Lukas 7:1-10 – Sê net ‘n woord, en laat my slaaf gesond word

21 Januarie
Jesus staan bekend as die Groot Geneesheer. Hy praat nie net indirek van Homself as die Geneesheer of Dokter nie (Mrk 2:17; Matt 9:12; Luk 4:23; 5:31), maar wys dit inderdaad direk deur talle genesings waarvan 19 insidente spesifiek vir ons in die vier Evangelies opgeteken is. Hier is ‘n lys van Jesus se genesings wat min of meer kronologies gerangskik is: 1) ’n amptenaar se sterwende siek seun – Joh 4:43-54; 2) Petrus se skoonma van koors – Mrk 1:29-31; Luk 4:38-39; Matt 8:14-15; 3) ‘n melaatse – Mrk 1:40-45 Luk 5:12-14; Matt 8:1-4; 4) ‘n verlamde dienskneg – Luk 7:1-10; Matt 8:5-13; 5) ‘n verlamde vriend – Mrk 2:1-12; Luk 5:17-26; Matt 9:1-8; 6) ‘n man se verdorde hand – Mrk 3:1-6; Luk 6:6-11; Matt 12:9-14; 7) ‘n vrou met bloedvloeiing – Mrk 5:25-34; Luk 8:42-48; Matt 9:20-22; 8) twee blindes – Matt 9:27-31; 9) ‘n stom man – Matt 9:32-34; 10) ‘n verlamde man – Joh 5:1-15; 11) ‘n doofstom man – Mrk 7:31-37; 12) ‘n blinde man – Mrk 8:22-26; 13) ‘n man wat blind gebore is – Joh 9:1-12; 14) ‘n blinde, stom en besete man – Luk 11:14-23; Matt 12:22-23; 15) ‘n kreupel vrou – Luk 13:10-17; 16) ‘n man met watersug – Luk 14:1-6; 17) tien melaatses – Luk 17:11-19; 18) die blinde Bartimeus – Mrk 10:46-52; Luk 18:35-43; Matt 20:29-34; 19) Malgus se oor – Joh 22:50-51). Dit is benewens die getuienis van talle ander siekes wat Jesus genees het, te veel om op te noem (Mrk 1:32-34; Luk 4:40-41; Matt 8:16-17) waarvan sommige net aan sy klere geraak het (Mrk 6:53-56; Matt 14:34-36), sowel as drie opwekkings uit die dood (die weduwee se seun – Luk 17:11-17; Jaïrus se dogter – Mrk 5;21-24, 35-43; Luk 8:40-42, 49-56; Matt 9:18, 23-26; Lasarus – Joh 11:1-45). Die punt van al hierdie genesings is om ons te oortuig dat Jesus inderdaad Jahwe Rapha is!
Lukas 7:1-10 – Sê net ‘n woord, en laat my slaaf gesond word
1Nadat Jesus ten aanhore van die volk al hierdie woorde uitgespreek het, het Hy Kapernaum binnegegaan. 2‘n Slaaf van ‘n sekere centurio wat vir hom baie werd was, was tot die dood toe siek. 3Toe hy van Jesus hoor, het hy ‘n paar van die Joodse familiehoofde na Hom gestuur met die versoek dat Hy kom om sy slaaf gesond te maak. 4Toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend versoek en gesê: “Hy verdien dit dat U dit vir hom doen, 5want hy gee om vir ons volk en het uit sy eie die sinagoge vir ons gebou.” 6Jesus het saam met hulle gegaan. Hy was nie meer ver van die huis af nie, toe stuur die centurio vriende om vir Hom te sê: “Meneer, moenie verder moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. 7Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U te gaan nie; maar sê net ‘n woord, en laat my slaaf gesond word. 8Want ook ek is ‘n man wat onder gesag staan, met soldate onder my bevel. Vir die een sê ek, ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir ‘n ander, ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek, ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” 9Toe Hy dit hoor, was Jesus verwonderd. Hy het omgedraai na die skare wat Hom gevolg het, en gesê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie so ‘n groot geloof gevind nie.” 10En toe die mense wat gestuur is, by die huis terugkom, het hulle die slaaf gesond aangetref.
Jesus het so pas sy Vlakterede voltooi en weer teruggekeer na Kapernaum, die basis vir ‘n groot deel van sy bediening in Galilea. Die eerste persoon wat uitreik na Jesus is ‘n naamlose Romeinse leëroffisier (centurio) wie se waardevolle (of hooggeagte) slaaf doodsiek was (een of ander verlamming – Matt 8:7). Hy werk aanvanklik deur die familiehoofde van die Jode, maar bedink homself toe Jesus naby is en stuur van sy vriende om Jesus te keer om na sy huis te kom. Hy het homself nie waardig genoeg geag dat Jesus onder sy dak inkom nie. Trouens, dit is waarom hy nie in die eerste plek self na Jesus toe gegaan het nie, sê hy. Hy wil maar net ‘n woord van Jesus tot genesing van sy slaaf hê. Hy weet só ‘n woord sal genoeg wees. In terme van ons fokus hierdie jaar, ‘n belofte.
Hierdie nederige, maar ook vertroue-gebaseerde geloof van die leëroffisier het só ‘n groot indruk op Jesus gemaak dat Hy gedoen het wat die leëroffisier vra. Trouens, Jesus het sy geloof vergelyk met dié van Israel en moes erken dat Hy nie daar só ‘n groot geloof gekry het nie. Natuurlik was daar ander wat geglo het, maar hierdie tipe geloof het selfs vir Jesus verstom. Toe die vriende terug was by die leëroffisier was die slaaf dan ook gesond. Die centurio se geloof in Jesus was meer as genoeg vir Jesus om Hom te gee wat hy vra, genesing.
Die nederige geloof van die offisier is vir ons ‘n model om na te volg. Hy maak nie staat op sy publieke waardigheid in die oë van die Joodse familiehoofde nie. Hy is maar te bewus van sy gebrek aan status voor die Here. Maar, sy nederigheid verhoed hom nie om sy geloof en vertroue in Jesus te plaas nie. Dit tref my ook dat geloof en genesing hand aan hand gaan. Die vertroue op God se genesende hand is ‘n noodsaaklike element in die gebed daarvoor. Nie asof ‘n mens God se arm kan draai, sodat jou geloof iets bewerk nie. Nee, maar wel dat God op vertroue reageer. Jesus se genesing van ‘n afstand af, tref my ook. Want, dit wys dat Jesus inderdaad God is. Hy het ‘n goddelike gesag. Hy is ook nie aan plek of tyd gebonde om sy werk te doen nie. Selfs nie in sy menslike gestalte nie. Hoeveel te meer kan Hy nie ‘n woord spreek nou dat Hy vir ons intree in die hemel nie!
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-71-50-jesus-het-gelowiges-en-twyfelaars-lief/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar