Lukas 9:28-36 – Jesus se glansende heerlikheid wys dat Hy die Bose sal oorwin
Lukas 9:28-36 – Jesus se glansende heerlikheid wys dat Hy die Bose sal oorwin
28Ongeveer agt dae nadat Hy dit gesê het, het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en teen die berg op gegaan om te gaan bid. 29En terwyl Hy besig was om te bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het helderwit geskitter. 30Skielik was daar twee manne wat met Hom gesprek voer. Dit was Moses en Elia. 31Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring. 32Maar Petrus en die ander twee wat saam met hom was, is deur slaap oorval, en toe hulle wakker word, sien hulle sy glansende heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan. 33Toe die manne van Hom afskeid neem, sê Petrus vir Jesus: “Meester, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U en een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie besef wat hy sê nie. 34Terwyl hy nog praat, kom daar ‘n wolk en gooi ‘n skaduwee oor hulle. En terwyl hulle in die wolk verdwyn, het die dissipels bang geword. 35Daar kom toe ‘n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.” 36Nadat die stem gepraat het, het hulle Jesus alleen aangetref. Hulle het stilgebly en vir niemand in daardie tyd vertel wat hulle gesien het nie.
Lukas plaas die gebeure op die berg van verheerliking ongeveer agt dae ná die belydenis van Petrus en die gesprek oor die Lydensweg van die dissipels. Jesus het die binnekring van dissipels met Hom saamgeneem om op die berg te gaan bid: Petrus en die twee broers, Johannes en Jakobus. Jesus-hulle is duidelik nog in die omgewing van Sesarea-Filippi wat noord van die See van Galilea is. Dit is aan die voete van die berg Hermon, aan die noordelike rand van Basan in die gebied van Sesarea-Filippi, ‘n streek wat met demoniese aktiwiteite geassosieer is. Dit pas perfek in as konteks vir die openbaring van Jesus se ware identiteit as die oorwinnaar van die bose. Dit was die “poorte van die doderyk (Hades / Onderwêreld)”. Dit pas ook in by die eskatologiese verowering van Basan wat in Psalm 68:19 beskryf word, ‘n gedeelte wat Paulus in Efesiërs 4:8 in verband met die Jesus se oorwinning oor die dood aanhaal. Onthou dat die berg Hermon met die gevalle “seuns van God” geassosieer word in die 1ste Boek van Henog. Ook met die Pan godsdiens, die Griekse half-god en half-bok. Dit is dus betekenisvol dat Jesus juis hier sy ware gestalte vir die dissipels wys.
Terwyl Jesus bid het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit. Iets soortgelyks as wat met Moses in God se teenwoordigheid gebeur het (Eks 34:29-30). Twee manne uit die ou bedeling – Moses as die verteenwoordiger van die wet en Elia as die verteenwoordiger van die profete – het in gesprek getree met Jesus. Die onderwerp van hulle gesprek was Jesus se “vertrek” – sy eksodus – deur sy kruisdood in Jerusalem na die Vader. Soos dit later in Getsemane ook die geval sou wees, mis die dissipels die gewigtigheid van die oomblik, omdat hulle nie hulle oë kan oophou nie. Toe hulle egter wakker skrik, het hulle die heerlikheid van Jesus en die manne by hom gesien. Toe Elia en Moses begin vertrek, het Petrus vervaard probeer om die moment uit te rek deur voor te stel om drie tente te maak vir hulle, sodat hulle langer kon bly. Hy het egter nie mooi geweet wat hy sê nie. Die wolk van God se teenwoordigheid het hulle egter omvou – onthou die wolkkolom bedags (Eks 13:21-22) – en hoewel hulle baie bang geword het, het God hulle gerusgestel met die opdrag om na Jesus te luister, sy uitverkore Seun. Met die vertrek van die wolk het hulle agter gebly net met Jesus. Die gebeure het só ‘n groot impak op hulle gehad dat hulle vir eers stil gebly het daaroor. Petrus sou egter later uitvoerig daarvan berig in sy tweede brief (2 Pet 1:16-21).
Twee dinge staan vir my uit van hierdie wonderlike ervaring. Die een is die plek waar die verheerliking gebeur. Die “poorte van die doderyk”. Dit wys onteenseglik dat die lig in die duisternis skyn en dat die duisternis die lig nie kan oorweldig nie. Jesus sal die Bose oorwin. Die ander is die heerlikheid wat Jesus en sy twee gespreksgenote – Moses en Elia – gedeel het. Dit is ook die glansryke heerlikheid wat ons beskore is, omdat ons in Jesus glo. Soos Paulus sê: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (vgl Rom 8:18-39). Hy is daarom die Enigste na Wie ons hoef te luister.
Lees meer (‘n preek oor die verwante gedeelte in Matteus 17:1-8): https://bybelskool.com/matteus-171-8-luister-na-hom/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar