Miga 6:1-7:20 – Die Here bring redding vir dié wat Hom vertrou

prayer-shawlMiga sluit sy boek af met twee hoofstukke waarin aan die een kant die regsaak wat die Here teen die volk aanhangig maak, aangekondig word sowel as die strawwe wat met hulle skuldigbevinding gepaard gaan. Dit lei tot groot ellende in mense se onderlinge verhoudinge met mekaar waaroor Miga ‘n roerende klaaglied aanhef: “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.

Aan die ander kant gryp Miga tog – juis ín die nood van die ramp wat hulle gaan tref – die genade van God vas en stel sy vertroue en verwagting daarop dat die Here weer sal vergewe en vernuwe. Hy herinner God aan sy Wese: “Wie is ‘n God soos U? … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde.” En verkondig hierdie Godsbeeld dan as hoop aan die volk: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak,” in sy getrouheid aan Jakob en sy liefde aan Abraham volgens sy eed aan die aartsvaders.

Die titels van die perikope gee dié boodskap weer:

  • 6:1-8 – Die Here sit sy regsaak voort weens hulle gebrek aan regdoen, troue liefde en toewyding
  • 6:9-16 – Die Here se skuldigbevinding tref die volk met swaar strawwe
  • 7:1-6 – Miga kla oor die ellende wat alle verhoudige versuur
  • 7:7-20 – Miga stel sy vertroue en verwagting op God se genade wat weer sal vergewe en vernuwe

6:1-8 – Die Here sit sy regsaak voort weens hulle gebrek aan regdoen, troue liefde en toewyding

Die eerste vyf verse is God se aanklag teen die volk waarin Hy verskillende dele van die aarde as getuies oproep teen die volk. “Die Here het ‘n saak teen die volk.” Die Here spreek die volk ernstig aan dat hulle sy verlossing uit Egipte onder die bekwame leiding van die twee broers en een suster, Moses, Aäron en Mirjam, sowel as sy beskerming in die woestyn van die planne van Balak en Bileam (as voorbeeld) nie na waarde geskat het. Die verwysing na Sittim en Gilgal herinner hulle waarskynlik aan die tyd van die Intog sowel as die begeleiding regdeur die tyd van die Rigters. Sittim is immers die plek waar Josua die land Kanaän binnegegaan het, en Gilgal is onder andere waar die volk die eerste keer na ‘n koning gevra het.

Vers 6-8 is ‘n liturgiese gesprek tussen die volk en God wat waarskynlik in dié vorm in die tempel gebruik is, maar hier as ‘n verswarende getuienis in die regsaak van God met die volk gebruik word. Waar hierdie liturgie in die tempel die volk kon leer wat die regte manier is om met God om te gaan, word dit hier waarskynlik as getuienis téén die volk gebruik. Hulle het die onderrig van die Here deur die jare in die wind geslaan, want wat anders het die Here van hulle gevra as dat hulle regdoen, troue liefde bewys en toegewyd aan die Here lewe. Dit het hulle egter konsekwent nie gedoen nie.

Die Here stel nie belang in offers nie, van watter aard ook al – radikaal (brandoffers), uitnemend (jaaroud kalwers), oorvloedig (duisende ramme, tienduisende offers van olie) of kosbaar (eersgeborene).

Die Here het bekend gemaak wat goed is en dit het alles met verhoudings te make: “Hy vra van jou dat reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.” Peterson vertaal: “It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor, be compassionate and loyal in your love, And don’t take yourself too seriously—take God seriously.

Inderdaad. Neem jou naaste en jou God ernstig, ‘n ander manier om die liefde vir die naaste en vir God te beskryf. Nog anders gestel: leef voluit in die verhoudings waarbinne God jou geplaas het. Wat kan nou daarmee kompeteer!

6:9-16 – Die Here se skuldigbevinding tref die volk met swaar strawwe

Die NAV se vertaling van vers 9 is in omgekeerde volgorde van die sinne in Hebreeus. Dit moet eerder lui, ook meer direk vertaal: “Die stem van die Here roep tot die stad: wysheid is om ontsag vir u Naam te hê …” Daarmee begin Miga die skuldigbevinding van die volk en spel die swaar strawwe uit wat hulle gaan tref.

Die Here lys dan die dinge wat sy eis van regdoen, troue liefde en toewyding aan Hom oortree: valsheid, bedrog, geweld, en leuens. Dié sondes verdien die straf wat in die verbond voorgeskryf word (Deut. 28-30) en word hier in terme van onversadigbaarheid (honger), verydeling (swangerskap wat op niks uitloop nie), en mislukking (geen oes, olie, of wyn as vrugte vir hulle arbeid nie) uitgespel.

Omdat die volk gekies het om die Here te versaak – soos koning Omri (wat deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom het) en sy seun Agab (onthou die gruwelike verhaal van Nabot se wingerd en Isebel se verraderlike raad) gedoen het deur Baäl te aanbid – gaan die Here hulle verwoes.

7:1-6 – Miga kla oor die ellende wat alle verhoudige versuur

Die strawwe van die Here lei tot groot ellende in mense se onderlinge verhoudinge met mekaar. Miga hef daaroor ‘n roerende klaaglied aan: “Ellende wag vir my, ek het geword soos ‘n land wat afgeoes is, soos die natrossies in die wingerd.” Die gemeenskap val in mekaar en draai teen mekaar. Daar is nie meer Godvresendes nie. Daar is nie meer opregtes nie. Mense stel strikke vir mekaar en maak mekaar dood. Onreg gedy in die staat en regswese: “Die beste onder hulle is soos ‘n gifplant.” Mensig!

Niemand kan mekaar meer vertrou nie: “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.

7:7-20 – Miga stel sy vertroue en verwagting op God se genade wat weer sal vergewe en vernuwe

Aan die ander kant gryp Miga tog – juis ín die nood van die ramp wat hulle gaan tref – die genade van God vas: “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” Miga doen dus presies wat van hom as profeet verwag word – hy lewer sy boodskap af as woordvoerder van die Here, maar hy tree ook in vir die volk se bekering en staan in die geloof op die sekerheid van God se antwoord. Woordvoerder en Intersessor tot die end.

Daarom kan hy hom verweer teen mense wat hulle verlekker oor die val van die Godsvolk. Die pad na die vernuwing lei deur die aanvaarding van die straf, maar ook die vasgryp aan die beloftes van vergifnis en vernuwing wat die Here gegee het.

Miga sien dus die toekoms raak en gryp dit in geloof vas dat die juk van Assirië weer afgegooi sal kan word en die volk kan terugkom van waar hulle hulle ook al mag bevind. Dit sal ‘n tyd van wonders soos in die vroeë bestaan van die volk wees, iets wat die nasies sal verstom.

Let op hoe Miga die Here in sy laaste intrede vir die volk herinner aan Wie God in sy Wese is: “Wie is ‘n God soos U? … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde.” Vanuit daardie profetiese gebed verkondig Miga hierdie Godsbeeld dan as hoopvolle getuienis en boodskap aan die volk: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak.” En hy verbind die Here se stellige antwoord aan sy getrouheid aan Jakob en sy liefde aan Abraham soos Hy onder eed aan die aartsvaders belowe het. Sonder daardie geskiedenis van God se verbond met die voorvaders het die Godsvolk die gevaar geloop om in die vergetelheid van die eeue te verdwyn.

Boodskap

Die deernis wat Miga het met die volk wat op soveel maniere inplof in hulle gemeenskapslewe val my op. Sy worsteling met die boodskap wat hy onverdund bring, sowel as sy beroep op wie God in sy Wese is, bemoedig my. Dit is die manier waarop ons ook in ons eie konteks moet optree. Ons durf nie iets anders sê as wat die Here ons van oortuig nie. Maar dit moet ook ons deernis laat ontvlam sodat ons met oorgawe kan intree juis vir dié mense aan wie ons God se boodskap moet bring.

God bly nie vir altyd kwaad nie. Hy betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon. Hy sal ons sonde tot niet maak. Dít bly die hoop, toe en vandag nog. Soos Peterson sê: “It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor, be compassionate and loyal in your love, And don’t take yourself too seriously—take God seriously.” Dié God is ons hoop.

Miga


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: