2 Korintiërs 3:12-4:2 – God verander ons na sy heerlikheid
2 Korintiërs 3:12-4:2 – God verander ons na sy heerlikheid
12Terwyl ons dan so ‘n hoop het, tree ons op met groot vrymoedigheid – 13nie soos Moses, wat ‘n sluier oor sy gesig getrek het, sodat die kinders van Israel nie die einde van dit wat aan die vergaan was, kon aanskou nie. 14Maar hulle denke was verhard. Want tot vandag toe lê dieselfde sluier oor die Ou Testament wanneer dit gelees word; en dit word nie weggeneem nie, want dit word slegs in Christus verwyder. 15Maar tot vandag toe, elke keer wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n sluier oor hulle harte. 16Telkens egter, wanneer iemand hom tot die Here wend, word die sluier afgehaal. 17Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. 18En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ‘n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees. 1Daarom, aangesien ons hierdie bediening het volgens die ontferming wat aan ons betoon is, gee ons nie moed op nie. 2Ons het egter afstand gedoen van geheime skandelike dinge, en tree nie slinks op, of verdraai die Woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons onsself voor God aan by die gewete van elke mens.
Paulus beskou die gelowiges in Korinte as “briewe van Christus” wat deur die wêreld gelees word (vgl vers 1-11). Hy vergelyk hulle met Moses wie se gesig geblink het as hy van die berg af uit God se teenwoordigheid weer by die mense aangekom het. Moses se heerlikheid het dan al hoe meer afgeneem weens sy afstand van die Here af (tot hy weer teruggegaan het om in sy teenwoordigheid te wees). Dit is egter nie so met NT gelowiges nie. Die heerlikheid van hulle bediening neem toe, omdat die Gees van God in hulle woon. Dit is waarom hulle (en ons) met groot vrymoedigheid kan optree en van God kan verwag dat sy teenwoordigheid al hoe helderder van ons af sal skyn na hierdie wêreld toe.
Om dit nog beter uit te druk, praat Paulus in vers 18 van die openbaring van God in die Bybel as ‘n spieël van God se heerlikheid: “En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ‘n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.” Dit is ‘n baie besondere spieël. As jy daarin kyk, sien jy jouself. Maar, sonder enige bedekking. Soos jy werklik is. In al jou sonde en verlorenheid. Want in die Bybel sien jy jouself deur die oë van God. Maar, jy sien ook iets anders raak in die Bybel. Jy sien die heerlikheid van God raak. Hy is heilig, en heel. Sonder sonde. Dit is egter ‘n heerlikheid wat nie afstoot nie. Dit is ‘n heerlikheid wat aantrek, want Hy kan jou sonde vergewe. Hy kan jou genees. Hy kan jou heelmaak. Hy kan jou na sy beeld verander.
Dit is in die aanskouing van die heerlikheid van God in die Skrif, die beeld van Christus, wat die sluier van ons lewens inderdaad afgehaal word, ons gebrek aan verstaan en begrip, en ons Hom al hoe beter kan raaksien. Om Hom dan beter te kan weerkaats na hierdie wêreld toe. Calvyn het hieroor geskryf in sy bekende werk, die Institusie van die Christelike geloof, dat jy jouself net beter kan leer ken, as jy God leer ken – en dat jy net vir God regtig kan leer ken, as jy jouself beter leer ken. Godskennis en selfkennis, sê hy, gaan saam, die een kan nie sonder die ander nie. En hoe leer ons God (en onsself) ken? In die spieël van die Woord, in Jesus Christus, want dit is die beeld wat die Bybel uitstraal. Daarom kon Calvyn oor geloof praat en sê, geloof is: “to contemplate the face of God”. Geloof is om ure lank in God se teenwoordigheid met sy Woord deur te bring, sodat ek Hom kan sien in die Woord, en die beeld van Hom my kan verander. En die wonder gebeur, soos ons verander, word ons ook spieëls vir die wêreld, weerkaatsings van God se heerlikheid, wat sy genade, en sy liefde, sy vreugde, en sy vrede na mense uitstraal. En soos mense na ons kyk, en in ons hierdie weerkaatsing van God raaksien, word hulleself verander. God verander ons na sy heerlikheid. Sodat ander deur ons bediening kan verander.
Lees meer (my preek vanoggend in NGK Somerstrand): https://wp.me/p3yY2R-3iS
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar