Johannes 13:31-38 – Liefde vir mekaar wys vir almal dat ons Jesus se dissipels is
Johannes 13:31-38 – Liefde vir mekaar wys vir almal dat ons Jesus se dissipels is
31Nadat Judas uitgegaan het, het Jesus gesê: “Nou is die Seun van die Mens verheerlik, en God is deur Hom verheerlik. 32As God deur Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik, en Hy sal Hom dadelik verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net ‘n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek ook nou vir julle: Waarheen Ek gaan, kan julle nie gaan nie. 34Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. 35Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.” 36Simon Petrus vra Hom toe: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy volg.” 37Maar Petrus sê vir Hom: “Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.” 38Toe antwoord Jesus: “Sal jy jou lewe vir My aflê? Amen, amen, Ek sê vir jou: Die haan sal beslis nie kraai voordat jy My drie keer verloën het nie.”
Jesus fokus van Johannes 13 tot 17 op sy dissipels. Hoofstuk 13 begin met die verhaal van sy voetewas – vers 1-20 – fokus daarna op die verraad van Judas – vers 21-30 – vervolg met die belofte dat in hulle liefde vir mekaar die wêreld sal weet dat hulle Jesus se dissipels is – vers 31-35 – en sluit af met die waarskuwing aan Petrus dat Hy Jesus sal verloën – vers 36-38.
Op ‘n eerste vlak is die verskillende dele van die verhaal besonder helder en eintlik eenvoudig. Jesus, die een wat in beheer is, die een wat in hulle kring nommer een is, gee Homself prys en neem die gestalte aan van ‘n dienskneg en was hulle voete. As Hy, wat hulle Here en Leermeester is, dan hulle voete gewas het, behoort hulle ook mekaar se voete te was. In hulle liefde vir mekaar sal die wêreld weet dat hulle sy dissipels is. Maar dit is nie al nie. Op ‘n tweede vlak is dié verhaal ontstellend en ontblotend. Twee persone word uitgelig in die verloop van die verhaal. Judas en Petrus. Die een sou Jesus verraai. Die ander sou Hom verloën. Tog deins Jesus nie terug daarvan om Homself te verneder en hulle voete te was nie, Judas s’n en ook Petrus s’n. Ek sê dat dit ontstellend en ontblotend is, want ons kry dit miskien nog reg om diens te lewer vanuit ons vermoëns en ons gawes. Dit kan selfs vir ons op een of ander manier bevredigend wees. Maar dit raak regtig moeilik as ons mense wat ons verraai – wat ons ondergang bewerk – en mense wat ons verloën – wat ontken dat hulle ons ken – as ons dié mense se voete moet was. En tog, dít is wat Jesus doen… en ook van ons vra. Ons moet die pad stap saam met die verraderlike Judasse en die verloënende Petrusse. Ons moet hulle voete was in die volle wete dat die resultaat moontlik nie sal wees soos ons graag wil hê dat dit moet wees nie.
Hoe sal ons dit regkry? Wel, ons het net een antwoord, en dit is te vinde in die rede hoekom Jesus dit doen. Hoekom was Jesus Judas en Petrus se voete? Want, sê Johannes, Jesus het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad. Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad. Die geheim lê dus in die liefde. Want, die voete was is uiteindelik ‘n simbool van die kruis, die finale en deurslaggewende liefdesdaad van Jesus. Die liefde van die kruis bring daarom uiteindelik vir Petrus die lewe, toe hy Jesus toelaat om later, daar by die See van Galilea (Joh 21), hom lief te hê en te herstel as leier van die dissipelkring. Drie maal vra Jesus vir Petrus, het jy my lief? En drie maal antwoord Petrus, U weet dat ek U liefhet. Vir Judas bring die liefde van die voete was en die kruis egter die dood, toe hy wegvlug van Jesus en weier om tot inkeer te kom. Jesus se liefde word in Judas se geval verwerp wat tot sy ewige verwerping lei. Jesus se liefde word in Petrus se geval aanvaar wat tot sy ewige aanvaardig lei. Wat Jesus dus van hulle en ons verwag, is om soos Hy lief te hê. Dit is die nuwe gebod wat Hy vir ons gee. Nie net liefhê soos onsself nie (Lev 19:18; Luk 10:27), maar liefhê soos Jesus liefgehad het (Joh 15:12). In die lig van sy optrede en houding teenoor Judas sluit dit ook liefde vir hulle vyande in. Hierdie onderlinge liefde sal dus dié onderskeidingsteken wees dat hulle Jesus se dissipels is. Beide belofte as opdrag. Liefde, soos Jesus dit definieer, is ‘n praktiese liefde wat selfs in verraad volgehou word en wat Jesus se offervaardigheid as die norm gebruik. Dit sluit in om ander se voete te was, en hulle te waarsku oor ‘n verkeerde pad. Dit is die nuwe standaard en onderskeidingteken van Jesus se dissipels. Om lief te hê soos Jesus lief gehad het.
Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-1331-1431-julle-moet-mekaar-liefhe-soos-ek-julle-lief-gehad-het/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar