Openbaring 2:18-29 – Jesus beloon ons dade en laat almal wat oorwin deel in sy heerskappy
Openbaring 2:18-29 – Jesus beloon ons dade en laat almal wat oorwin deel in sy heerskappy
18“Skryf ook aan die boodskapper van die gemeente in Tiatira: “Dit sê die Seun van God, wat oë het soos ‘n vlammende vuur, en voete soos gloeiende koper, 19“ ‘Ek ken jou dade en liefde en geloof en diens en volharding, en weet dat jou latere dade die eerstes oortref. 20Maar Ek hou dit teen jou dat jy die vrou Isebel net laat begaan – sy wat haarself ‘n profetes noem, en my diensknegte leer en verlei om te hoereer en om afgodsoffers te eet. 21Ek het haar tyd gegun om tot bekering te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar hoerery. 22Kyk, Ek werp haar op ‘n siekbed, en ook hulle wat met haar egbreuk gepleeg het, in groot verdrukking, as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23En haar kinders sal Ek met die dood tref. Laat al die gemeentes daarvan kennis neem dat dit Ek is wat niere en harte deurgrond. Ek sal elkeen van julle beloon volgens julle dade. 24Maar vir julle ander in Tiatira wat nie hierdie leer aanhang nie, en wat nie die diepere dinge van Satan, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê nie op julle ‘n ander las nie, 25behalwe net om vas te hou aan wat julle het, totdat Ek kom. 26“ ‘Aan wie oorwin, en enduit vashou aan wat Ek sê, “ ‘sal Ek mag gee oor die nasies. 27Hy sal hulle as ‘n herder lei met ‘n ysterstaf, en hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28Soos Ek dit van my Vader ontvang het, sal Ek aan hom ook die môrester gee. 29“ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”
Die boodskap aan Tiatira is om te: “Stry teen onsedelikheid.” Jesus meet hulle nie aan hulle eerste liefde nie. Hy meet hulle nie aan hulle getrouheid nie. Hy meet hulle nie aan hulle leringe nie. Jesus meet hulle aan hulle sedelikheid. Hy is immers die Seun van God, die Een wat nie net alles sien nie (oë soos ’n vlammende vuur), maar in sy wese standvastig en heerlik is (voete soos gloeiende koper). Jesus prys wel vir Tiatira vir vyf kenmerke van hulle gemeentelike lewe. Hulle dade, liefde, geloof, diens en volharding wat op die koop toe steeds in ’n groeiende fase is. Hulle latere werke oortref hulle eerste werke. Hulle was ‘n gemeente wat uitgeblink het in sosiale hulp en barmhartigheid. By hulle was jy altyd welkom, is jy ingesluit en voor omgegee. Maar in die weegskaal van die Here Jesus het Hy agtergekom dat hulle insluitende karakter beteken het dat hulle nie ‘n goeie oordeel aan die dag gelê het nie. Weens die impak van een persoon in die gemeente, Isebel, die een wat haarself ‘n profetes noem, maar dit nie is nie, het hulle onsedelikheid en afgodery toegelaat. Die gemeente het gereken dat hulle haar insluit om te kan wys dat hulle alles en almal kan akkommodeer, dat hulle verdraagsaam is, en niks daarvan sal oorkom nie. Daarmee het hulle seks buite die huwelik goedgepraat (porneuō), sowel as egbreuk (moicheuō), dinge wat tot egskeiding aanleiding kon gee. Maar, Jesus weet van beter. Hy weet dat ‘n klein bietjie suurdeeg die hele deeg deursuur. En die situasie in Tiatira was slegter as in Pergamum. Dit was nie meer ‘n klein minderheid wat die afgodery en onsedelikheid beoefen het nie. Dit was die meerderheid. Die gemeente is gedomineer deur die afvalliges en dwaalleraars.
Die probleem is dat onsedelikheid en afgodery die twee kernsake is wat ‘n kerk kan korrupteer, wat die ortodokse leer en lewe verander in ‘n “anything-goes”- leer en ‘n lewe waar enigiets en enigiemand toegelaat word om in die naam van diversiteit en verdraagsaamheid te glo en te leef soos hulle wil. Gewoonlik is dit dan ook dié mense wat eenheid bó alles stel. Niemand word uitgesluit nie. Geen dissipline nie. Geen poging om “in die liefde by die waarheid te bly nie” (Ef 4:15). Nee, ‘n Gods-water-oor-Gods-akker benadering. Maak vir almal ruimte in die kerk, al dink hulle nie soos ek nie. Jesus is daarom onwrikbaar daaroor dat dié leringe nie geduld kan word nie. Dit rand die gemeente in sy diepste wese aan. En Jesus vat nie net vir Isebel aan nie, maar die hele gemeente. Hy het dit teen hulle dat hulle as ‘n gemeente nie optree teen die vrou Isebel nie, die een wat ons herinner aan die Baäl-aanbiddende koningin van Israel, Agab se vrou, wat met Elia swaarde gekruis het (1 Kon 17 vv). Hierdie Isebel – dit was moontlik ‘n titel wat Jesus haar gegee het – was ‘n self aangestelde profetes, alreeds ‘n lasterlike oortreding. En sy het die gemeente verlei om kompromieë aan te gaan met hulle omgewing wat talle tot onsedelikheid en afgodery verlei het. So het sy die gemeentelede die sogenaamde “diepere dinge van Satan” aangeleer. Hierdie dieper dinge dui waarskynlik op die begin van die Gnostiese leerstellings wat daarop aankom dat dit nie saak maak hoe jy lewe nie. Dit maak net saak wat jy weet en wat jy glo. Jou geloof hoef dus nie in ’n lewenstyl beliggaam te word nie. Jy kan leef soos jy wil. Solank jy kan sê: “Ek glo.”
Interessant genoeg is Isebel ’n kans gegee om haar te bekeer. Sy het egter geweier. Dit het Jesus met groter intensiteit laat optree deur haar aan siekte te onderwerp. Daar staan letterlik dat Hy “haar op die bed neergegooi het”, ‘n metafoor vir die siekte wat sy as straf vir haar onsedelikheid sou ontvang. Dieselfde geld haar volgelinge. Hulle word aan verdrukking blootgestel, en van haar “kinders” – waarskynlik haar dissipels – is aan ‘n dodelike siekte onderwerp. “Ek sal hulle doodmaak met die dood!” staan dit letterlik daar. Jesus sal hulle uitwis. Wat ons moet agterkom, is dat Jesus nie met Hom laat speel nie. Hy tree op as daar onsedelikheid en afgodery in gemeentes voorkom. Diegene wat egter kies om aan God getrou te bly, wat in opstand kom teen die leringe van Isebel en nie daarmee saamgaan nie, spring dié oordeel vry. Hierdie gelowiges, sê Jesus, sal geen ekstra “las” opgelê word nie, soos die eerste “sinode” in Handelinge 15 dit ook besluit het. Jesus beklemtoon dus, soos die eerste “sinode”, net hierdie twee ononderhandelbare goed. Die morele kant van die wet – geen onsedelikheid nie– en die geestelike kant van die wet – geen afgodery nie. Dit is wat Noag se verbond geleer het. Dit is wat Moses se verbond geleer het. Dit is wat die nuwe verbond ook vir ons leer. Die gelowiges wat luister, wat enduit volhard in die ortodokse boodskap van die Woord, sê Jesus, sal uiteindelik seëvier. Hulle sal saam met Jesus oor die nasies reageer. God laat nie met Hom speel nie. Hy laat nie met Hom spot nie. Hy sal nie sy oordeel onbepaald uitstel nie. Sy belofte is dat Hy dié wat teen Hom in opstand is soos kleipotte sal stukkend slaan met ‘n ysterstaf (in ’n sinspeling op die Messiaanse belofte in Psalm 2). Daarby sal die gelowiges wat luister na hierdie waarskuwing van Jesus, ’n deel kry aan die komende Messiaanse heerskappy oor die nasies en ook Venus, die môrester, ontvang, die simbool van die nuwe dag wat in God se koninkryk met Jesus se Wederkoms sal aanbreek.
Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Marinda Hattingh
Goeiemôre, en báie dankie vir die boodskap….prontuit die waarheid.
Chris van Wyk
Dankie!
Marinda Hattingh
Mag ek hierdie asseblief op sosiale media deel?
Chris van Wyk
Welkom!