Miga 1:1-3:12 – Die Here beplan ‘n ramp teen die volk en hulle leiers
Ná die inleidende eerste vers wat die boodskap van Miga histories plaas in die tweede helfte van die 8ste eeu v.C., in die tyd van Jotam, Agas en Hiskia (ongeveer 752-686 v.C.) kan hierdie drie hoofstukke in agt perikope opgedeel word. Die titels van die perikope gee jou alreeds ‘n goeie aanduiding van die vloei en boodskap van dié gedeelte:
- 1:2-7 – Die Here is op pad om Samaria en Jerusalem se afgodsdiens te vernietig
- 1:8-16 – Miga rou en huil oor hulle afvalligheid ongeneeslik en die ballingskap onvermydelik is
- 2:1-5 – Die Here beplan die ramp van ballingskap weens hulle magsmisbruik t.o.v. besittings
- 2:6-11 – Die Here vernietig hulle blyplek omdat hulle vrouens en kinders hulle blyplek ontneem het
- 2:12-13 – Die Here belowe wel ‘n Koning wat hulle weer bymekaar sal maak
- 3:1-4 – Die Here ignoreer die leiers weens hulle geweldadigheid in die regspraak
- 3:5-8 – Die Here antwoord nie die profete wat net vrede praat nie
- 3:9-12 – Die Here gee geen hulp aan die leiers weens hulle verdraaide regspraak en gierigheid nie
Die Here is die subjek van die profesie regdeur, behalwe vir 1:8-16 wat as Miga se woorde weergegee word, hoewel dit uiteraard ook deel van God se woorde aan die volk is.
1:2-7 – Die Here is op pad om Samaria en Jerusalem se afgodsdiens te vernietig
Let op dat dié boodskap in die eerste plek aan “alle volke” gerig is. Dít waarvan die Here die volk van God in die res van die boek gaan aankla, is dinge wat immers regoor die wêreld voorkom. Miga waarsku daarom die hele wêreld van die Groot Getuie wat op pad is om teen hulle te getuig.
Soos Johannes op Patmos die hemele oop gesien het en God met ‘n hemelse liturgie sy finale verlossende oordeel aangekondig het en sy agenda aan die Here Jesus Christus oorhandig het om op aarde uit te voer (hfst. 4 vv), só doen Miga dit op soortgelyke wyse reeds in die 8ste eeu v.C. “Die Here kom uit sy woonplek uit, Hy kom af …” Alles kom in beroering en smelt soos was in vuur voor Hom.
Die rede is dat die twee sentrums van die twee ryke van die Godsvolk, Samaria en Jerusalem, in afgodediens verval het. En God se oordeel oor hulle moet as waarskuwing dien aan alle aardbewoners dat dié lot almal wat Hom nie dien nie, sal tref.
1:8-16 – Miga rou en huil oor hulle afvalligheid ongeneeslik en ballingskap onvermydelik is
Miga bars in trane daaroor uit en rou en huil, trek sy klere uit in roubeklag, en tjank soos ‘n jakkals of kla soos ‘n volstruis. Hy besef dat die Godsvolk se afvalligheid ongeneeslik is en dat die ballingskap onvermydelik is.
Miga gebruik dan woordspel wat moeilik is om in Afrikaans weer te gee, bv. Bet-Leafra klink in Hebreeus soos “huis van stof” en dit is presies wat hy aanraai dat die inwoners doen, om te rol in die stof. Al die plekname wat hier genoem word, is in die omgewing van Jerusalem. Hulle almal, sê Miga, is gedoem om in ballingskap weggevoer te word, selfs sy eie plek Moreset wat in die gebied Lakis, suidwes van Jerusalem, was. Let op hoe hy in vers 14 speel met die idee van ‘n trougeskenk wat aan ‘n bruid as afskeidsgeskenk gegee word! Dié geskenk is dus nie een van blydskap nie, maar van hartseer, omdat dit die afskeid van hulle geboorteplek simboliseer.
Daarom raai hy hulle aan om ‘n kaal kol op die kop te skeer, soos dié van ‘n aasvoël, as teken van rou oor die verlies van “dié oor wie jy bly is”, d.w.s. jou eie mense, jou bloedfamilie, jou dogter, wat van jou weggeskeur word.
2:1-5 – Die Here beplan die ramp van ballingskap weens hulle magsmisbruik t.o.v. besittings
Die Here begin in hierdie gedeelte die sondes van die volk uitspel. Die eerste wat aan die groot klok gehang word is hulle magsmisbruik spesifiek ten opsigte van besittings: veral grond en huise. Dit is ‘n oortreding van ‘n kombinasie van die 8ste, 9de en 10de gebod – moenie steel nie, moenie leuens vertel nie, en moenie begeer nie.
Daarom beplan die Here die ramp van ballingskap teen hulle sodat mense oor hulle spotliedjies sal skryf. Hulle vergryp aan ander se besittings het hulle suur bekom. Hulle magsmisbruik het hulle hulle eie besittings gekos: “dit is van ons afgevat.”
2:6-11 – Die Here vernietig hulle blyplek omdat hulle vrouens en kinders hulle blyplek ontneem het
Hierdie gedeelte is baie moeilik om te vertaal en/of interpreteer, maar die hoofsaak is dat die Here hulle blyplek vernietig omdat hulle vrouens en kinders hulle blyplekke ontneem het wanneer dié of hulle families in die nood was: “julle stroop die mooi klere af van dié wat houtgerus by julle verbystap … Julle jaag die vrouens van my volk uit hulle gerieflike huise uit, julle vat die blywende gerief wat Ek hulle gegee het, van hulle kinders af weg.”
Hulle moet dus nie probeer om vrede te profeteer nie: “Daar sal nie ellende oor ons kom nie.” God belowe goeie dinge vir dié wat opreg lewe, maar raak kwaad oor die vyandigheid en opstand van die volk wat hulle ten toon stel teenoor die weerloses van die samelewing. Daarom gee Hy hulle aan hulle eie verdraaide planne oor, omdat hulle die verdraaide boodskappe van profete, wat eintlik net rondloper bedrieërs is, bó gehoorsaamheid aan God se ware profeet verkies.
2:12-13 – Die Here belowe ‘n Koning wat hulle weer bymekaar sal maak
Midde in dié boodskap van oordeel, sien Miga wel ‘n toekoms wat wentel om die terugkeer van ‘n oorblyfsel aan die hand van ‘n Koning wat hulle weer sal bymekaar sal maak. Dit slaan op ‘n Messiaanse toekoms wat ná die ballingskap sal aanbreek. Let op die beskrywing van dié Koning as ‘n herder: “Een wat uitbreek, sal hulle lei, hulle sal uitbreek en deur die poort gaan, hulle sal daar uitgaan, hulle Koning sal voor hulle uitgaan, die Here sal voor hulle wees.”
Dit neem nie veel verbeelding om in hierdie beskrywing iets van die Here Jesus se beskrywing van Homself as die Goeie Herder in Johannes 10 te lees nie, dié Een wat voor hulle uitloop, en hulle wat Hom volg, omdat hulle sy stem ken. “Ek is die ingang (poort) vir die skape.”
3:1-4 – Die Here ignoreer die leiers weens hulle geweldadigheid in die regspraak
Ná die kort boodskap van ‘n toekomstige verlossing, gaan Miga voort om die oordeel van die Here, veral oor die leiers en regeerders van Israel, sowel as oor die profete en priesters, uit te spreek.
Dié oordeel beteken dat die Here hulle sal ignoreer en nié na hulle gebede sal luister nie. Hy sluit dus die hemel toe vir hulle hulpgeroep, “want hulle het baie verkeerd gehandel.”
Hy spreek die leiers spesifiek aan in die eerste gedeelte oor die onreg wat hulle in die regspraak toelaat. Die geweld wat dit die gemeenskap aandoen, kan nie onderskat word nie. Dit is asof hulle mense se velle van hulle afskeur, die vleis van hulle bene afstroop, die volk opeet asof hulle vleis vir die pot is. Daarom sal die Here hulle nie langer antwoord nie, want hulle luister nie na die mense wat in die nood van die regspraak vasgevang is nie.
3:5-8 – Die Here antwoord nie die profete wat net vrede praat nie
Dieselfde geld die profete wat nie omgee wat hulle sê vir die volk nie, solank hulle maar net betaal word, en vrede preek solank hulle darem net kos het om te eet. Die Here straf hulle waar dit seermaak. Hulle hele roeping draai om die luister na God om sy woordvoerders te wees, en om vir die volk by God in te tree as intersessors. “Daar is vir julle net nag, nie ‘n gesig nie, donkerte, nie ‘n voorspelling nie.” Dit sal wees asof die son vir hulle onder gegaan het, asof die dag pikdonker vir hulle geword het.
Daarteenoor staan darem steeds die krag van die Gees van die Here wat in Miga werksaam is, en die sin vir reg sowel as die moed om dit bekend te maak aan die volk.
3:9-12 – Die Here gee geen hulp aan die leiers weens hulle verdraaide regspraak en gierigheid nie
Die boodskap word herhaal en al die leiers, ingesluit die priesters, word hier verkwalik dat hulle die regspraak verdraai en dít vir gierigheidsonthalwe. Hulle ontsien selfs nie moord nie in hulle onblusbare begeerte na meer. Hulle aanvaar omkoopgeld, en gee onderrig en voorspellings teen betaling.
Die priesters moes immers van die tiendes en offergawes as inkomste gelewe het. Die profete het weer die gevaar geloop om nie meer ‘n onderskeid te kon handhaaf van die ander profete in die Ou Nabye Ooste wat veral deur tegniese wiggelary (divination) tot insigte of voorspellings gekom het. Bybelse profete moes hulle boodskap op meer direkte openbarings begrond sodat dit waarlik as God se woorde na mense kon kom. Om voorspellings teen betaling te doen, het die profetiese proses fundamenteel in blote wiggelary verander. Daarmee kon God Homself nie assossieer nie.
Daarom is die ballingskap die enigste manier om die situasie reg te stel.
Boodskap
Dit is ‘n baie ryk en genuanseerde boodskap. Dit spreek ‘n mens op verskillende vlakke aan. Hier is van die perspektiewe wat my aanspreek:
- Ons behoefte aan die Here durf nie ons verbintenis aan Hom oorskadu nie. Waar ‘n openbaring van God verlang word, moet sy openbaring gevolg word. Waar ‘n verhoring van gebed van God verlang word, moet sy antwoord gehoorsaam word.
- Wat met Israel en Juda in 722 en 586 v.C. gebeur het, is ‘n boodskap aan elke stam en taal en nasie. God is onsigbaar in beheer van die wel en wee van mense waar hulle hul ook al mag bevind. Die feit dat dié beheer onsigbaar is, maak dit nie onwerklik of negeerbaar nie. Dit bewys Miga en van die ander profete. Wat hulle gesê het en aan die volk aangekondig het, het gebeur. Hulle interpretasie van wat agter die skerms gebeur, was dus geldig. Of ‘n mens nou self insig het daarin of nie, die punt is dat God aktief is in die wêreld, en dat ons verbintenis aan Hom saak maak.
- Grondbesit is van altyd af ‘n sensitiewe kwessie. Wat Miga ons leer, is dat waar mense van hulle grond vervreem word – hetsy deur oorlog tussen nasies of deur onreg wat aan weerloses, vroue en kinders, gepleeg word of deur ‘n proses van grondonteiening van hulle weggeneem word (bv.onder apartheid, in Zimbabwe, in Palestina ens.) – dáár ontvlam God se gramskap: “Julle vat die blywende gerief wat Ek hulle gegee het, van hulle kinders af weg.” (2:9). Dit is nog meer duidelik in die BDV: “van hulle kinders ontneem julle vir altyd die waardigheid wat Ek gee.” Waar mense se waardigheid só in gedrang kom, dáár kan ‘n mens altyd staatmaak daarop dat die Here onsigbare prosesse aan die gang sal sit om dié sake reg te stel, al neem dit ook in ons beoordeling ‘n lang tyd. Hoekom? Want die grond is God s’n om te gee, en ons moet mense se reg eerbiedig om dít wat hulle op regverdige en billike wyse bekom het, te kan behou en geniet.
Wat het jou getref uit die gedeelte? Deel dit met ons op die webtuiste.
View all posts in this series
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.