Openbaring 2:8-11 – Wees getrou tot die dood toe, en Jesus sal jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee
Soos ek reeds gesê het, ek het al vroeër die beloftes aan die gemeente van Efese in Openbaring 2:1-7 behandel. Ek gaan die beloftes aan die ander ses gemeentes in die volgende paar weke almal insluit, sodat ons die beloftes aan al sewe gemeentes kan behandel. Vandag is dit die twee beloftes aan die gemeente van Smirna.
Openbaring 2:8-11 – Wees getrou tot die dood toe, en Jesus sal jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee
8“Skryf ook aan die boodskapper van die gemeente in Smirna: “Dit sê die Eerste en die Laaste, wat dood was, maar lewend geword het, 9“ ‘Ek ken jou verdrukking en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die lastering deur diegene wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie regtig is nie, maar ‘n sinagoge van Satan. 10Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie. Kyk, die Duiwel gaan sommige van julle in die tronk laat gooi, sodat julle getoets kan word. Tien dae lank sal julle verdruk word. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee. 11“ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Wie oorwin, sal beslis nie deur die tweede dood skade ly nie.’ ”
Smirna – die moderne stad Izmir – was en is ‘n pragtige stad, ‘n hawestad aan die Hermusrivier aan die Egeïese See. Hulle was bekend vir hulle wetenskapsbeoefening, vir goeie wyn, pragtige geboue, groot welvaart en vir medisyne. Hierteenoor was die gemeente in Smirna was brandarm. Waarskynlik weens die teenstand wat hulle van die Jode en die owerhede ervaar het – soos op baie plekke in die Romeinse ryk – wat baie keer konfiskering van hulle bates en eiendom tot gevolg gehad het (Hebr 10:34).‘n Mens sou dus dink dat hierdie gemeente dit nie sou maak nie. Dat hulle invloed sou kwyn. Dat hulle deur die stad se invloedrykes geïgnoreer sou word. Tog nie. Smirna het staande gebly al was hulle in die spervuur. Hulle was ‘n klippie in die skoen van die Jode. Hulle was ‘n steen des aanstoots vir die owerhede. Maar, Smirna wou nie inval by die heersende heidense verering van die keiser nie, selfs nie by die ooreenkomste wat die Jode gesluit het met die owerhede ter wille van hulle relatiewe godsdiensvryheid nie. Die gemeente het volhard in hulle getrouheid aan die boodskap van die Here Jesus Christus, die werklike Here versus die keiser, en die vleesgeworde Christus versus die toekomsverwagting van die Jode. Selfs al het dit in hulle in konflik gebring met die Romeine. Selfs al het dit hulle in konflik gebring met die Jode.
Hoekom? Hoe kon hulle dit regkry? Want, hulle was verbind aan Jesus, die Eerste en die Laaste, die een wat dood was, maar wat lewend geword het. Laat ons egter vir geen oomblik die vervolging en verdrukking van die gemeente van Smirna onderskat nie. Hulle is op talle maniere verdruk. Hulle is wreed vervolg. Hulle is publiek verguis. Maar, hulle het volhard. Hulle het getrou gebly aan die geloof in die Here Jesus Christus. Veral die Joodse sinagoge het ‘n fel aanslag op die Christene geloods. Soos dit altyd gebeur, as jy nie met jou afwykende teologiese idees hond haaraf maak nie, wend jy jou tot die publiek en draai die publieke mening in jou guns teen jou teologiese opponente. Jesus noem daarom hierdie Jode in Smirna ‘n sinagoge van Satan, soos hy op ‘n keer die duiwel die vader van die Joodse leiers genoem het (Joh 8:44). Die Joodse teenstand teen hierdie arm Christene het hulle ware aard gewys – hulle vyandskap is deur die Satan self aangesteek teen die Christene. Hierdie arm gemeente was daarom een van die top gemeentes in die beoordeling van Jesus. Smirna kry net lof van die Here, soos dit ook met Filadelfia die geval was. Die voorganger en gemeente in Smirna word geprys deur Jesus en dit vir hulle “rykdom”. Want, Jesus meet rykdom nie in terme van geld nie. Smirna se rykdom lê in hulle getrouheid. Ten spyte van die vervolging. Ten spyte van die teenstand. Ten spyte van die armoede. Dit is waarom Jesus hulle as ryk tipeer. Want hulle het aan Jesus getrou gebly, die bron van hulle hoop en volharding. Jesus waarsku egter hierdie top gemeente van Hom dat daar nog ‘n groter vervolging is wat wag. Die grootste teenstand, sê Jesus, gaan kom van die verdrukking deur die duiwel self, God se groot teenstander. Die duiwel sal homself nie kan keer nie. Hy sal die blote bestaan van ‘n gemeente in Smirna wil uitwis. Hulle hoef egter nie te vrees nie, sê die Here Jesus, want al gaan sommige van hulle weens die duiwel se werk in die gevangenis gegooi word, sal dit vir ‘n beperkte tyd wees. Jesus sal dit temper. Wat hulle moet help om vas te staan, om verder getrou te bly, is die besef dat die doel van al die teenstand en die lyding van die verdrukking, is om hulle volharding te toets. As ‘n getuienis aan die res van die kerk. Dit sal tien dae lank duur, sê Jesus. Daarmee bedoel Hy waarskynlik nie ‘n letterlike tien dae nie, doodgewoon dat daar ‘n einde sal kom aan die toetsing, hoe lank dit nou ook al sou duur (vgl Dan 1:12,14; Gen 24:55; Num 11:19).
Hulle sal ná die uitmergelende tyd van verdrukking die oorwinnaarskrans (iets soos die lourierkrans wat met oorwinning geassosieer is) van die lewe ontvang. Anders as wat die geval was met die aardse pryse (wat nie maklik ná die dood aan iemand toegeken is nie, hoewel dit soms ná iemand se dood saam met hom begrawe is) sal Jesus hulle die oorwinnaarskrans van die lewe gee, selfs al sou hulle in die proses doodgaan. Die krans simboliseer hulle oorwinning oor die dood. Dit is die kroon van die ewige lewe. Jesus gee dus aan hulle ‘n dubbele belofte, die oorwinnaarskrans van die lewe, wat tot gevolg sal hê dat die tweede dood hulle geen skade sal berokken nie. Die tweede dood – die poel van vuur en swael (Openb 20:6,14; 21:8), wat direk herinner aan die vernietiging van Sodom en Gomorra (Gen 19:29) – sal oor hulle geen invloed kan hê nie. Jesus bemoedig die gemeente van Smirna dus dat al staar hulle die dood deur vervolging in die gesig, dit hulle nie sal beroof van die ewige lewe nie. En Hy gee Homself as ‘n voorbeeld van die vervulling van dié belofte, want Hy self was tot die dood toe getrou en het ná die dood in ‘n ewige lewe opgestaan. Dit is sy belofte aan hulle ook.
Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar