Skip to main content

Genesis 22:1-19 – Ek is Jahwe Jireh, die Here voorsien

27 Januarie

Genesis 22:1-19 – Ek is Jahwe Jireh, die Here voorsien

Elke naam of beskrywing van God in die Bybel is op sigself ook ‘n waarborg dat Hy sy beloftes sal vervul. ‘n Mens kan selfs sê dat elke Naam van God ‘n belofte is. In hierdie bekende verhaal van Abraham wat sy seun Isak moet offer, word God bekendgestel as “die Here voorsien”, of soos dit in die Hebreeus staan: “Jahwe Jireh”.

1Ná verloop van tyd het God Abraham op die proef gestel. “Abraham!” het Hy vir hom gesê; en hy het geantwoord: “Hier is ek.” 2Toe sê God: “Neem jou seun Isak, jou enigste, wat jy liefhet; gaan dan na die gebied van Moria, en offer hom daar as •brandoffer op een van die berge wat Ek vir jou sal wys.” 3Abraham het vroeg die oggend sy donkie opgesaal, twee van sy dienaars met hom saamgeneem, en ook sy seun Isak. Hy het die hout vir ‘n brandoffer gekloof, gereedgemaak en vertrek na die plek waaroor God met hom gepraat het. 4Op die derde dag het Abraham opgekyk en die plek in die verte gesien. 5Toe sê Abraham vir sy dienaars: “Bly julle hier met die donkie! Ek en die seun wil daarheen gaan. Ons wil aanbid en sal dan na julle terugkom.” 6Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak se skouer gesit; hy het die kole vuur en die mes gevat. So het hulle twee saam geloop. 7Isak sê toe vir Abraham, sy vader: “Pa!” En hy antwoord: “Ja, my seun?” Toe sê hy: “Hier is die kole vuur en die hout, maar waar is die lam vir die brandoffer?” 8Abraham het geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun.” So het hulle twee saam geloop. 9Toe hulle aankom by die plek wat God vir hom gewys het, het Abraham daar ‘n altaar gebou en die hout reggepak. Hy het sy seun, Isak, vasgebind en hom op die altaar neergelê, bo-op die hout. 10Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag. 11Maar die Engel van die Here het na hom uit die hemel geroep en gesê: “Abraham, Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 12“Moenie jou hand na die seun uitsteek nie,” het Hy gesê, “en moenie enigiets aan hom doen nie! Want nou weet Ek dat jy vir God ontsag het. Jy het nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou nie.” 13Toe Abraham opkyk, sien hy: Daar is ‘n enkele ram wat aan sy horings vasgevang is in ‘n bos! Abraham gaan toe en neem die ram. Hy het hom as ‘n brandoffer gebring in die plek van sy seun. 14Abraham het daardie plek genoem, Die Here voorsien, sodat vandag nog gesê word: “Op die berg van die Here sal voorsien word.” 15Die Engel van die Here het daarna ‘n tweede keer uit die hemel na Abraham geroep 16en gesê: “By Myself sweer Ek,” is die uitspraak van die Here, “omdat jy dit gedoen het en nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou het nie, 17sal Ek jou ryklik seën, en jou nageslag so geweldig vermeerder soos die sterre aan die hemelruim en soos die sand wat langs die seestrand is. Jou nageslag sal die stadspoorte van hulle vyande in besit neem. 18Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, omdat jy na my stem geluister het.” 19Abraham het toe teruggekeer na sy dienaars, en hulle het opgestaan en saam met hom na Berseba gegaan. Abraham het in Berseba bly woon.

Daar is min verhale in die Bybel wat ‘n mens só diep roer soos hierdie een. Abram word beproef op ‘n manier wat nie net elke ouerhart sal laat saamtrek nie, maar ‘n venster word na die misterie van God self wat ons ‘n vooruitskouing gee na wat op dieselfde plek – die berg Moria, waar Dawid boonop die tempel uiteindelik sou bou – met God se eie Seun aan die kruis op Golgota net oorkant die tempel sou gebeur. Dit is daarom ‘n teks wat ons help om God te verstaan soos Hy regtig is, nie soos ons graag wil hê dat Hy moet wees nie.

Hierdie verhaal konfronteer ons met die erns van geloof. Hierdie toetsing van Abraham se geloof was ’n saak van lewe en dood vir hom. Abraham word gekonfronteer met hoe ver hy dit met God sal waag in geloof. Sal hy in God glo al word die mat volledig onder sy voete uitgeruk? Al verdwyn al die sekerhede en selfs die beloftes van God rondom sy kind? Al maak niks meer sin nie? Al word van hom goed gevra wat teen alle menslike wysheid indruis? Soos Derek Kidner sê: “Abraham’s trust was to be weighed in the balance against common sense, human affection, and lifelong ambition; in fact against everything earthly.”

‘n Mens slaak ‘n sug van verligting as Abraham in sy vertroue volhard, want dit is tóé wat hy die Engel van die Here se stem hoor: “Nou weet ek dat jy vir God ontsag het …” En dit is in daardie oomblik van vertroue – ten spyte van die toets wat aan Abraham gestel is – wat God Homself as Jahwe Jireh openbaar, die Here wat voorsien. Wat ‘n belofte word aan alle gelowiges regdeur die eeue wat self volhard in hulle vertroue ten spyte van alles. Soos die Here hier vir Abraham ‘n lam voorsien het, en uiteindelik aan die kruis ‘n plaasvervangende Lam vir ons almal voorsien het, só sal Hy dit ook in alle ander omstandighede skenk aan diegene wat vir Hom ontsag het.

Lees meer: https://bybelskool.com/genesis-22-nou-weet-ek-dat-jy-my-dien/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.