Skip to main content

Genesis 11:1-9 – God sorg dat die hele aarde bewoon, bewerk en bewaar word deur ‘n taalverwarring

30 Mei

Genesis 11:1-9 – God sorg dat die hele aarde bewoon, bewerk en bewaar word deur ‘n taalverwarring

1Die hele aarde het een taal gehad en dieselfde woorde. 2Met hulle trek na die ooste kom hulle toe af op ‘n vallei in die land Sinar en gaan woon daar. 3Hulle het vir mekaar gesê: “Kom ons maak kleistene en bak dit hard.” Die kleistene word toe hulle boustene, en asfalt word hulle messelklei. 4Hulle sê toe: “Kom ons bou vir ons ‘n stad en ‘n toring met sy bopunt in die hemel, sodat ons vir onsself naam maak; anders versprei ons oor die hele aarde.” 5Maar die Here het afgedaal om na die stad en die toring te kyk wat die mensekinders bou. 6Die Here sê toe: “Kyk, dit is een volk, en hulle almal het een taal, en dit is maar die begin van wat hulle gaan doen. Nou sal niks van wat hulle beplan om te doen, vir hulle onmoontlik wees nie. 7Kom, laat Ons afgaan en hulle taal daar verwar, dat die een nie die ander se taal verstaan nie.” 8Die Here het hulle daarvandaan oor die hele aarde versprei, en hulle het opgehou om die stad te bou. 9Daarom word dit Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar. Daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde versprei.

Dit is duidelik dat die Here sy plan om die mens te gebruik om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar nie laat vaar nie. Hy keer met die taalverwarring dat ‘n sekulêre en godlose beskawing in Babel (in die land Sinar) tot stand kom wat sy planne met die mens sou fnuik. Watter wonderlike getuienis van God se werk agter en deur alles wat ‘n impak het regdeur die geskiedenis. Dit herinner my aan Richard Niebuhr se stelling dat ons altyd met dié God moet rekening hou in alles wat ons doen: “God is acting in all actions upon you. So respond to all action upon you as to respond to his action.” In die eerste vers lees ons dat die hele aarde een taal (“een lip” soos dit letterlik daar staan) gehad het. ‘n Mens kry nie ‘n direkte ooreenkoms hiermee in van die antieke verhale nie, hoewel daar tog in die Sumeriese epos, Enmerkar en die Heer van Aratta, die versugting na en droom van een wêreldtaal voorkom, hoewel die betekenis moeilik ontsyferbaar is. Sommige beskou dié versugting as die beskrywing van ‘n vervloë goue tydperk. Ander dink dat dit as ‘n droom vir die toekoms gesien moet word.

In hulle migrasie na die ooste het hulle in Sinar (Babilonië) in Mesopotamië gekom en daar gaan woon. Daar is nie antieke verhale wat ooreenkom met die bou van die toring van Babel nie, alhoewel die bou van ziggoerats wydverspreid in Babilonië voorgekom het. Die toring van Babel is waarskynlik in die vorm van dié struktuur gebou wat bestaan het uit ‘n aantal trappe of terrasse wat soos ‘n piramide al hoe smaller word na bo, maar waar anders as met ‘n piramide, daar ‘n platvlak was bo waar offers gebring is. Dit is ook van stene gebou, presies soos dit hier beskryf is: “Kom ons maak kleistene en bak dit hard.” In plaas van klip het hulle dus gebakte kleistene gebruik, en in plaas van klei vir die messelwerk, asfalt, wat meer duursaam was. Die feit dat hulle die toring wou bou: “met sy bopunt in die hemel”, is waarskynlik ‘n aanduiding daarvan dat hulle die grens tussen mens en God wou oorsteek, waarvan die verhaal van die “hemelwesens” in Genesis 6 die teenoorgestelde grensoorskryding beskryf, van die hemel na die aarde. Die mens wou vir hulleself ‘n naam maak onafhanklik van God self, maar daarmee het hulle hulleself in sy plek geplaas. Dat God “afdaal” om te kyk na wat hulle aanvang, gee ‘n stukkie ironiese kommentaar op die eerste poging van die mens om sonder God ‘n beskawing te bou. Net soos dit die geval was met Kain wat ‘n beskawing gebou het sonder God, só doen die mens dit ná die vloed weer. Anders as met Set se nageslag wat die naam van die Here aangeroep het, maak die mens vir hulleself naam en vind hulle identiteit in hulle eie prestasies.

Dit is daarom besonder interessant om die botsing van bedoelinge in dié verhaal raak te sien. God se bedoeling van die begin af is dat mense oor die hele aarde sal versprei. Hy het hulle geseën om vrugbaar te wees en die aarde te bewoon, bewerk en bewaar. Die mens se bedoeling in hierdie oergeskiedenis is om op een plek te bly, ‘n stad te bou met ‘n toring wat aan die hemel raak, om so beroemd te raak vir hulle prestasies en ‘n naam te maak vir hulleself. Die res van die skepping kan, volgens hulle, gerus maar aan hulleself oorgelaat word. Naas die bedreiging van die “sondeval” (Gen 3) en “broedermoord” (Gen 4) is hierdie dus ‘n derde bedreiging, die bedreiging wat kom deurdat die mense die aarde aan homself oorlaat. Dit sou een van die gevolge wees van die poging om in die vlakte van Sinar ’n tuiste vir almal te vind. Die aarde sou gevolglik nie bewoon, bewerk en bewaar kon word nie. Die Here besluit om hulle taal te verwar om hulle te stuit in hulle poging om ‘n koninkryk sonder Hom op te rig. Maar, daarmee het Hy nie bedoel dat Hy teen ontwikkeling of beskawing is nie. Hy wou eerder ’n tuiskoms verseker – vir mense, plante en diere – oor die hele aarde. Die toring van Babel het in die pad van dié doelwit van God gestaan. Trouens, soos Wenham sê: “Genesis holds that the confusion of languages is a divine antidote to human arrogance.

In dié verband is dit merkwaardig om die droom van die profeet Sefanja – ‘n tydgenoot van Jeremia, Nahum, Obadja en moontlik Joël, wat verantwoordelik was vir die negende boek van die Twaalf Kleiner Profete – in ag te neem. Hy droom van ‘n tyd wat die “lippe” van die nasies weer rein gemaak sal word, om die Here te aanbid (Sef 3:9). Sommige verbind dié reinheid met ‘n suiwer taal, soos dit inderdaad vertaal kan word: “For then will I turn to the people a pure language.” (KJV). Soos Peterson ook vertaal: “In the end I will turn things around for the people. I’ll give them a language undistorted, unpolluted, Words to address God in worship and, united, to serve me with their shoulders to the wheel.” (The Message). Dié gedagte word ‘n werklikheid met die talewonder op Pinksterdag waar Petrus en die ander dissipels waarskynlik Noordwes Aramees (moontlik ‘n Galilese dialek), die omgangstaal in die tyd van Jesus, praat, maar godvresende Jode, uit die vyftien nasies wat daar genoem word, die boodskap in hulle eie taal hoor soos die Heilige Gees dit moontlik gemaak het (Hand 2).

Lees meer: https://bybelskool.com/genesis-11-god-bring-n-taalverwarring-en-beweeg-tera-om-na-kanaan-te-trek/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…