Openbaring 7:1-17 – Jesus as Herder lei ons na fonteine met die lewende water
Openbaring 7:1-17 – Jesus as Herder lei ons na fonteine met die lewende water
1Hierna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde in bedwang gehou, sodat daar nie wind op die land of op die see of teen enige boom sou waai nie. 2Ek het ook ‘n ander engel van die oostekant af sien aankom, wat ‘n seël van die lewende God vashou. Hy het met ‘n kragtige stem geroep na die vier engele wat aangesê is om die land en die see te beskadig, en gesê: 3“Moenie die land of die see of die bome beskadig, voordat ons die diensknegte van ons God met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie.” 4Ek het toe gehoor wat die getal is van hulle wat met die seël gemerk is: honderd vier-en-veertigduisend – uit elke stam van die kinders van Israel: 5Uit die stam Juda, twaalfduisend wat die seël dra; uit die stam Ruben, twaalfduisend; uit die stam Gad, twaalfduisend; 6uit die stam Aser, twaalfduisend; uit die stam Naftali, twaalfduisend; uit die stam Manasse, twaalfduisend; 7uit die stam Simeon, twaalfduisend; uit die stam Levi, twaalfduisend; uit die stam Issaskar, twaalfduisend; 8uit die stam Sebulon, twaalfduisend; uit die stam Josef, twaalfduisend; uit die stam Benjamin, twaalfduisend wat die seël dra. 9Hierna het ek gesien, en kyk, daar was ‘n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan, en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande. 10Hulle het met ‘n harde stem uitgeroep: “Die verlossing behoort aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam!” 11Al die engele het rondom die troon, en ook rondom die ouderlinge en die vier lewende wesens, gestaan. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon, en God aanbid 12en gesê: “Amen! Die lof, die heerlikheid en die wysheid, die dank en die eer, die krag en die sterkte kom ons God toe vir ewig en ewig. Amen!” 13In antwoord daarop het een van die ouderlinge vir my gevra: “Hierdie mense wat die lang wit stolas dra, wie is hulle, en waar kom hulle vandaan?” 14Ek het hom geantwoord: “Meneer, u is die een wat weet.” En hy het vir my gesê: “Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed van die Lam. 15Daarom is hulle voor die troon van God, waar hulle Hom dag en nag in sy tempel dien. En Hy wat op die troon sit, sal sy tent by hulle opslaan. 16Hulle sal nie meer honger of dors word nie; nie die son nie, ook geen hittegloed sal hulle brand nie. 17Want die Lam wat in die middel voor die troon staan, sal hulle soos ‘n herder versorg en hulle na fonteine met lewende water lei, en God sal elke traan uit hulle oë vee.”
Openbaring 6-7 is vir baie mense ‘n ontnugtering wanneer hulle agterkom dat die wonderlike werklikheid van Openbaring 4-5 – die hemelse erediens en die Lam van God wat waardig is om die agenda van God uit te voer met die lofliedere wat God prys en aanbid – in ‘n wrede werklikheid van oorloë, konflik, hongersnood, vervolging en ellende oorgaan. Die sewe seëls wat in hoofstuk 6 begin, breek verskillende aspekte van God se oordeel oop vir hierdie wêreld. Die oordele sluit in die breë oorloë, tweedrag en twis, hongersnood, aardbewings, vervolging en kosmiese ontwrigting in. Gelukkig is daar tussen die sesde en sewende seël ‘n beskrywing van God se beskerming van gelowiges op aarde en die versorging van gelowiges in die hemel met Jesus wat as die Herder optree soos in Psalm 23. Dit sê vir ons dat God se oordeel ‘n “verlossende oordeel” is.
Die fokus skuif dus na twee groepe mense: 1) 144 000 van die diensknegte van God op aarde wat met ’n merk op hulle voorkoppe geseël word – vers 1-8. Die 144 000 is waarskynlik ’n simboliese getal vir die hele volk van God, die ware Israel, wat steeds op aarde as God se volk, sy koninkryk van priesters optree. 2) ’n Ontelbare groot skare uit elke nasie, stam, volk en taal uit die groot verdrukking wat God aanbid in die hemel en deur die Lam as Herder versorg word – vers 9-17. Hierdie groot verdrukking kan verwys na die laaste tydperk van intense vervolging, of na die totale tydperk van vervolging tussen Jesus se eerste en tweede koms (vgl Matt 24:21). Die doel van hierdie toneel tussen die oordele van die sesde en sewende seëls is om gelowiges te bemoedig dat die oordeelsvoltrekking nie op hulle gemik is nie; dat hulle op aarde as God se eiendom gemerk is; en dat hulle uiteindelike verlossing in die hemel vas en seker is. Uiteraard ly hulle ook onder die oordele, maar dit kan nooit hulle ewige verkiesing om in God se teenwoordigheid te floreer, bedreig nie.
’n Heerlike intieme geloofsgemeenskap word geteken met die gelowiges wat dag en nag vir God in sy hemelse tempel dien en God wat “sy tent by hulle opslaan.” Die wit stolas is die geskenk van God aan die mense wat met Hom versoen is deur die bloed van die Lam (‘n vervulling van Jes 1:16-18 se opdrag: “Was julle! Reinig julle!” met die belofte: “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word.”) Hulle het dus die voorreg om in God se teenwoordigheid die vervulling van ‘n sewetal beloftes te geniet: 1) God se teenwoordigheid (tent); 2) geen honger nie; 3) geen dors nie; 4) geen son of hittegloed wat hulle brand nie; 5) versorging deur die Lam as Herder; 6) lewende water uit sy fontein (Ps 23); 7) geen trane meer nie.
Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar