Skip to main content

Openbaring 3:14-22 – As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom eet

13 Mei

Openbaring 3:14-22 – As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom eet

14“Skryf aan die boodskapper van die gemeente in Laodisea: “Dit sê die Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping, 15“ ‘Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm! 16Maar omdat jy louwarm is – nóg warm, nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg. 17Omdat jy sê, “Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,” en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie, 18raai Ek jou aan om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is, sodat jy ryk kan wees; en wit klere, sodat jy jou kan aantrek, en die skaamte van jou naaktheid nie sigbaar word nie; en salf om aan jou oë te smeer, sodat jy kan sien. 19Diegene wat Ek liefhet, berispe en tug Ek: Wees dan ywerig en bekeer jou! 20Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en hy saam met My. 21“ ‘Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit. 22Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”

Die boodskap aan die gemeente van Laodisea is: “Bekeer julle,” die skerpste oordeel van Jesus aan die sewe gemeentes. Om die boodskap aan hulle te verstaan, is dit belangrik om hulle konteks te verstaan. Die mense van Laodisea was welvarend en voorspoedig, ‘n spilpunt vir die bankdienste in die streek. Die stad het ook in die vervaardiging van sagte, swart wol gespesialiseer waarvan luukse klere en matte gemaak is. Die stad was daarby ‘n leier in antieke medisyne. ‘n Mediese skool in die omgewing het ‘n oogsalf ontwikkel wat oral in die Grieks-Romeinse wêreld verkoop is. Hulle watervoorsiening was egter uiters swak. Die nabygeleë Hiërapolis was bekend vir sy natuurlike warmwaterbronne. ‘n Entjie ander kant was Kolosse wat ‘n standhoudende, koue, natuurlike rivier gehad het. Laodisea se naaste waterbronne was egter besoedel of ontoereikend. Om die probleem te bowe te kom, het Laodisea ‘n ondergrondse akwaduk gebou om water vir die stad te lewer. Maar op die roete van 8 km deur klip- en kleipype, het die water vuil en onaangenaam by die stad aangekom. Dit was nóg warm nóg koud. Die sentrale reservoir in die stad was gevolglik vuil en onwelriekend.

Dit is teen hierdie agtergrond wat ‘n mens die boodskap van Jesus aan hulle moet verstaan. Hy meet hulle aan hulle dade – die praktiese gevolge van hulle geloof in Hom – en bevind hulle louwarm, nóg warm nóg koud. Miskien het jy al die idee gehoor dat dit beter sou wees dat hulle koud was. Want, as hulle geestelik koud was, dan kon hulle nog tot bekering gelei word. Maar, dit is nie wat daar staan nie. Jesus sê, was julle maar koud of warm! Dan sou julle iets beteken het, soos die koue water van Kolosse of die warm water van Hiërapolis. Nou is hulle egter geestelik louwarm soos die water van Laodisea. Hulle is dus van geen nut vir die Here nie. Trouens, Hy gaan hulle uit sy mond uitspoeg. Soos louwarm water. Daarom raai Jesus hulle aan: Om eerder ryk in God te word – suiwer goud van Hom te koop; Om onberispelik te lewe – wit klere om hulle onsedelikheid te bedek; Om in geestelike insig toe te neem – salf vir hulle oë te koop. Dit was metafore wat spesifiek op die drie uitstaande kenmerke van die stad gemik was – die bankwese, die klerebedryf, en die mediese skool.

Die oplossing vir hulle was dus om God ywerig te begin gehoorsaam, aan sy stem gehoor te gee, die geestelike deur van hulle persoonlike en gemeentelike lewe vir Hom oop te maak en in gemeenskap met Hom te leef. Dan sal Hy inkom en met hulle gemeenskap hou. Natuurlik kon Laodisea aanstoot neem aan hierdie skerp boodskap. Jesus gebruik eintlik die dinge waarop hulle in hulle stad trots was, om hulle aan te spreek. En herinner hulle boonop aan die water wat hulle geweet het nie lekker gesmaak het nie. Jesus verduidelik egter vir hulle hoekom Hy so skerp is: “Elkeen wat Ek liefhet (phileō), bestraf en tugtig Ek!” Jesus sê daarmee dat Hy met hulle geassosieer is, dat Hy hulle Here is, en daarom doen Hy die moeite om hulle aan te spreek. Dit is wat God met sy kinders doen. Hierdie boodskap is daarom gerig aan die hele gemeente, maar die fokus is op enigiemand wat bereid is om te luister. Dit is net dié wat luister, wat oopmaak vir die stem van die Here Jesus, wat uiteindelik met Hom gemeenskap sal hê. Hy sal instap en saam met hulle eet. Jesus nooi ons hiermee uit tot ‘n aktiewe gemeenskap met Hom. Dit is hoe ons begin om aan ons doel te beantwoord. Soos warm of koue water. Enigiemand wat hierna luister, sal ervaar dat Jesus instap en sy intrek by hom of haar neem. Selfs al is dit ‘n boodskap wat deur ander in die gemeente geïgnoreer word. Vir diegene wat luister, wat hulleself voorberei om die Here Jesus te ontvang, wat Hom innooi, kom daar ‘n ekstra belofte – ‘n posisie van gesag in die koninkryk van God. Dié wat oorwin, sal Jesus saam met Hom op sy troon laat sit, net soos wat Hy ook oorwin het en saam met sy Vader op sy troon sit. En hulle sal deelneem aan sy heerskappy. Dit sal die oordeel oor die engele, soos Paulus aan die Korintiërs skrywe (1 Kor 6:3) en die oordeel oor die nasies, soos Johannes verder in Openbaring skrywe (Openb 20:4-6), insluit.

Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.