Miga 4:1-5:14 – Die Here bring verlossing vir die hele wêreld onder sy heerskappy

prayer-shawlHierdie twee hoofstukke vorm die hart van die boek se boodskap as ‘n noodsaaklike kontrapunt met die oordeelsuitsprake van hoofstuk 1-3, al was daar darem reeds ‘n klein sprankie van hoop in 2:12-13 rondom die beloofde Messiaanse Koning wat as herder sal optree.

Die boodskap van hoop word as volg opgebou:

  • 4:1-8 – Aan die einde van die dae sal Jerusalem ‘n blywende ontmoetingsplek vir die nasies wees
  • 4:9-13 – Die Here sal die vermorseling van die ballingskap verander en sy volk die oorhand oor die nasies gee
  • 4:14-5:8 – Die Here sal ‘n sterk leier gee om hulle te red tot seën van die nasies
  • 5:9-14 – Die Here sal alle afvalligheid van Hom beëindig ook onder die nasies

4:1-8 – Aan die einde van die dae sal Jerusalem ‘n blywende ontmoetingsplek vir die nasies wees

Miga se visier skuif na ‘n verre toekoms, letterlik: “aan die einde van die dae”, waar die oordeel in verlossing sal verander, en die herstelde tempel stewig sal staan in Jerusalem as ‘n blywende ontmoetingsplek met die nasies.

Miga was ’n tydgenoot van Jesaja en dit is interessant dat vers 1-4 van Miga grootliks ooreenkom met ’n profesie van Jesaja in Jesaja 2:2-5. Miga brei op punte uit op wat Jesaja sê:

  • In vers 3 praat Miga van die volke as “sterk nasies wat ver weg woon”;
  • Miga voeg vers 4 – oor die sekuriteit wat God vir die boere in dié tyd sal gee – by dít wat Jesaja gesê het;
  • Miga kontrasteer die lewe in die Godstad met dié van ander nasies en gee Jesaja se woorde: “laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom,” weer as: “ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe.”

Die visie wat God dus vir sy volk het, is om ’n blywende ontmoetingsplek vir die nasies met God te wees – iets wat alreeds aan Abraham beloof is (Gen 12:1-3). Dit sal insluit dat sy wil hulle lewens sal struktureer en inspireer om in vrede met mekaar te lewe – swaarde word ploegskare en spiese snoeiskêre – en dit in blywende sekuriteit – elkeen onder sy eie wingerd en ongesteurd onder sy vyeboom.

Dit sal selfs vir die kreupeles en verstrooides verandering inhou. Die siekes sal sterk word en die Here se teenwoordigheid sal alles deursuur: “Ek die Here, sal op Sionsberg oor hulle heers, nou en vir altyd.” Die verlatenheid sal verander in die vervulling van die beloftes van vroeër en Jerusalem sal weer die hoofstad wees.

4:9-13 – Die Here sal die vermorseling van die ballingskap verander en sy volk die oorhand oor die nasies gee

Die pyn van die ballingskap kan egter nie meer vermy word nie. Daarom roep Miga die volk nie op tot bekering nie, maar troos hulle dat hulle die pyn van ballingskap in Babel sal moet aanvaar voordat hulle sal ervaar: “Daar sal jy gered word.” Die nasies is wel nie ingelig oor dié besluit van die Here nie, maar sal uiteindelik moet ervaar dat die Here die Godsvolk die oorhand oor die nasies sal gee.

4:14-5:8 – Die Here sal ‘n sterk leier gee om hulle te red tot seën van die nasies

In direkte kontras met die vasgevaldheid van hulle beleëring en ballingskap sal die Here iemand stuur wat tot hulle redding sal verskyn. Hy kom uit Bethlehem-Efrata en sal bekend wees as iemand wat aan die Here behoort. Trouens: “Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede.” (NAV). Daarmee verwys Miga waarskynlik na die begin van die Dawid geslagslyn, hoewel dit uit die NT toepassing hiervan op Jesus as die Messias ook op Jesus se pre-eksistensie kan dui.

Miga het natuurlik nie dié konnotasie gemaak nie, en het verwag dat dit in sy tyd al ‘n effek sal hê om die Assiriërs die loef af te steek (5:4), amper soos die soortgelyke profesie van Jesaja 7 op beide Hiskia as eietydse teken aan Agas kan dien as op Jesus, gesien vanuit die NT toepassing daarvan in Matteus 2.

Hy sal die volk lei deur die krag wat die Here hom gee, en in aansluiting by die verbintenis van 2:5: “ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe,” dit vir die volk moontlik maak om te doen: “deur die sterkte van die Naam van die Here sy God.”

Vers 6 is uiters belangrik in die verwoording van die doel van dié verlossing. Miga sê: “Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees, hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom, soos stortreëns op groen gras wat nie vir ‘n mens wag nie.” Dit beteken vir my dat hulle tot seën van die nasies sal wees, presies wat God met hulle van die begin af wou doen.

Dit sou ook ‘n metafoor van oordeel oor die nasies kan wees, waar die eerste metafoor van dou en reën die stille, onkeerbare en deeglike kant daarvan kan simboliseer en die tweede metafoor van die leeu die harde, geweldadige en oorrompelende kant daarvan kan simboliseer. Ek verkies die metafoor van seën in die lig van die positiewe boodskap van hfst. 4, maar die keuse is weereens joune.

Dit sluit dus, indien ‘n mens die dou en reën as metafore van seën interpreteer, ook in dat hulle nie meer in vrees vir die nasies sal lewe nie. Hulle is ook soos ‘n leeu tusen wild of tusen ‘n trop skape wat oor hulle beheer kan uitoefen.

5:9-14 – Die Here sal alle afvalligheid van Hom beëindig ook onder die nasies

Die Here gebruik hulle egter nie net tot ‘n seën nie en stel hulle nie net in staat om selfstandig en onafhanklik te bestaan tussen die nasies nie. Hy herstel hulle ook na binne. Hy neem hulle oorlogstuig weg, verwyder die noodsaak van vestingstede, omdat Hy hulle beskerming is. Hy verwoes en vernietig ook hulle toorgoed, waarsêery, afgodsbeelde, klippilare en gewyde pale sodat hulle na Hom alleen kan luister. Hy beëindig dus alle afvalligheid van Hom, selfs die moontlikheid om afvalligheid te word, ook onder die nasies.

Boodskap

God se droom vir sy mense is van altyd af dat Hy só ‘n werklikheid vir hulle sal wees dat hulle ‘n ontmoetingsplek sal wees vir die nasies met Hom. Die patroon is en was nog altyd: God seën ons om tot ‘n seën te wees.

  • Die hele skeppingsverhaal kan uit daardie hoek verstaan word. Die aarde word bewoon, bewerk en bewaar sodat dit tot ‘n seën kan wees vir almal wat daarop is (Gen. 2:15).
  • Die hele sondvloedverhaal kan uit daardie hoek verstaan word. Noag word ‘n belangrike oorgang tussen die verloregaande wêreld en die nuutgemaakte wêreld vir mens en dier met dieselfde opdrag as aan Adam en Eva om tot ‘n seën te wees: “God het vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde.” (Gen. 9:1).
  • Die hele roepingsverhaal van Abraham kan uit daardie hoek verstaan word.   “Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.” (Gen. 12:2).

En só kan ‘n mens aangaan regdeur die Skrif. Dit is ook uit daardie hoek wat ‘n mens die hele bediening van die Here Jesus Christus moet verstaan. Hy is die regeerder-leier wat na vore gekom het en sy volk lei deur die krag wat die Here Hom gegee het. Hy is die een wat vrede gebring het en besig is om dit te vestig in sy koninkryk.

Miga


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Mig 5:1 Sy oorsprong is uit die verre verlede….dit het my dadelik laat dink aan Joh 1: 1 – die Woord wat van die begin af daar was, die Woord was by God, en die woord was self God

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: