Lukas 24:44-53 – Ek sal die belofte van my Vader na julle stuur
Lukas 24:44-53 – Ek sal die belofte van my Vader na julle stuur
44Daarna het Hy vir hulle gesê: “Dit was my woorde wat Ek tot julle gerig het toe Ek nog saam met julle was, dat alles wat in die Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word.” 45Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan, 46en vir hulle gesê: “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word. Julle moet by Jerusalem begin, 48en getuies van hierdie dinge wees. 49En kyk, Ek sal die belofte van my Vader na julle stuur. Maar bly julle in die stad totdat julle met krag uit die hoogte toegerus word.” 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid, en met groot blydskap na Jerusalem teruggekeer. 53En hulle het God voortdurend in die tempelterrein bly prys.
Met hierdie verskyning van Jesus aan die dissipels het Hy hulle eers van sy fisiese opstanding oortuig deur saam met hulle te eet. Hy het hulle ook toegelaat om aan Hom te raak, sodat hulle kon agterkom dat hy ‘n “vleis en bene” mens is, nie ‘n “spook” sonder liggaam nie. Maar, Jesus het geweet dat Hy binnekort na die hemel toe moet vertrek. Daarom wys Hy nie net vir hulle die werklikheid van sy liggaamlike opstanding nie. Nee, Hy maak hulle verstand oop om die Skrifte te verstaan, om die konneksie te maak tussen wat in die OT staan en wat hulle in Hom ervaar. Dat hulle ná sy hemelvaart steeds kan weet dat die dinge wat oor Hom in die Skrifte geskryf is, in Hom vervul is. Want, van die wet van Moses regdeur tot die profete en die psalms, gaan dit in die OT oor Jesus. Hy is die Een waaroor dit alles gaan. Dit is die oomblik as jy hierdie konneksie maak – as jy raaksien hoe die OT vervul is in Jesus – dat jy weet dat hierdie Jesus regtig die beloofde Messias is. Dat jy weet dat Hy moes ly. Dat jy weet Hy moes op die derde dag uit die dood uit opstaan (Hos 6:2; vgl Paulus se uitleg in 1 Kor 15:4). Dat jy dit kan glo. Want, die Bybel het dit al lank terug, eeue terug, gesê.
Dit is waarom Jesus hulle verstand oopmaak dat hulle hierdie dinge kan raaksien en die verbande kan trek tussen hulle ervaring en God se openbaring in die Skrif. Want, dit is dan dat die vertroue in God ‘n vaste werklikheid raak in jou binnekant. En let op hoe Jesus van die Skrifte in die bekende Joodse drie-deling praat. 1) Die wet van Moses verwys na die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug of Tora. 2) Die profete of Nevi’im verwys na die Vroeë Profete – die historiese boeke wat profete genoem is (Josua, Rigters, Samuel en Konings), vanweë die rol van profete soos Samuel, Natan, Elia en Elisa daarin – en die Later Profete – die drie groot profete (Jesaja, Jeremia, Esegiël) en die twaalf kleiner profete (Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria, en Maleagi). 3) Die res van die boeke word Geskrifte of Ketuvim genoem (Psalms, Spreuke, Job, Hooglied, Rut, Klaagliedere van Jeremia, Prediker, Ester, Daniël, Esra, Nehemia, en Kronieke).
Jesus gaan verder en lê die Skrifte rondom Hom uit wat vervul sal word wanneer in sy Naam bekering tot vergifnis van sondes verkondig sal word aan al die nasies. Deur te begin vanaf Jerusalem sal hulle hiervan getuies wees, soos Lukas in Handelinge 1 verder gaan skryf. Daar is egter nog iets nodig, die vervulling met die Heilige Gees. Daarom sluit Jesus sy gesprek hier af met die belofte van sy Vader dat Hy hulle die Heilige Gees sal gee. Daarvoor moet hulle in die stad Jerusalem bly totdat hulle beklee is met krag uit die hoogte. Lukas sluit dan sy Evangelie af met die Hemelvaart. Jesus lei die dissipels uit die stad Jerusalem – 40 dae na sy opstanding (Hand 1:3) – lei hulle tot by Betanië (Lukas sê in Handelinge 1:12 dat dit by die Olyfberg daar naby gebeur het), lig sy hande op om hulle te seën en word deur God in die hemel opgeneem. Die dissipels het Hom as God aanbid en vol blydskap teruggekeer Jerusalem toe in afwagting van die uitstorting van die Heilige Gees. Hulle was deurentyd in die tempel besig om God te prys en in gebed te volhard in die bovertrek van die huis van (waarskynlik) Maria, die ma van Johannes Markus (Hand 1:13-14). Soos Lukas die evangelie in die tempel begin het, eindig hy dit met die dissipels wat God in die tempel prys. Hierna sal ‘n beweging weg van die tempel begin na die huise en harte van die dissipels, want hulle sou individueel en korporatief die tempel van die Heilige Gees word.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-241-53-jesus-het-werklik-opgestaan/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar