Johannes 14:8-17 – As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen
Johannes 14:8-17 – As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen
8Filippus sê toe vir Hom: “Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” 9Jesus sê vir hom: “Ek is al so ‘n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?’ 10Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self. 12Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan. 13En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik mag word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” 15“As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. 16En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. 17Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Die voorafgaande beskrywing van Jesus as die “weg” na die Vader lei ‘n verstommende ryk en diepsinnige beskrywing van die Christelike lewe in. Filippus vra na aanleiding daarvan dat Jesus hulle moet toelaat om die Vader te sien, soos ‘n Moses en die 70 oudstes, sowel as ‘n Jesaja van ouds (Eks 24:10; 33:18; 35:4-7; Jes 6:1). Jesus verwys Filippus dan na die lang tyd wat Hy al by hulle is. Dit kan mos nie wees dat Filippus Hom nie ken nie!? En as hy sy verhouding met Jesus na waarde skat, sal hy besef dat elkeen wat Jesus gesien het vir Wie Hy regtig is, het ook die Vader gesien (vgl Joh 1:18; 6:46; 12:45; Kol 1:25; Hebr 1:3).
Jesus beweeg dan na die betekenis wat dié geloof vir hulle sal hê. Elkeen wat in Jesus glo, sal ook die werke doen wat Jesus doen, die werke wat die Vader, wat in Hom woon deur Jesus, doen. Trouens, hulle sal groter werke doen as dit, omdat Jesus nou terugkeer na die Vader. “Groter” beteken hier waarskynlik “meer”, dws dit word numeries bedoel. Daar sal ‘n groter getal werke wees, want uiteraard sal daar meer gelowiges wees wat deur die Here gebruik word. Dit sal ook veral gebeur waar sy dissipels hulle gebedsverantwoordelikheid nakom en in Jesus se Naam tot God nader met die oog daarop dat God deur die gebedsverhoring verheerlik sal word (soos ons in Handelinge sal sien). Alles wat in die Naam van Jesus gevra word, sal Hy doen, want só sal die Vader in die Seun verheerlik word.
Maar, dit is natuurlik gerig aan diegene wat Hom liefhet en sy opdragte uitvoer. Liefde is immers gehoorsaamheid aan sy woorde. Gehoorsaamheid is liefde vir Jesus. Jou liefde word gewys deurdat jy sy opdragte uitvoer. Hoekom? Want Jesus wil hulle help om in dié liefde en gehoorsaamheid te groei. Hy wil hê dat hulle vir Hom lief sal bly, en dat hulle sal bly doen wat Jesus van hulle vra. Dit is waarom Jesus vir hulle die “ander Helper” (of Voorspraak) sal stuur (onthou Jesus is die eerste Voorspraak – 1 Joh. 2:1).
Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-1331-1431-julle-moet-mekaar-liefhe-soos-ek-julle-lief-gehad-het/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar