Skip to main content

Nehemia 8:1-4, 10-11 – Die vreugde van die Here is julle toevlug

23 Januarie

Nehemia 8:1-4, 10-11 – Die vreugde van die Here is julle toevlug

1Met die aanbreek van die sewende maand was die Israeliete al in hulle dorpe. 2Die hele volk het toe soos een man byeengekom op die plein voor die Waterpoort en Esra, die skrifgeleerde, gevra om die boekrol te bring met die Wet van Moses wat die Here Israel beveel het. 3Esra, die priester, het toe op die eerste dag van die sewende maand die Wet voorgehou aan die byeenkoms, wat mans en vroue ingesluit het, elkeen wat met begrip kon luister. 4Hy het, vandat dit lig geword het tot die middel van die dag toe, daar voor die plein by die Waterpoort daaruit voorgelees vir die mans en vroue en dié wat kon verstaan. Die hele volk het met gespitste ore geluister na die boekrol met die Wet … Die hele volk het gehuil toe hulle die woorde van die Wet hoor. 11Esra het vir hulle gesê: “Gaan eet feestelike kos en drink soet drank. Deel ook uit aan hulle vir wie niks voorberei is nie, want hierdie dag is heilig vir ons Heer. Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.”

Die muur van Jerusalem is voltooi na 52 dae se bouwerk. Almal het teruggekeer na hulle tuistes. Vyf dae later het die hele volk soos een man bymekaargekom in Jerusalem soos die Wet hulle beveel het (Lev 23:24) om ’n spesiale Sabbat vir die Here te vier. Die volk vra Esra om vir hulle uit die Wet van Moses te lees. Hy doen dit die dag omtrent ses uur lank. Van ligdag af tot in die middel van die dag. Met ‘n uitvoerige uitleg daarvan deur ‘n span priesters wat hom help.

Die “hele volk het met gespitste ore geluister na die boekrol met die Wet”. Letterlik staan daar: “die ore van die hele volk was op die boekrol, die Wet”, so graag wou hulle verstaan! (Neh 8:4). Geen wonder dat die volk hierna met reg mense van die Boek genoem kon word, want dít is inderdaad wat hulle geword het. Die aanhoor van die Wet van Moses se eise en voorskrifte het die volk egter hartseer gestem, omdat hulle op soveel wyses daaraan ongehoorsaam was. Nehemia stop dié huilery egter baie gou en moedig die volk aan om eerder hulle verbintenis aan God met blydskap te vier en ook die feestelikheid te deel met dié wat niks voorberei het nie.

Die woorde van Nehemia het een van die groot beloftes van die Bybel geword: “Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.” In Engels: “the joy of the Lord is your strength.” Soos die NET Bible opmerk daaroor: “It’s their confidence in God’s goodness that sets them apart and makes them a robust people.” Want blydskap in die Here is ‘n genesing van die gees (vgl Spr 17:22). Dit gee jou krag om te volhard en die Here se beskerming te vertrou (vgl Ps 28:7-8). Soos ons alreeds by die Prediker geleer het: Genot is ‘n gawe van God (Pred 3:22). En soos Paulus later sal sê: “Wees altyd bly!” (1 Tess 5:16).

Lees meer: https://bybelskool.com/nehemia-8-esra-help-die-volk-om-mense-van-die-boek-te-word/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar