Skip to main content

Lukas 8:40-48 – Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!

22 Januarie

Lukas 8:40-48 – Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!

40Met Jesus se terugkoms het die skare Hom verwelkom, omdat almal vir Hom gewag het. 41Kyk, daar kom toe ‘n man aan met die naam Jaïrus. Hy was ‘n leier van die sinagoge. Hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om na sy huis te kom, 42omdat sy enigste dogter, ongeveer twaalf jaar oud, op sterwe gelê het. Op pad daarheen het die skares Jesus verdring. 43Onder hulle was daar ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het en reeds alles wat sy besit, aan dokters bestee het, maar sy kon deur niemand genees word nie. 44Sy het van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak – en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. 45“Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Toe almal dit ontken, het Petrus gesê: “Meester, die skare dring tog rondom U saam en druk teen U aan.” 46Maar Jesus het gesê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag uit My vloei.” 47Toe die vrou besef dat haar optrede nie ongemerk verbygegaan het nie, het sy bewend voor Hom kom neerval. Sy het toe voor die hele volk vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48Toe sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”

Twee verhale word hier in mekaar geweef. Die een verhaal is van ‘n familie wat met siekte en uiteindelik in die volgende perikoop met die dood gekonfronteer word, die verhaal van Jaïrus se twaalfjarige dogtertjie. Die ander verhaal is dié van ‘n vrou – dit wil lyk asof sy sonder familie was – wat twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Jesus gebruik dié twee verhale om sy dissipels te leer dat Hy mag het oor siekte en die dood. Ons fokus egter net op die verhaal van die vrou.

Op pad na Jaïrus kom die anonieme vrou agter Jesus aan. Sy het al baie lank erge menstruasie probleme gehad, iets wat ons vandag waarskynlik menoragie sal noem. Dit het haar ekonomies geruïneer ten spyte van die feit dat sy al haar lewensmiddele aan dokters gespandeer het. Sy was ook ritueel onrein weens die menstruasie en kon nie saam met die ander in die tempel die Here aanbid nie (Lev 15:25-31). Sy was dus ‘n randfiguur in die geloofsgemeenskap. Sy kom van agter nader en raak die rand van Jesus se bo-kleed aan. Die “soom” of “rand” – in Grieks kraspedon – verwys waarskynlik na een van die vier klossies aan die soom van elke Joodse man se bo-kleed (Matt 23:5). Nog meer spesifiek, aan een van die klossies was daar ‘n blou toutjie gebind wat Joodse getrouheid aan die wet gesimboliseer het. Dit moes hulle herinner om: “nie die sondige begeertes van hulle hart en oë na te volg nie.” (Num 15:37-41; Deut 22:12). Sy het moontlik baie spesifiek daaraan geraak. Dié klossies leef voort in die gebedstjalie met klossies wat Jode vandag nog gebruik, die tallit.

Jy kan jou skaars die verwondering voorstel toe sy agterkom dat sy met dié aanraking genees is! Die vrou is eintlik daagliks daaraan herinner met hierdie bloedvloeiing – om die waarheid te sê, net so lank as wat die dogtertjie gelewe het – aan die feit dat sy nie kinders kon hê nie. Nou is sy meteens genees. Let ook op dat sy genees word nog voordat Jesus haar raaksien. Sy hoef Hom nie te oorreed nie. Dit gebeur oombliklik. Toe Jesus vra wie Hom aangeraak het – want daar het krag uit Hom uitgegaan – en die dissipels van min hulp is in hulle verwarring daaroor, val sy bewend voor Jesus neer en getuig van wat met haar gebeur het. Sy doen dit: “voor Hom en voor die hele volk”!  ‘n Helder getuienis van God se genesende hand vir die hele volk.

Geen wonder nie dat Jesus vir die vrou sê: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Want dit is inderdaad wat met haar gebeur.  Haar lewe word heel.  Sy is nie net genees nie, maar kom in die regte verhouding met God self. Sy is ook weer vry om die tempel te besoek as “dogter” van die volk. Let veral op die woordjie “gered”. Vir Lukas is hierdie genesing deel van ‘n groter werklikheid, die bevestiging van ‘n nuwe verhouding met God self.  Die genesing is ‘n teken van redding. Daarom kan die vrou in vrede gaan, want sy het in die genesende aanraking van Jesus vrede met God ontvang. Sy is deur Jesus gered. Sy kan nou in vrede met God gaan leef, selfs al het sy steeds nie ‘n familie of enigiemand anders wat na haar omsien nie, want Jesus het haar gered.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-81-56-toegewy-aan-god-in-voor-en-teespoed/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar