Lukas 4:22-30 – God se genade is bedoel vir elkeen wat ontvanklik is daarvoor

26 Januarie
Lukas 4:22-30 – God se genade is bedoel vir elkeen wat ontvanklik is daarvoor
22Almal het hulle instemming met Hom betuig, en was verwonderd oor die woorde vol genade wat uit sy mond gevloei het. En hulle het gesê: “Is Hy dan nie die seun van Josef nie?” 23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou, ‘Geneesheer, genees jouself. Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen daardie dinge nou ook hier in jou tuisdorp.’ ” 24En Hy het gesê: “Amen, Ek sê vir julle: Geen profeet is welkom in sy tuisdorp nie. 25Wat Ek vir julle sê, is die waarheid: In Elia se tyd, toe die hemel vir drie jaar en ses maande gesluit gebly en ‘n groot hongersnood in die land geheers het, was daar baie weduwees in Israel. 26Tog is Elia nie na een van hulle gestuur nie, maar wel na ‘n weduwee in Sarfat, in die omgewing van Sidon. 27Daar was ook in die tyd van die profeet Elisa baie melaatses in Israel. Tog is nie één van hulle gereinig nie, maar wel Naäman, die Siriër.” 28Toe hulle hierdie dinge hoor, het almal in die sinagoge woedend geword. 29Hulle het opgespring en Hom uit die dorp gedryf. En hulle het Hom geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom daar af te gooi. 30Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan.
Ons het ‘n week gelede die eerste deel van die verhaal in Nasaret gelees. Vandag lees ons van die reaksie van die mense van Nasaret op die vervulling van die belofte van die OT in Jesus Christus. Die verwondering slaan gou oor in verwerping. Jesus is dan die seun van Josef? Hoe kan Hy die Messias wees? Jesus is egter nie daardeur verras nie. Hy weet dat geen profeet in sy tuisdorp aanvaarbaar is nie en is eerlik met sy dorpsmense daaroor.
Hy is egter die draer van God se belofte dat sy genade volksgrense oorskry. Dit sluit mense in soos die weduwee van Sarfat in Sidon waarnatoe God vir Elia gestuur het om nie net vir sy profeet te sorg nie, maar haar lewe ook te red in die droogte (1 Kon 17). Dit sluit mense in soos die Siriër Naäman oor wie God Hom ontferm het deur die bediening van Elisa en hy van sy melaatsheid genees is (2 Kon 5). Trouens, die implikasie van wat Jesus sê, is dat die gebeure in die tyd van Elia en Elisa ook as ‘n oordeel van God geneem kan word oor Israel, deurdat God nie vir hulle weduwees gesorg het in die droogte nie, en nie een melaatse in Israel genees is nie. Want hulle was nie ontvanklik daarvoor nie.
Hierdie boodskap van Jesus is fundamenteel vir die verstaan van sy betekenis. Hy is die Messias. Hy bring genade vir almal. Hy is die Jubeljaar. Nie net vir die binnekring nie. Ook vir die buitestaanders. En veral vir dié wat nood ervaar. Armes, gevangenes, blindes, verdruktes, sondiges, demoon besetenes, melaatses. Selfs vir rykes! Dit is egter ook duidelik dat Jesus nie net met blydskap ontvang word nie. Daar is van die begin af diegene wat Hom teenstaan. Sommige weerstaan Jesus weens selfsug. Hy moet eerder hulle belange dien. Ander weerstaan Jesus weens ongehoorsaamheid. Hulle wil nie sy opdragte uitvoer nie. Daardeur mis hulle egter die genade. Maar dit verminder nie die impak wat hierdie belofte van genade inhou vir elkeen wat bereid is om dit uit Jesus se hand te aanvaar nie. Dit is ook vir jou en vir enigiemand in jou omgewing wat hieraan behoefte het.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-414-539-jesus-het-gekom-vir-armes-gevangenes-blindes-en-onderdruktes/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar