Openbaring 3:1-6 – Jy sal saam met Jesus wit klere dra; Hy sal oor jou getuig voor sy Vader
Openbaring 3:1-6 – Jy sal saam met Jesus wit klere dra; Hy sal oor jou getuig voor sy Vader
1“Skryf ook aan die boodskapper van die gemeente in Sardis: “Dit sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het, “ ‘Ek ken jou dade – jy staan daarvoor bekend dat jy lewe, maar jy is dood. 2Wees wakker, en versterk diegene wat nog oor is, wat op die punt is om dood te gaan. Ek het gevind dat jou dade in die oë van my God nie voldoende is nie. 3Onthou dan hoe jy die boodskap ontvang, en daarna geluister het. Bewaar dit, en bekeer jou! As jy egter nie wakker skrik nie, sal Ek soos ‘n dief opdaag, en jy sal nie weet op watter tydstip Ek by jou aankom nie. 4Maar daar is ‘n paar mense by jou in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie. Hulle sal saam met My leef, in wit klere, omdat hulle dit werd is. 5“ ‘Wie oorwin, sal net so wit klere kry om aan te trek, en Ek sal sy naam nie uit die boekrol van die lewe skrap nie, maar voor my Vader en sy engele oor hom getuig. 6Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”
Die boodskap aan Sardis is om te: “Versterk die wat oor is.” Jesus meet hierdie gemeente nie aan hulle eerste liefde, getrouheid, leringe of sedelikheid nie. Jesus meet hulle aan die lewe wat daar by hulle is. En dit was ‘n tragiese storie. Hulle het die naam gehad dat hulle lewe, maar hulle was eintlik geestelike lyke. Buite blink. Binne stink. Die lidmate van die gemeente van Sardis was dus nog op die boeke. Maar, dit was al. Daar het niks aangegaan nie. Tog, sê Jesus, as jy mooi kyk, is daar ‘n paar mense wat nog tekens van lewe toon. As jy mooi kyk, haal hulle nog asem. Maar hulle sal baie vinnig gered moet word, ander is dit klaarpraat met hulle en is die gemeente verlore. Al raad is om vyf dinge te begin doen, soos dit in vers 2-3 uitgespel word. Die leraar word aangespreek dat hy die volgende vyf dinge moet doen:
- Wees wakker! Hy/hulle moet wakker skrik uit die doodslaap van selfgenoegsaamheid waarin hulle verval het.
- Versterk die oorlewendes. Hy/hulle moet dié versterk wat nog oorgebly het, sodat die herlewing van hulle af kan versprei. Middelmatigheid is uit.
- Verbind hulle aan die Bybel. Hy/hulle moet die boodskap – waarskynlik beide die roepingsboodskap van die boodskapper as die evangelie boodskap soos die apostels dit aan hulle oorgelewer het – in herinnering roep, dit weer omarm en daarvolgens begin lewe.
- Bewaar die boodskap. Hy/hulle moet die boodskap bewaar, dws dit gehoorsaam en daarin volhard.
- Bekeer jou. Hulle moet tot bekering kom, dws hulle lewens en denke vernuwe om volgens dié evangelie te leef.
Só kan die Gees aan die werk kom in die gemeente. Anders is dit verby met die boodskapper en die gemeente. Jesus sal kom op ‘n tyd wat hulle dit nie verwag nie – soos ‘n dief in die nag – in oordeel oor hulle onbekeerlikheid. Die oordeel word nie uitgespel nie, wat dit onheilspellend maak, juis omdat Jesus nie presies sê wat Hy met hulle gaan doen nie. Tog is daar steeds klein tekens van lewe in die gemeente; mense (in die Grieks staan “name”) wat hulle klere nie met afgodsdiens en heidense gebruike besoedel het nie. Hulle sal wit klere – simbool van reinheid en oorwinning – uit die hand van die Here self ontvang. Hulle gehoorsaamheid sal beloon word deurdat hulle saam met Jesus sal wandel, waar almal dit sal sien, en almal sal moet erken, hulle was ware volgelinge van die Here Jesus. Die versekering is ook daar dat hulle name nooit uit die boekrol van die lewe geskrap sal word nie. Hulle sal dus nie net ‘n hoë status op aarde hê nie. Hulle sal ‘n hoë status hê in die hemel. Trouens Jesus belowe dat Hy hulle self voor sy Vader en die engele in herinnering sal roep. Ek ken hierdie “naam”. Ek ken daardie “naam”. Wat ‘n voorreg! (vgl Matt 10:32; Luk 12:8). Bonus: Die kerkgeskiedenis vertel ons dat Sardis geluister het. ‘n Paar dekades later het biskop Mileto daar opgetree en groot werk gedoen om die kanon van die Bybel vas te stel en ook die parallelle tussen die OT en die NT uit te wys. Hy het ‘n groot invloed op die vroeë kerk gehad. Mileto het ook ‘n invloed op die Romeinse ryk probeer uitoefen met ‘n verdediging van die Christelike godsdiens aan Markus Aurelius, hoewel dit eers later in die 4de eeu in die lewe van Konstantyn vrug afgewerp het. Mileto word as ‘n eunug beskryf wat ongetroud gebly het en, in navolging van Jesus se reëling in Matteus 19, sy lewe aan die Here gewy het.
Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar