Skip to main content

Openbaring 22:6-21 – Jesus beloon elkeen volgens sy optrede

29 Mei

Openbaring 22:6-21 – Jesus beloon elkeen volgens sy optrede

6Toe het die engel aan my gesê: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here, die God van die geeste van die profete, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur.” 7“Kyk, Ek kom gou! Gelukkig is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.” 8Ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval aan die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het. 9Maar hy het vir my gesê: “Moet dit nie doen nie! Ek is net ‘n dienskneg saam met jou en jou broers, die profete, en saam met diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol. Aanbid God!” 10Hy het ook vir my gesê: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die bestemde tyd is naby. 11Wie onreg pleeg, laat hy nog meer onreg pleeg; wie onrein is, laat hy nog meer onrein word; maar wie regverdig is, laat hy nog meer geregtigheid beoefen; en wie heilig is, laat hy nog meer heilig word.” 12“Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. 14Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan. 15Die honde bly buite, ook die towenaars en die hoereerders, die moordenaars en die afgodedienaars, en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen. 16“Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester.” 17En die Gees en die bruid sê: “Kom!” En laat elkeen wat luister, sê: “Kom!” En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet! 18Ek getuig teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor: “As iemand iets hieraan toevoeg, sal God die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is, aan hom toevoeg. 19En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem, sal God sy aandeel aan die boom van die lewe, en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.” 20Hy wat hierdie dinge getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus! 21Die genade van die Here Jesus bly by julle almal.

Die boek Openbaring sluit in hoofstuk 22 af met 1) ’n prentjie van die utopiese karakter van die Nuwe Jerusalem wat herinner aan die oorspronklike paradystuin van Eden in Genesis 2 sowel as die saligspreking van Psalm 1 wat ook met ’n boom metafoor werk – vers 1-5 en 2) ’n versekering van die Here Jesus Christus se wederkoms in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek – vers 6-21. Ons het al na vers 1-6 gekyk en fokus nou op die laaste perikoop. Die feit dat die woorde van dié boek as betroubaar en eg geag word, soos die engel aan Johannes te kenne gee, gee besondere krag aan die oproep aan elke gelowige om te volhard in gehoorsaamheid. Trouens, Jesus se eerste belofte van sy wederkoms word as saligspreking daaraan verbind: “Gelukkig is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.” Soos in Openbaring 19 is die oomblik só groot vir Johannes dat hy weer die boodskapper probeer aanbid, maar word weereens gehelp om sy fokus op God te plaas, terwyl hy ook aangemoedig word om die woorde van die profesie wyd te versprei weens die spoedige aard daarvan in belang van die lewens van mense.

Die waarskuwing in vers 11 oor “onreg en onreinheid” versus “regverdigheid en heiligheid” kan op twee maniere verstaan word. As ’n beskrywing van wat in werklikheid gebeur – sondaars hou aan met sondig, dié wat gehoorsaam is, groei in gehoorsaamheid – óf as ’n waarskuwing aan goddeloses dat hulle op ’n pad is wat na die verderf lei en omgekeerd ’n aanmoediging aan gelowiges dat hulle moet volhou op die pad wat na die volle gemeenskap met God lei. Die belofte van ‘n beloning van die Here Jesus word nie aan hulle saligheid gekoppel nie, maar aan hulle gehoorsaamheid. Dié gehoorsaamheid word gekontrasteer met die ongehoorsaamheid van diegene wat nie deel van die paradys sal hê nie – honde (seksuele perverte), towenaars, onsedelikes, moordenaars, afgodsaanbidders en leuenaars – ’n soortgelyke lys as wat in hoofstuk 21 gegee is. Die idee van ‘n beloning word regdeur die Bybel gevind en is ‘n belangrike deel van ons motivering om vir die Here te leef met alles wat ons het en is. Jesaja beskryf dit as die voorreg om die “vrug van ons dade te geniet” (Jes 3:10-11). Jesus beskryf dit as die vergoeding wat God gee vir dié wat ander help sonder om iets terug te verwag (Luk 14:14). Paulus beskryf dit as God se beloning vir ons werk. (1 Kor 3:8, 12-15; 9:17-18) Vergelyk ook die volgende verwysings: Job 34:11; Ps 28:4; 62:12; Jer 17:10; Matt 12:36; 16:27; Gal 6:7; Rom 2:2, 6-11, 16; 14:10-12; 2 Kor 5:10; Ef 6:8; Openb 2:23; 11:18; 20:12.

Die Gees en die bruid eggo die belofte van die Here Jesus se koms met die byvoeging dat daar nog genadetyd beskikbaar is vir dié wat dors het en luister. Hy is immers die Wortel en Nakomeling van Dawid (vgl Jes 11:1), die helder Môrester (Num 24:17). Johannes bevestig self oor die inhoud van sy boek dat dit gesagvol is, een van die redes waarom die boek uiteindelik in die kanon ingesluit is, komende van ’n apostel wat die Here Jesus op aarde geken het. Niemand mag hieraan verander nie, anders sal hy of sy nie net die plae wat in die boek beskryf is, ondervind nie, maar ook uit die Boek van die Lewe uitgeskryf word. Die boek sluit met die derde belofte van die Here Jesus Christus dat Hy op pad is om terug te keer, waarop die kerk asof in ’n liturgie antwoord: “Amen! Kom, Here Jesus!”, asook ’n seënbede in die naam van die Here Jesus en sy genade.

Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda