Johannes 17:20-26 – Eenheid in geloof laat die wêreld glo dat Jesus die Gestuurde is
Johannes 17:20-26 – Eenheid in geloof laat die wêreld glo dat Jesus die Gestuurde is
20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, 21dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het. 24Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het. 25Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle weet dat U My gestuur het. 26En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.”
Jesus het in hierdie Hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 eerstens vir Homself en die voltooiing van sy roeping – vers 1-8. Hy het tweedens gebid vir die dissipels en die beskerming van die Bose sodat hulle die onderlinge gemeenskap met God en mekaar kan behou – vers 9-19. Jesus bid nou derdens vir die kerk wat hierna op Pinksterdag sou ontstaan. Hulle wat die dissipels se boodskap in Jesus sal glo. Hy bid spesifiek vir eenheid tussen gelowiges – soos die eenheid tussen die Vader en die Seun – sodat hulle ook ingetrek kan wees in die gemeenskap van God. Watter voorreg! Die belofte is juis dat die wêreld tot geloof beweeg sal kan word op grond van die gelowiges se onderlinge eenheid.
Paulus sou baie tyd aan hierdie gedagtes van eenheid spandeer en uitspel wat eenheid in die praktyk beteken. Hy sê bv in 1 Korintiërs 1:10: “Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging.” Die woord “eenstemmig” is letterlik in die Grieks: “dat julle almal dieselfde ding sê.” JD Barry sê hiervan dat: “Paul means that the Corinthian believers should all agree on how the Spirit works among them and the type of values that Christ would have them to hold — both of these things Paul clarifies within this letter. If the Corinthian Christ followers don’t say the same thing about what Christ expects of them and how the Spirit works among them, it will be difficult for people to find their message (and Christ Himself) reputable; thus, they will end up convincing others not to believe.” (Faithlife Study Bible) Vergelyk die ESV se vertaling van hierdie vers: “I appeal to you, brothers, by the name of our Lord Jesus Christ, that all of you agree, and that there be no divisions among you, but that you be united in the same mind and the same judgment.” Eensgesindheid is dus om “verenig” te wees in dieselfde gedagtes en oortuigings sodat die boodskap wat van die geloofsgemeenskap af uitgaan “eenstemmig” sal wees. Dat jy dieselfde goed by almal wat die Here Jesus volg, sal hoor.
Jesus bid daarby ook vir sy hereniging met die gelowiges dat hulle sy ware heerlikheid kan sien en sy liefde, dit beteken Hyself, volkome in hulle kan bly. Dit is die liefde wat in sy regverdige Vader was vir Hom. Dit is ‘n liefde wat hulle soos God ook met die geloofsgemeenskap wil deel. Dit bly dus die primêre Skrifgedeelte wat die eenheid van die gemeenskap van gelowiges as ’n fundamentele waarheid beskryf, wat altyd ’n aanmoediging sal bly om waar daar skeuring is, alles in ’n mens se vermoë te doen om die eenheid te herstel. Om eenstemmig en eensgesind te wees. Natuurlik, solank dit in die waarheid is, want dit is die manier waarop ‘n mens bymekaar bly, deur in die waarheid te bly.
Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-171-26-jesus-bid-passievol-vir-eenheid-in-sy-kerk/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar