Dis nogal opvallend hoe hout deur God gebruik word om die mens te “help”
Die staf wat in ‘n slang verander het om Farao te bewerk, Die water wat verander het by Mara, die geleende bylkop wat gedryf het toe hout ingegooi is, en die grootste van als, vergewing van sonde deur die Hout kruis, maar in elke geval moes en moet die mens Glo en Vertrou.
Groete
Chris van Wyk
Een van die interessante lyne regdeur die Skrif. Dankie.