Psalm 41 – Omgee vir swakkes gee vrymoedigheid in gebed

20 Januarie
Psalm 41 – Omgee vir swakkes gee vrymoedigheid in gebed
“1Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid. 2Gelukkig is die mens wat die hulpelose in ag neem; op die dag van onheil sal die Here hom laat ontkom. 3Die Here sal hom beskerm en in die lewe hou; hy sal gelukkig genoem word in die land. U moet hom nie uitlewer aan die begeerte van sy vyande nie. 4Die Here sal hom ondersteun op sy siekbed. Waar hy ook al siek lê, maak U hom gesond. 5Ek, ek het gesê: “Here, wees my genadig, genees my tog, want ek het teen U gesondig. 6My vyande wens my kwaad toe, ‘Wanneer sterf hy en verdwyn sy naam?’ 7As iemand my besoek, huigel hy; in sy hart koester hy onheilsgedagtes en as hy buite kom, dan praat hy. 8Almal wat my haat, fluister onder mekaar oor my. Teen my beplan hulle onheil 9Hulle sê, ‘Iets slegs het hom aangetas, en hy wat daar lê, sal nie weer opstaan nie.’ 10Selfs my vriend wat ek vertrou het, hy wat my brood geëet het, het die hakskeen teen my gelig.” 11Maar U, Here, wees my genadig en laat my opstaan, sodat ek hulle kan vergeld. 12Hieraan weet ek dat U my goedgesind is: dat my vyand nie oor my juig nie. 13Wat my betref, omdat ek onberispelik is, ondersteun U my. U laat my altyd in u teenwoordigheid staan. 14Die Here, die God van Israel, moet geprys word, van ewigheid af en vir ewig. Amen, amen. ”
Dawid begin die Psalm met ’n saligspreking: “Gelukkig is die mens wat die hulpelose (swakke of arme) in ag neem”. Dit is daarom ook ‘n belofte, want só ’n persoon – enigiemand wat omgee vir ander in hulle nood – kan met reg na God gaan in sy eie tyd van nood, en om hulp smeek. Dawid spel in vers 1-4 vier dinge uit waarvoor so iemand met vrymoedigheid kan bid. 1) Vir redding op die dag van nood (vers 2). 2) Vir publieke erkenning. 3) Vir beskerming van vyande (vers 3). 4) Vir persoonlike genesing in siekte (vers 4).
En dit is veral met die persoonlike en publieke impak van ’n omgee-lewe waarmee Dawid verder in sy gebed in vers 5-10 worstel en om God se genade vra. Let op dat hierdie vrymoedigheid steeds afhanklik bly van God se genade. Let ook op hoe Dawid in hierdie deel van sy gebed belydenis van sy sonde doen, terwyl hy om genesing van sy siekte vra. Hoewel hy nie uitbrei oor sy sonde nie, bely hy dat dit – soos alle sonde – iets is wat sy verhouding met God in gedrang bring. Hy wil nie net blote genesing hê nie, maar veral genesing in sy verhouding met die Here, terwyl hy ook vra vir verlossing van die venyn van sy vyande, selfs van ’n vriend wat hom in die rug gesteek het.
In die laaste deel van sy gebed in vers 11-15 is dit opmerklik dat Dawid sy onskuld, spesifiek in verhouding met sy vyande, kan bely. Hy vra wel dat die Here hom in staat sal stel om wraak te neem teen sy vyande, maar dit is omdat hulle in wese vyande van die Here is. Dit is iets wat radikaal met Jesus se vyandsliefde verander is. Jesus haal bv vers 10 aan in sy voetewas gesprek met sy dissipels met verwysing na Judas (Joh 13:18 – “Ek weet wie Ek uitgekies het, maar die Skrif moet vervul word, ‘Die een wat my brood geëet het, het sy hakskeen teen my gelig.’”). Waar Dawid dus vir verlossing van sy vyandige vriend gevra het, het Jesus juis die pyn van verguising, verraad en die kruisdood aanvaar, onder andere weens sy vyandige vriend Judas, sodat hy selfs vir vyandige vriende wat tot inkeer kom verlossing kon bring. Iets om oor na te dink! Die Psalm eindig met ’n doksologie: “Amen, amen” waarmee nie net die Psalm nie, maar ook die eerste Psalmboek (1-41) afgesluit word.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-41-omgee-vir-swakkes-gee-vrymoedigheid-in-gebed/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar