Skip to main content

Psalm 47 – God is die koning van die hele aarde

24 Mei

Psalm 47 – God is die koning van die hele aarde

1Vir die musiekleier. Van die Koragiete. ‘n Psalm. 2Al julle volke, klap hande! Juig tot eer van God met jubelkrete! 3Want die Here, die Allerhoogste, is ontsagwekkend, ‘n groot koning oor die hele aarde. 4Hy onderwerp volke aan ons, nasies onder ons voete. 5Hy kies vir ons ons erfgrond, die trots van Jakob, wat Hy liefhet. Sela 6Onder gejuig bestyg God die troon, die Here bestyg dit onder die geluid van ‘n ramshoring. 7Besing God, besing Hom! Besing ons koning, besing Hom! 8Want God is die koning van die hele aarde; sing ‘n lied wat onderrig. 9God regeer oor nasies, God sit op sy heilige troon. 10Die vooraanstaandes van volke kom bymekaar by die God van Abraham, want aan God behoort die skilde van die aarde. Hy is hoog verhewe.

Dit is ’n jubelende Psalm wat nie net die volk van die aartsvaders (Jakob, Abraham) oproep om God se lof te besing bo alles nie, maar alle nasies en hulle leiers saam wil intrek in hierdie loflied aan God. Want, God is die Groot Koning oor die hele aarde (vers 3,8) en oor al die nasies (vers 9,10). Die motivering vir hierdie oproep tot lof is tweërlei en vorm die hart van die twee dele van die Psalm: 1) Lof aan God vanweë sy onderwerping van die nasies – vers 2-5; 2) Lof aan God vanweë sy vereniging van die nasies – vers 6-10.

Let op hoe dit alles by die tempel (vers 6) en voor sy troon (vers 9) gebeur. Dit sluit dus die aardse en hemelse teenwoordigheid van God in waarmee eintlik die hele geskape werklikheid ingesluit word. Dit is ook interessant hoe die Godsnaam Allerhoogste (Elyon) vir Jahwe gebruik word, soos dit gereeld in die res van die OT gedoen word waar van die nasies sprake is. Daarmee word ’n Godsnaam wat ook vir die omringende nasies betekenis sou hê, vir Jahwe gebruik.

Vers 9 werk met die beeld van God wat op sy troon sit (die woord sit het ongelukkig uitgeval in die 1983-vertaling) waarmee sy beheer en heerskappy uitgedruk word. Dit is hierdie perspektief op God wat duidelik ’n groot rol gespeel het in die beskrywing van God in die NT, bv. in die Openbaring van Johannes. God word daar op verskeie plekke uitgebeeld as die Een wat op die troon sit as teken van die absoluutheid van sy heerskappy (Openb 4:2,9,10; 5:1,7,13; 6:16; 7:10,15; 19:4). Dit is ’n perspektief wat ook op Jesus van toepassing gemaak is, veral na Jesus se opstanding en hemelvaart, wanneer bely word van Hom dat Hy aan die regterhand van God op die troon gaan sit het. Só het die sinoptiese evangelies dit en só word dit in ’n hele paar NT briewe vermeld. Paulus en ook die Hebreërskrywer beskou Jesus se troonsbestyging as fundamenteel tot sy werk en ons begrip daarvan (Matt 23:22; Mrk 16:19; Luk 22:69; Rom 8:34; Kol 3:1; Hebr 1:3; 10:12; 12:2). Geen wonder dit het só ’n belangrike invloed op ons geloofsbelydenisse van die eerste paar eeue van ons jaartelling gehad nie. Die belydenis oor Jesus wat sit aan die regterhand van God die Vader is vervat in al die ekumeniese geloofsbelydenisse sowel as in die latere kategismusse.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-47-n-verenigde-volk-van-god-uit-al-die-nasies


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar