1 Korintiërs 13:1-13 – Eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is

25 Januarie
1 Korintiërs 13:1-13 – Eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is
1Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ‘n kletterende simbaal geword. 2En al profeteer ek, en begryp ek alle geheime, en besit ek alle kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het nie liefde nie, is ek niks! 3Al deel ek al my besittings uit, en gee ek my liggaam oor, sodat ek my daarop kan beroem, maar ek het nie liefde nie, baat dit my niks. 4Liefde bly geduldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie, en is nie verwaand nie. 5Liefde tree nie onbehoorlik op nie, jaag nie eiebelang na nie, is nie liggeraak nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie, 6is nie bly oor onreg nie, maar is saam bly oor die waarheid. 7Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. 8Liefde faal nooit nie. Maar profesieë, dit sal tot ‘n einde kom; of tale, dit sal ophou; of kennis, dit sal tot niet gaan. 9Want ons ken gedeeltelik, en ons profeteer gedeeltelik, 10maar wanneer die volmaakte gekom het, sal wat gedeeltelik is, ophou bestaan. 11Toe ek nog ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Noudat ek volwasse is, het ek die dinge van ‘n kind agtergelaat. 12Nou sien ons wel ‘n geheimnisvolle beeld, soos in ‘n spieël, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek slegs gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is. 13En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie – maar die grootste hiervan is die liefde.
Hierdie is só ’n pragtige tekening van die hart van die Christelike geloof in die vorm van ’n gedig. Dit besing eerstens die onmisbaarheid van die liefde in die gebruik van die gawes in ’n gemeente (1-3), dan die wyse waarop die liefde met die gawes tot sy reg kom in die gemeente (4-7), en dan die duursaamheid van die liefde bo alles anders (8-13). Daarmee korrigeer Paulus die verkeerde idees wat die Korinte oor die liefde gehad het, wat eerder in onsedelikheid en afguns ontaard het.
Let op hoe Paulus regdeur van die gawes wat hy so pas genoem het (tale, profesie, kennis, geloof), eksplisiet relativeer en ondergeskik maak aan die liefde (4-7). Selfs die bereidheid om jouself op te offer, word ondergeskik gestel aan die liefde. Om die waarheid te sê, gawes sal verdwyn, terwyl die liefde sal voortduur (8-13). Dit geld natuurlik alle gawes. Anders gestel, die gawes kom net tot hulle reg binne ’n konteks van liefde. Hierdie tipe liefde is eienskappe van God (bv Eks 34:6 – lankmoedig) wat Hy deur die Gees aan ons skenk (Gal 5:22). Daarom maak die liefde dat ’n mens die gawes gebruik terwyl jy geduldig is met mense, vriendelik is en nie afgunstig nie, en verseker nie grootpraterig en verwaand daaroor nie. Anders bring die gawes verdeeldheid en hoogmoed. Liefde leer jou verder om nie onwelvoeglik op te tree daarmee nie, nie jou eie belang binne die liggaam te soek nie en ook nie liggeraak te wees oor wat ander doen nie. Daarom hou die liefde ook nie boek van die kwaad nie. Maar die liefde en die waarheid is verbind aan mekaar. Daarom is onreg nooit iets waaroor ’n gelowige hom kan verbly nie. So, hoewel jy nie boekhou van die kwaad nie, kan onreg nooit aanvaar word nie.
Paulus sluit af in vers 12-13 met ‘n belofte en ‘n appèl. Wat ons nou nie van God en die lewe verstaan nie, sal ons eendag persoonlik (van aangesig tot aangesig) en ten volle ken (soos God ons [en alles] ken). Dit is waarom ons, ten spyte van enigiets wat hierdie lewe vir ons inhou, kan bly glo, bly hoop en bly liefhê (vgl Rom 5:2–5; Gal 5:5vv; Ef 1:15–18; 4:2–5; Kol 1:4vv; 1 Tess 1:3; 5:8; Hebr 6:10–12; 10:22–24; 1 Pet 1:3–8, 21vv). Want dit het ewige waarde.
Lees meer: https://bybelskool.com/1-korintiers-13-die-liefde-is-onmisbaar-in-alles/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar