Skip to main content

Openbaring 14:1-13 – Die wat in die Here sterf, kan rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle

14 Mei

Openbaring 14:1-13 – Die wat in die Here sterf, kan rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle

1Toe het ek gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom is daar honderd vier-en-veertigduisend mense met sy Naam, en ook sy Vader se Naam, op hulle voorkoppe geskryf. 2En ek het ‘n geluid uit die hemel gehoor, soos die gedruis van baie waters en die gerammel van swaar donderweer. Die geluid wat ek gehoor het, het geklink soos dié van lierspelers wat hulle liere bespeel. 3Hulle het ‘n nuwe lied voor die troon en in die teenwoordigheid van die vier lewende wesens en die ouderlinge gesing. Niemand kon egter dié lied leer nie, behalwe die honderd vier-en-veertigduisend mense wat van die aarde losgekoop is. 4Hulle is die mense wat hulle nie met vroue besoedel het nie, omdat hulle kuis is. Hulle volg die Lam, waar Hy ook al gaan. Hulle is uit die mense losgekoop, as eerstelinge vir God en die Lam. 5En oor hulle lippe het geen enkele leuen gekom nie. Hulle is onberispelik. 6Toe het ek ‘n ander engel gesien wat hoog in die lug vlieg. Hy het ‘n ewige evangelie ontvang, om dit te gaan verkondig aan die aardbewoners, aan elke nasie en stam en taal en volk. 7Met ‘n harde stem het hy uitgeroep: “Julle moet ontsag hê vir God en heerlikheid bewys aan Hom, want die tyd van sy oordeel het aangebreek. Aanbid Hom wat die hemel, die aarde, die see en die fonteine geskep het.” 8Ná hom het ‘n ander engel, ‘n tweede een, gekom en uitgeroep: “Geval, geval het Babilon, die magtige, sy wat al die nasies van die wyn van die wellus van haar hoerery laat drink het.” 9Ná hom het ‘n ander engel, ‘n derde een, gekom en met ‘n harde stem uitgeroep: “As iemand die dier en sy beeld aanbid, en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, 10sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word.” 11En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie. 12Hiervoor het die heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo. 13Ek het toe ‘n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.”

Openbaring 14 skets aan die eenkant die wonderlike toekoms van die gelowiges wat aan God getrou bly, sowel as aan die ander kant die afgryslike toekoms van die ongelowiges wat nie met ontsag vir God gelewe het nie en eerder die dier en sy beeld aanbid het. Dit is nog ‘n prentjie van die wederkoms van die Here Jesus Christus. Die 144 000 mense op Sionsberg is weereens, soos in hoofstuk 7, ’n simbool van die hele volk van God. Hulle het soos “maagde” op onberispelike wyse aan die Here Jesus getrou gebly in die geloofstryd en hulle nie met die wêreld besoedel nie (vgl Deut 23:9-10; 1 Sam 21:5; ook 2 Kor 11:2 waar die metafoor omgekeer word en die kerk as ‘n jongmeisie, ‘n “maagd” voorgestel word). Hulle sing ’n nuwe lied as die eiendom van die Lam in die teenwoordigheid van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in die hemel. God se Naam en dié van die Lam is op hulle voorkoppe geskryf.

Waar die vorige tekening van die 144 000 na gelowiges verwys het wat nog midde-in die stryd op aarde is, word hulle hierdie keer as in die teenwoordigheid van die Here self en die ander hemelse wesens geteken. Daarmee dra dit die boodskap dat God in staat is om elkeen wat Hy gemerk het as sy eiendom, te bewaar vir die ewige heerlikheid. Die drie engele wat in hierdie perikoop die oordeel en verlossing wat God bring, aankondig regoor die wêreld, doen dit waarskynlik met die hoop op ’n moontlike inkeer van sommige, hoewel dit tog lyk asof die hoop beskaam. Die eerste engel verkondig die aanbidding van God as die Skepper. Die tweede engel verkondig die val van Babilon (Rome – vgl 1 Pet. 5:13 waar Rome direk só genoem word). Die derde engel verkondig die oordeel oor dié ongelowiges wat volhard in die aanbidding van die dier en sy beeld.

’n Grusame prentjie van foltering word aan die ongelowiges voorgehou, interessant genoeg, as waarskuwing vir die gelowiges om te bly volhard in die geloof en gehoorsaamheid. Elkeen wat die dier en sy beeld aanbid het en gemerk is met sy teken sal die wyn van God se toorn drink. Hy sal gepynig word met vuur en swael voor die heilige engele en voor die Lam. Dink jou in dié ewige straf in. Om bedags en snags geen rus te hê nie. Om altyd en ewig jouself te verwyt, het ek maar geluister. Die Gees roep daarenteen oor dié gelowiges ’n saligspreking uit van ewige rus. Hulle dade volg hulle. Dit is die heiliges wat volhard het in die gehoorsaamheid aan God se opdrag en die geloof in Jesus behou het.

Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…