Skip to main content

Johannes 10:22-30 – Ek gee my skape die ewige lewe; niemand sal hulle uit ONS hand ruk nie

3 Mei

Johannes 10:22-30 – Ek gee my skape die ewige lewe; niemand sal hulle uit ONS hand ruk nie

22In daardie tyd het die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem plaasgevind. Dit was winter, 23en Jesus het op die tempelterrein rondbeweeg, in die Pilaargang van Salomo. 24Die Jode het toe om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit openlik vir ons.” 25Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, dit getuig van My. 26Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”

Met die fees van die tempelwyding – die herdenking van die verlossing uit Siriese onderdrukking in die 2de eeu vC deur die Makkabeërs (Hanukkah – die fees van die ligte) – gaan die gesprek met die Joodse leiers voort, hierdie keer oor sy Messiaanse (= Christus) karakter, al dan nie. Jesus was besig om in die tempel rond te loop in die pilaargang van Salomo tussen die tempel en die paleis van die koning (1 Kon 7:6). Dit was ‘n plek waar mense vergader het vir gesprekke en waar selfs heidene welkom was. Daarom het die eerste Christene ook hier bymekaar gekom (Hand 3:11; 5:12). Die Jode drom om Jesus saam en vra dat Hy ronduit sal verklaar dat Hy die Christus is. Hulle gebruik ‘n Griekse idioom wat beteken “hoe lank hou jy ons in onsekerheid?”

Soos die vorige keer beklemtoon Jesus dat ’n mens sy Messiasskap net kan begryp, as jy in Hom glo en in verhouding met Hom lewe – dws een van sy skape sou wees. En dit is die ongelowige Jode nie. Daarom kan selfs die dade wat Jesus doen, wat bewys dat Hy God is, hulle nie oortuig nie. Tussendeur verseker Hy dié wat wel in Hom glo dat dit vir hulle die ewige lewe beteken en dat niemand hulle uit sy hand sal kan ruk nie. Trouens, min mense lees dit raak dat Jesus hierdie “vashou-aksie” ook aan God die Vader se optrede koppel: “My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” Dit is die enigste ware basis van sekerheid in hierdie lewe – dat die Drie-enige God jou vashou.

Dit is waarskynlik een van die grootste openbarings van Jesus tot dusver. Nie net bevestig Hy dat God groter is as enigiets of enigiemand wat bestaan nie. Jesus openbaar dat Hy Een is met Hom. Sy woorde is ‘n duidelike verwysing na die Sjema wat die Jode elke dag opgesê het: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.” (Deut 6:4). Daarop is die eerste liefdesgebod gebaseer: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” (Deut 6:5). Jesus bevestig dus nie net sy Messiasskap nie. Hy bevestig sy Goddelikheid deur van sy Eenheid met sy Vader te praat. En dit is hierdie God wat ons as gelowiges vashou!

Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-101-42-die-goeie-herder-se-skape-ken-sy-stem/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar