Handelinge 2:1-21 – Die uitstorting van die Heilige Gees vervul God se beloftes deur die profete
Handelinge 2:1-21 – Die uitstorting van die Heilige Gees vervul God se beloftes deur die profete
1Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Onverwags het daar uit die hemel ‘n geluid soos dié van ‘n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. 4En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek. 5Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. 6Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. 7Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? 8Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? 9Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, 11Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” 12Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” 13Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.” 14Daarop staan Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. 16Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig: 17“ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: ‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort – julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongmense sal visioene sien, en julle ou mense sal drome droom. 18Ja, ook oor my slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. 19En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk en tekens onder op die aarde: bloed en vuur en rookwolke. 20Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. 21Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, verlos word.’
Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na sy hemelvaart. Dit was met die Pinksterfees, ’n Joodse oesfees (Lev 23:15-16). Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die eerste teken dat Jesus deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Hom as die Christus. Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor. Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.
Petrus tree saam met die ander apostels op, hoewel net sy woorde deur Lukas weergegee word. En dit is interessant dat hierdie eerste preek ’n drie-deling het, (wat in die volksmond as ’n goeie dominees preek bestempel word!): 1) Hy verklaar wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees. 2) Hy beklemtoon die groot dinge wat God gedoen het, veral deur die opstanding van Jesus Christus. 3) Hy spel die implikasies daarvan vir die wêreld uit, dat Jesus die Here en die Christus is.
Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede. Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens. Dit wil lyk asof die kosmiese beskrywings met sy kragtige dade verbind word of dit kan natuurlik ook op die eindtyd vervulling dui. Petrus doen ook moeite om die Skrif se voorspellings aan die opstanding en die hemelvaart van Jesus te verbind en daarmee die band met die Skrif te bevestig.
Lees meer: https://bybelskool.com/handelinge-21-47-die-heilige-gees-maak-alle-gelowiges-getuies/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar