Skip to main content

Openbaring 4:1-11 – Alles draai om die Een wat was en wat is en wat kom

30 April

Ek fokus op Openbaring 4 vandag as noodsaaklike agtergrond vir die volgende RCL teks uit Openbaring 5 voor ons weer terugkeer na die beloftes aan die gemeentes.

Openbaring 4:1-11 – Alles draai om die Een wat was en wat is en wat kom

1Hierna het ek gesien, en kyk, ‘n deur wat in die hemel geopen is, en die stem wat ek voorheen so hard soos ‘n basuin met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur.” 2Onmiddellik het die Gees van my besit geneem, en kyk, daar was ‘n troon in die hemel, en Iemand wat op die troon sit. 3Die Een wat daarop sit, se voorkoms was soos jaspis en karneool, en rondom die troon was daar ‘n reënboog wat net soos smarag lyk. 4Rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het vier-en-twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere gedra, met goue krone op hulle koppe. 5Vanuit die troon het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. En voor die troon het sewe vuurfakkels gebrand – die sewe Geeste van God. 6Voor die troon lyk dit soos ‘n see van glas, net soos kristal. In die middel van die troon en rondom die troon staan daar vier lewende wesens, vol oë aan die voorkant en agterkant. 7Die eerste lewende wese lyk net soos ‘n leeu; die tweede lewende wese net soos ‘n kalf; die derde lewende wese het ‘n gesig net soos ‘n mens, en die vierde lewende wese lyk net soos ‘n arend wat vlieg. 8Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke, wat reg rondom en aan die binnekant vol oë is. Sonder om te rus, herhaal hulle dag en nag: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” 9En telkens wanneer die lewende wesens heerlikheid en eer en dank bring aan Hom wat op die troon sit, aan Hom wat vir ewig en ewig leef, 10val die vier-en-twintig ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en ewig leef, en sit dan hulle krone voor die troon neer, terwyl hulle sê: 11“U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep.”

Dit is steeds Jesus wat die leiding neem om Johannes in te lig, soos dit was met die boodskap aan die gemeentes in hoofstuk 1-3. Dit is egter die Drie-enige God aan die werk. Ons hoor die stem van Jesus en sien Hom in die hemel as die Leeu-Lam. Ons neem die Gees se werk waar wat van Johannes besit neem en verteenwoordig word in die sewe vuurfakkels rondom die troon. Ons sien saam met Johannes die Here God, die Almagtige, wat op die troon sit in onuitspreeklike heerlikheid. Die Troon van God is die middelpunt van alles in die hemel sowel as alles in die heelal. God is die geestelike middelpunt van alles wat bestaan, soos die son die middelpunt van ons sonnestelsel is. Alles wentel om Hom. Alles aanbid Hom. Alles word deur Hom bepaal.

Waar die eerste drie hoofstukke gehandel het oor God se teenwoordigheid op aarde in die midde van die gemeentes, handel die volgende agt hoofstukke tot in hoofstuk 11 oor God se teenwoordigheid in die hemel wat op alles wat bestaan ’n verlossende en veroordelende impak het. Daarom word Johannes opgeneem deur die geopende deur in die hemel om vanuit die hemelse perspektief te kan besef wat hierna moet gebeur. God se troon in die hemel word met min detail beskryf, behalwe die omringende reënboog wat soos smarag (groen) lyk en dat vanuit die troon weerligstrale, ’n gedreun en donderslae gekom het. Die troon bevestig God se heerlikheid en heerskappy oor alles vanuit die hemel, ten spyte van die pogings van die keisers en konings van die aarde om hulleself te laat geld in die prag en praal van hulle koninkryke. God se voorkoms word met edelgesteentes beskryf – jaspis ([of opaal] – dis gewoonlik dofgeel tot rooi, maar hier waarskynlik bedoel as ’n wit kristalhelder steen [vgl Openb 21:11 wat dit só beskryf]) en karneool ([of sardoniks] – dit is helderrooi) wat sy heerlikheid uitbeeld. Sommige verklaarders sien in die jaspis iets van God se heiligheid, in die karneool iets van sy oordeel en in smarag iets van sy genade.

Rondom die troon van God het sewe vuurfakkels gebrand, die sewe Geeste van God, die simbool van die Heilige Gees. In ‘n volgende sirkel na dié vuurfakkels was ’n kristalhelder see van glas. Twee groepe wat God in die hemel aanbid, word beskryf: die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge wat in ‘n volgende sirkel rondom die troon sit. Die vier lewende wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle het ses vlerke soos die serafs van Jesaja (Jes 6:2) en is vol oë aan die voor- en agterkant, soos met die gerubs van Esegiël se wiele vol oë (Eseg 1:18). Hulle stel God se alwetendheid (oë) en alomteenwoordigheid (vlerke) voor in die hele skepping (Du Rand, A-Z). In hulle aanbidding verteenwoordig hulle dan ook die hele skepping met die gesigte van die leeu, bul(kalf), mens en arend. Rondom God se troon is die 24 trone van die ouderlinge – waarskynlik ’n simboliese getal vir die 12 aartsvaders van die OT stamme en die 12 apostels van die NT. Hulle verteenwoordig die hele volk van God, in die ou bedeling/verbond, sowel as in die nuwe bedeling/verbond. Let op dat die vier lewende wesens God aanbid “sonder om te rus” en “dag en nag”, dws 24 uur elke dag. Hulle aanbid God vir sy grootheid en sy heerlikheid soos uitgedruk in sy alwetendheid en alomteenwoordigheid in die hele skepping. Daarin volg die ouderlinge hulle na, wat beteken dat aanbidding die hele skepping en die hele Gods volk se primêre en belangrikste roeping is. Dit moet alles kleur wat ons doen, dag en nag, vir altyd, eintlik sonder ophou. Openbaring 4 begrond dus alles wat hierna gebeur, elke detail daarvan, in God se teosentriese heerskappy wat alles omvat. Hy is nie net die Een wat was nie, maar ook die Een wat is, sowel as die Een wat kom, soos dit van Jesus vroeër gesê is. Daarin lê ons hoop en ons verwagting.

Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar