Lukas 3:15-17 – God doop ons met die Heilige Gees en met vuur
8 Desember
Lukas 3:15-17 – God doop ons met die Heilige Gees en met vuur
15Omdat die volk allerhande verwagtings gehad het, het almal in hulle harte gewonder of Johannes nie dalk die Christus is nie. 16Johannes het hulle egter geantwoord: “Ek doop julle wel met water, maar daar kom iemand wat sterker as ek is, en ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy hooivurk in sy hand om sy dorsvloer deeglik skoon te maak en om die koring in sy skuur te versamel, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.”
Johannes, die Doper, het die hele tyd die risiko geloop dat daar ‘n verwarring kon ontstaan tussen hom as voorloper en Jesus as Verlosser. Daarom is Johannes duidelik daaroor dat hy nie die Messias is nie. Vir Johannes was dit baie duidelik dat die doop met water wat hy bedien het net ‘n voorloper kan wees van die vuur wat gaan losbrand in mense se lewe as Jesus hulle doop met die Heilige Gees.
Hoekom? Want Jesus doop met die Heilige Gees en vuur. Hierdie vuur het aan die een kant te make met die vuur van oortuiging en vrymoedigheid tot getuienis waarmee die Gees gelowiges sal vervul. Dit het aan die ander kant te make met die onderskeid wat kom tussen dié wat toelaat dat God hulle reinig van sonde deur sy Gees, en dié wat dit teenstaan. Trouens, die bekeerdes is volgens Johannes die Doper die koring wat in die skuur by God se oordeel bymekaar gemaak sal word. Die onbekeerdes is die kaf wat met ‘n onblusbare vuur verbrand sal word.
Ons moet dus goed hoor. Jesus is baie meer as die “liewe Jesus” van ons kindertyd gebede en die meer eenvoudige boodskappe wat ons vroeër gehoor het. Jesus is die Een wat met ‘n oesvurk werk en sy dorsvloer deeglik skoon maak. Hy is die God van beide die vuur van oortuiging van die Heilige Gees as die onblusbare vuur van die ewige oordeel. Aanbid Hom vandag in sy ontsagwekkende gedaante as ook die God van oordeel. Terwyl jy vra dat Hy jou met die Heilige Gees en die vuur van reiniging en oortuiging sal vervul.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-31-38-jesus-is-familie-van-alle-mense/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Ansie
Baie dankie vir die verduideliking van doop met “vuur en water”.
Chris van Wyk
Dankie!