Skip to main content

Daniël 9:1-3, 15-23 – God antwoord gebede op grond van sy beloftes

25 Februarie

Daniël 9:1-3, 15-23 – God antwoord gebede op grond van sy beloftes

1In die eerste regeringsjaar van Darius, seun van Ahasveros, uit die nageslag van die Mede, wat as koning aangestel is oor die koninkryk van die Galdeërs, 2in die eerste jaar van sy koningskap, het ek, Daniël, in die boekrolle opgemerk dat die getal jare wat moes verloop vir die puinhope van Jerusalem, waaroor die woord van die Here tot Jeremia gekom het, sewentig jaar sou wees. 3Ek het my tot God, my Heer, gewend om Hom in gebed en smeking te soek, deur te vas, in ‘n roukleed en met stof op die kop … 15“En nou, my Heer, ons God, U wat u volk uit Egipteland uitgelei het met ‘n sterk hand en vir U ‘n naam gemaak het soos dit vandag is – ons het gesondig, ons is skuldig. 16My Heer, laat, in ooreenstemming met al u weldade, u toorn en woede asseblief wegdraai van u stad Jerusalem, u heilige berg. Want dit is deur ons sonde en die sondeskuld van ons voorouers dat Jerusalem en u volk ‘n bespotting geword het vir almal om ons. 17Daarom, ons God, luister na die gebed van u dienskneg en na sy smeekbede, en laat, ter wille van my Heer, u aangesig skyn oor u heiligdom, wat verwoes lê. 18Draai u oor, my God, en hoor! Maak u oë oop en sien ons verwoeste plekke raak en ook die stad waaroor u Naam uitgeroep is! Want nie op grond van ons regverdige dade lê ons ons smeekbede voor u nie, maar op grond van u oorvloedige barmhartigheid. 19My Heer, hoor tog! My Heer, vergewe tog! My Heer, gee tog aandag en tree op! Moenie talm nie, om u eie ontwil, my God, want u Naam is uitgeroep oor u stad en u volk.” 20Terwyl ek nog besig was om te praat en te bid, om my sonde en die sonde van my volk Israel te bely, en om my smeekgebed vir die heilige berg van my God voor die Here, my God, te lê, 21ja, terwyl ek nog praat in die gebed teen die tyd van die aandoffer, het die man Gabriël wat ek, heeltemal uitgeput, in die visioen aan die begin gesien het, my aangeraak. 22Hy het verduidelik, met my gepraat en gesê: “Daniël, ek het nou uitgegaan om jou tot insig te bring. 23Aan die begin van jou smeekgebed het daar ‘n woord uitgegaan, en ek het self gekom om dit te verklaar, want jy is baie geliefd. Verstaan die woord en kry insig in die openbaring.

Hierdie verhaal speel af toe Daniël al ‘n ou man was, in sy tagtiger jare. Hy is as jong tiener weggevoer na Babel saam met die ander elite van Jerusalem. Dit was in 605 vC (Dan 1:1; vgl Jer 25:1; 2 Kon 24:1 en 2 Kron 36:6). Nou, belangrik om te weet, Daniël het waarskynlik van die profesieë van Jeremia gehoor terwyl hy nog in die land Israel was. Jeremia het immers van ten minste 627 vC al voorspel dat hulle in ballingskap weggevoer sou word. En Daniël het presies dit ervaar. Jeremia het ook nie opgehou om te profeteer nie. Hy het gereeld van sy profesieë na Babel gestuur. Want, sommige van die profesieë was direk gerig aan die Jode in Babel (bv Jer 24; 29). Daniël het dus ook in Babel kennis geneem daarvan. Trouens, hy kon ‘n kopie van die boek van Jeremia lees saam met die res van die “boekrolle” van die OT wat teen daardie tyd al as kanoniek aanvaar is en vir hom in ballingskap beskikbaar was.

En dit is waar dit nou interessant raak. In die eerste jaar van koning Darius – hy word ook Kores genoem – het Daniël in sy Bybelstudie uit Jeremia agter gekom dat daar ‘n besondere belofte in die Bybel was. Hy merk op in die boekrolle: “dat die getal jare wat moes verloop vir die puinhope van Jerusalem, waaroor die woord van die Here tot Jeremia gekom het, sewentig jaar sou wees.” Daniël het dit op twee plekke in die boek Jeremia kon lees (Jer 25:11-12 en 29:10). So, Daniël het somme gemaak. Hy is in 605 vC weggevoer. Dit is nou 539 vC, want dit weet ons uit geskiedenis bronne is die jaar wat Darius koning geword het. So, 539 van 605 afgetrek, is so in die omgewing van 66 jaar lank. Baie naby aan die sewentig jaar waarvan Jeremia in sy profesieë gepraat het. Daniël het deeglik gelees en toe besluit, maar hierdie saak moet hy met die Here deur gesels. Hy het hom tot God, sy Heer, gewend om Hom in gebed en vas met smeking te soek. Hy het weereens die sondes van die volk bely. Ook sy eie. En hy vra dat die Here hulle tog barmhartig sal wees. Hy vra die Here om vergifnis en vra dat die Here die stad Jerusalem sal herstel. Dit is dan nou amper sewentig jaar. Dit is mos ‘n belofte van die Here, en hy bid dat die Here sy belofte in vervulling sal laat gaan. Dit is merkwaardig om dan die Here se antwoord in vers 20 te lees. “Terwyl ek nog besig was om te praat en te bid … ja, terwyl ek nog praat in die gebed…” het die engel Gabriël hom aangeraak en die nuus gebring dat God die herstel van Jerusalem beveel het. Trouens, die Here gee vir Daniël baie meer as waarvoor hy gevra het. Hy laat nie net die volk kort hierna deur die bemiddeling van Darius teruggaan na Israel toe nie, maar gee vir hom ‘n visie op die Messias wat na ‘n paar eeue sou kom om God se koninkryk te vestig… (waaroor jy meer by die skakel kan lees).

Nou, die boodskap aan ons is dit. Daar is talle sulke verhale in die OT en NT. Verhale waar die beloftes van die Here in vervulling gebid is. Soms is dit sulke direkte beloftes wat vervul word. Soms is dit meer indirekte beloftes wat vervul word. Die belangrike boodskap aan jou is egter dat hierdie verhaal jou uitnooi om die Here te vertrou om dieselfde ook vir ons te doen. Ook beloftes in sy Woord vir ons waar te maak. Hierdie verhaal wil jou leer om die Woord te bid. Om die beloftes van die Here te lees en dit jou gebed te maak, soos ‘n Daniël van ouds. Ons het al gelees in Jesaja 62 hoe dit werk: “Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! Gun Hom ook geen rus nie …!” (Jes 62:6-7). Daar is talle sulke verhale in die OT en NT. Waar die beloftes van die Here in vervulling gebid is. Wat ons uitnooi om die Here te vertrou om dieselfde ook vir ons te doen.

Lees meer oor die konteks van Daniël 9: https://bybelskool.com/daniel-9-daniel-bid-om-die-vervulling-van-god-se-beloftes-en-ontvang-die-belofte-van-volle-versoening/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar