Matteus 6:31-34 – God gee vir jou alles wat jy nodig het

9 Desember
Matteus 6:31-34 – God gee vir jou alles wat jy nodig het
31“Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. 32Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. 33Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 34Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”
Die probleem wat Jesus net tevore in die Bergrede aangespreek het, was die verdeelde lojaliteit wat kom as ‘n mens besittings najaag. Hier spel Hy uit wat dit beteken vir ‘n mens se bekommernisse oor kos, drank, en klere. Die lewe en jou liggaam is baie meer belangrik as die dinge waarmee jy dit voed en versorg. Ons kan nie ons daaroor bekommer op dieselfde wyse as wat die heidene dit doen nie. Gelowiges het ‘n hemelse Vader wat weet dat hulle al hierdie dinge nodig het.
As jy nie glo dat God sorg nie, sal jy nie anders kan as om te fokus op jou eie besittings, kos en klere nie. Die mens wat egter op God vir sy tydelike behoeftes vertrou, word vrygestel om te soek na God se koninkryk en sy geregtigheid (dit wat God vereis). God sal dan self vir ons al die lewensmiddele verskaf wat nodig is in sy koninkryk.
Ons is nie op aarde om dowe neute nie. Ons is nie hier selfs in die eerste plek vir onsself nie. Ons is hier omdat God deur ons Homself wil verheerlik. Hy wil sy koninkryk en sy geregtigheid oral vestig. Dit is waarom Jesus aarde toe gekom het. Dit is waarvoor Hy geleef, gesterf en opgestaan het. Dit is waaroor die Bergrede gaan. Dit is waarvoor ons moet lewe – vir God en sy geregtigheid – oral waar ons kom. Dít is die evangelie in hierdie teks, die goeie nuus, die insig wat jou bekommernis laat verdwyn, wat jou besittings hulle regmatige plek in jou lewe laat inneem. Belê dus in God se koninkryk en sy belofte is dat Hy sal sorg vir alles wat jy nodig het. Ook vir môre, want dit is ook in God se voorsiening ingesluit.
Lees meer: https://bybelskool.com/matteus-6-jesus-fokus-op-die-lewe-van-geregtigheid-2/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar