Handelinge 9:32-43 – God sien gewone mense raak en raak hulle lewens aan
Handelinge 9:32-43 – God sien gewone mense raak en raak hulle lewens aan
32Petrus het oral rondgereis, en ook by die heiliges wat in Lidda woon, aangekom. 33Daar het hy ‘n man teëgekom met die naam Eneas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. 34Petrus het vir hom gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. 35Al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien, en hulle tot die Here gewend. 36In Joppe was daar ‘n sekere vrouedissipel met die naam Tabita, wat as Dorkas vertaal is. Sy het baie goeie dade verrig en liefdadigheid bewys. 37In daardie dae het sy siek geword en gesterf. Hulle het haar gewas en in ‘n bovertrek neergelê. 38Aangesien Lidda naby Joppe was, het die dissipels, toe hulle hoor dat Petrus daar is, twee mans na hom gestuur met die versoek: “Kom sonder uitstel na ons toe!” 39Petrus het toe gereedgemaak en saam met hulle gegaan. Toe hy daar aankom, het hulle hom na die bovertrek geneem. Al die weduwees het huilend by hom kom staan, en vir hom die onder- en boklere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. 40Nadat Petrus almal na buite gestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy hom na die liggaam omgedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, en toe sy Petrus sien, het sy regop gaan sit. 41Hy het sy hand vir haar gegee en haar help opstaan. Toe het hy die heiliges en die weduwees geroep, en haar lewend aan hulle getoon. 42Dit het dwarsdeur die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom. 43Petrus het nog ‘n hele paar dae in Joppe by ‘n sekere Simon, die leerlooier, gebly.
Terwyl die Here Jesus besig is om vir Paulus te vorm in die nuwe mens wat hy moet wees (Hand 9:1-31), is Hy ook besig om te werk aan die ander man wat Hy gebruik in die vroeë kerk, Simon Bar-Jona of te wel Petrus, soos Jesus Hom genoem het. “While Saul prayed, Peter was used to open the way for a ministry to the world” (Ogilvie). Voordat Lukas egter beskrywe hoe die eerste heidene deur die optrede van Petrus in die kerk opgeneem is (Hand 10), vertel hy ons van twee wonderwerke wat deur Petrus verrig is wat vir ons wys dat God vir gewone mense omgee. Die eerste was die verlamde en bedlêende Eneas wat genees word. Iemand wat nie ‘n groot rol in die gemeenskap gespeel het nie, maar steeds met die lewegewende krag van Jesus aangeraak word. Die tweede was die vrouedissipel Tabita wat uit die dood uit opgewek word. Sy was van groot waarde vir die geloofsgemeenskap, maar tog steeds ‘n gewone vrou in ‘n klein dorpie, maar wat bekend was dat sy goed gedoen en besonder mededeelsaam was.
Tabita word ‘n vrouedissipel (Grieks mathetria) genoem wat baie insiggewend is. Dié vroulike vorm van die woord kom net hier in die Nuwe Testament voor. Sy was altyd besig en bekend vir haar “baie goeie dade” en “liefdadigheid.” ‘n Besige by in die goeie sin van die woord! ‘n Mens lei af dat sy een van daardie besondere mense was wat oor grense heen barmhartigheid verleen het. Sy het ‘n Joodse en ‘n Griekse naam gehad, Tabita en Dorkas (albei name beteken “ribbok”), want beide die Jode en die Grieke het in haar barmhartigheid ‘n heenkome gevind. Sy het nie gediskrimineer tussen groepe nie. In haar barmhartigheid het sy dit reggekry om oor grense liefde te bewys. Dit is juis wat groot en belangrike mense baie keer nie kan regkry nie!
Wat ons moet raaksien, is dat dit God is wat Hom ontferm oor Tabita. Vir Hom is mense wat barmhartigheid verleen belangrik. Hy ontferm hom en gee die lewe terug aan Tabita – sodat sy kan voortgaan om ander te help en hulle lewe mooi te maak. God is nie so besig met die groot werke van die geskiedenis dat hy die kleintjies wat aan hom behoort, vergeet nie. Die Here is nie net geïnteresseerd in die vernames soos Saulus en Petrus nie, maar ook in die gewones soos Eneas en Tabita, die vele gewone weldoeners in die wêreld. Soos Tom Wright sê: “Do not belittle the ministry of stitching, sewing, knitting and generally providing for the needs of the larger community – especially at a time before anyone dreamed of mass-produced clothes. And do not forget to celebrate, as Luke does here, the fact that the apparently ordinary people are not ordinary to God, and that when we tell the story of the great sweep of God’s purposes in history there are, at every point, the Aeneases and the Dorcases who smile out of the page at us, like the robin in the garden, and remind us what it’s really all about. Luke is right to draw our eyes down to the small-scale and immediate, in case we should ever forget that these are the people who form the heart of the church, while the apostles and evangelists go about making important decisions, getting locked up, stoned on, shipwrecked, preaching great sermons, writing great letters, and generally being great and good all over the place.”
Lees meer (‘n vroeëre preek van my): https://ngkerksomerstrand.co.za/handelinge-932-42-god-gee-vir-gewone-mense-om-son-18-april-2010/
Lees ook my bydrae oor geloof en genesing waarin ek die uitstekende boek van Craig Keener oor wonderwerke bespreek: https://bybelskool.com/watter-rol-speel-geloof-in-genesings/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar