Skip to main content

Miga 6:1-7:20 – Die Here bring redding vir dié wat Hom vertrou

prayer-shawlMiga sluit sy boek af met twee hoofstukke waarin aan die een kant die regsaak wat die Here teen die volk aanhangig maak, aangekondig word sowel as die strawwe wat met hulle skuldigbevinding gepaard gaan. Dit lei tot groot ellende in mense se onderlinge verhoudinge met mekaar waaroor Miga ‘n roerende klaaglied aanhef: “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.

Aan die ander kant gryp Miga tog – juis ín die nood van die ramp wat hulle gaan tref – die genade van God vas en stel sy vertroue en verwagting daarop dat die Here weer sal vergewe en vernuwe. Hy herinner God aan sy Wese: “Wie is ‘n God soos U? … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde.” En verkondig hierdie Godsbeeld dan as hoop aan die volk: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak,” in sy getrouheid aan Jakob en sy liefde aan Abraham volgens sy eed aan die aartsvaders.

Die titels van die perikope gee dié boodskap weer:

  • 6:1-8 – Die Here sit sy regsaak voort weens hulle gebrek aan regdoen, troue liefde en toewyding
  • 6:9-16 – Die Here se skuldigbevinding tref die volk met swaar strawwe
  • 7:1-6 – Miga kla oor die ellende wat alle verhoudige versuur
  • 7:7-20 – Miga stel sy vertroue en verwagting op God se genade wat weer sal vergewe en vernuwe

6:1-8 – Die Here sit sy regsaak voort weens hulle gebrek aan regdoen, troue liefde en toewyding

Die eerste vyf verse is God se aanklag teen die volk waarin Hy verskillende dele van die aarde as getuies oproep teen die volk. “Die Here het ‘n saak teen die volk.” Die Here spreek die volk ernstig aan dat hulle sy verlossing uit Egipte onder die bekwame leiding van die twee broers en een suster, Moses, Aäron en Mirjam, sowel as sy beskerming in die woestyn van die planne van Balak en Bileam (as voorbeeld) nie na waarde geskat het. Die verwysing na Sittim en Gilgal herinner hulle waarskynlik aan die tyd van die Intog sowel as die begeleiding regdeur die tyd van die Rigters. Sittim is immers die plek waar Josua die land Kanaän binnegegaan het, en Gilgal is onder andere waar die volk die eerste keer na ‘n koning gevra het.

Vers 6-8 is ‘n liturgiese gesprek tussen die volk en God wat waarskynlik in dié vorm in die tempel gebruik is, maar hier as ‘n verswarende getuienis in die regsaak van God met die volk gebruik word. Waar hierdie liturgie in die tempel die volk kon leer wat die regte manier is om met God om te gaan, word dit hier waarskynlik as getuienis téén die volk gebruik. Hulle het die onderrig van die Here deur die jare in die wind geslaan, want wat anders het die Here van hulle gevra as dat hulle regdoen, troue liefde bewys en toegewyd aan die Here lewe. Dit het hulle egter konsekwent nie gedoen nie.

Die Here stel nie belang in offers nie, van watter aard ook al – radikaal (brandoffers), uitnemend (jaaroud kalwers), oorvloedig (duisende ramme, tienduisende offers van olie) of kosbaar (eersgeborene).

Die Here het bekend gemaak wat goed is en dit het alles met verhoudings te make: “Hy vra van jou dat reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.” Peterson vertaal: “It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor, be compassionate and loyal in your love, And don’t take yourself too seriously—take God seriously.

Inderdaad. Neem jou naaste en jou God ernstig, ‘n ander manier om die liefde vir die naaste en vir God te beskryf. Nog anders gestel: leef voluit in die verhoudings waarbinne God jou geplaas het. Wat kan nou daarmee kompeteer!

6:9-16 – Die Here se skuldigbevinding tref die volk met swaar strawwe

Die NAV se vertaling van vers 9 is in omgekeerde volgorde van die sinne in Hebreeus. Dit moet eerder lui, ook meer direk vertaal: “Die stem van die Here roep tot die stad: wysheid is om ontsag vir u Naam te hê …” Daarmee begin Miga die skuldigbevinding van die volk en spel die swaar strawwe uit wat hulle gaan tref.

Die Here lys dan die dinge wat sy eis van regdoen, troue liefde en toewyding aan Hom oortree: valsheid, bedrog, geweld, en leuens. Dié sondes verdien die straf wat in die verbond voorgeskryf word (Deut. 28-30) en word hier in terme van onversadigbaarheid (honger), verydeling (swangerskap wat op niks uitloop nie), en mislukking (geen oes, olie, of wyn as vrugte vir hulle arbeid nie) uitgespel.

Omdat die volk gekies het om die Here te versaak – soos koning Omri (wat deur ‘n staatsgreep aan bewind gekom het) en sy seun Agab (onthou die gruwelike verhaal van Nabot se wingerd en Isebel se verraderlike raad) gedoen het deur Baäl te aanbid – gaan die Here hulle verwoes.

7:1-6 – Miga kla oor die ellende wat alle verhoudige versuur

Die strawwe van die Here lei tot groot ellende in mense se onderlinge verhoudinge met mekaar. Miga hef daaroor ‘n roerende klaaglied aan: “Ellende wag vir my, ek het geword soos ‘n land wat afgeoes is, soos die natrossies in die wingerd.” Die gemeenskap val in mekaar en draai teen mekaar. Daar is nie meer Godvresendes nie. Daar is nie meer opregtes nie. Mense stel strikke vir mekaar en maak mekaar dood. Onreg gedy in die staat en regswese: “Die beste onder hulle is soos ‘n gifplant.” Mensig!

Niemand kan mekaar meer vertrou nie: “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.

7:7-20 – Miga stel sy vertroue en verwagting op God se genade wat weer sal vergewe en vernuwe

Aan die ander kant gryp Miga tog – juis ín die nood van die ramp wat hulle gaan tref – die genade van God vas: “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” Miga doen dus presies wat van hom as profeet verwag word – hy lewer sy boodskap af as woordvoerder van die Here, maar hy tree ook in vir die volk se bekering en staan in die geloof op die sekerheid van God se antwoord. Woordvoerder en Intersessor tot die end.

Daarom kan hy hom verweer teen mense wat hulle verlekker oor die val van die Godsvolk. Die pad na die vernuwing lei deur die aanvaarding van die straf, maar ook die vasgryp aan die beloftes van vergifnis en vernuwing wat die Here gegee het.

Miga sien dus die toekoms raak en gryp dit in geloof vas dat die juk van Assirië weer afgegooi sal kan word en die volk kan terugkom van waar hulle hulle ook al mag bevind. Dit sal ‘n tyd van wonders soos in die vroeë bestaan van die volk wees, iets wat die nasies sal verstom.

Let op hoe Miga die Here in sy laaste intrede vir die volk herinner aan Wie God in sy Wese is: “Wie is ‘n God soos U? … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde.” Vanuit daardie profetiese gebed verkondig Miga hierdie Godsbeeld dan as hoopvolle getuienis en boodskap aan die volk: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak.” En hy verbind die Here se stellige antwoord aan sy getrouheid aan Jakob en sy liefde aan Abraham soos Hy onder eed aan die aartsvaders belowe het. Sonder daardie geskiedenis van God se verbond met die voorvaders het die Godsvolk die gevaar geloop om in die vergetelheid van die eeue te verdwyn.

Boodskap

Die deernis wat Miga het met die volk wat op soveel maniere inplof in hulle gemeenskapslewe val my op. Sy worsteling met die boodskap wat hy onverdund bring, sowel as sy beroep op wie God in sy Wese is, bemoedig my. Dit is die manier waarop ons ook in ons eie konteks moet optree. Ons durf nie iets anders sê as wat die Here ons van oortuig nie. Maar dit moet ook ons deernis laat ontvlam sodat ons met oorgawe kan intree juis vir dié mense aan wie ons God se boodskap moet bring.

God bly nie vir altyd kwaad nie. Hy betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon. Hy sal ons sonde tot niet maak. Dít bly die hoop, toe en vandag nog. Soos Peterson sê: “It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor, be compassionate and loyal in your love, And don’t take yourself too seriously—take God seriously.” Dié God is ons hoop.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Miga


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.