Jesaja 43:10-15 – Ek sal optree, en wie kan dit ongedaan maak?
4 Januarie

Jesaja 43:10-15 – Ek sal optree, en wie kan dit ongedaan maak?
10“Julle is my getuies,” is die uitspraak van die Here, “my dienskneg wat Ek uitgekies het, sodat julle My kan ken, in My kan glo, en kan insien dat dit Ek is. Voor My is daar nie ‘n god gevorm nie, en ná My sal daar nie een wees nie. 11Ek, ja, Ek is die Here, en daar is geen verlosser buiten My nie. 12Ek is die Een wat dit bekend gemaak het; Ek het verlos en dit aangekondig – Ek, nie ‘n vreemde onder julle nie. En julle is my getuies,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek God is. 13Ook voortaan is Ek die Een; uit my hand kan niemand red nie. Ek sal optree, en wie kan dit ongedaan maak?” 14So sê die Here, julle losser, die Heilige van Israel: “Ter wille van julle stuur Ek iemand na Babel; Ek laat vlugtelinge ondergaan, almal van hulle, die Galdeërs, op die skepe waaroor hulle jubel. 15Ek is die Here, julle Heilige, die Skepper van Israel, julle Koning.”
In hierdie volgende deel van Jesaja 43 word dit al hoe duideliker dat die talle beloftes van God in en deur die Dienskneg van die Here vervul word. Hy is die Een wat uitgekies is om die volk te help om God te ken, om in Hom te kan glo, en te kan insien dat Hy werklik God is.
Dié boodskap maak van die ballingskap ‘n geleentheid vir groei, vorming en nuwe gehoorsaamheid. Hierdie boodskap maak die ballingskap ‘n reinigende smeltkroes eerder as ‘n vernietigende vullishoop. Die ballingskap sou ‘n vullishoop vir Israel kon word. Antieke vullishope was immers die plek waar giftige afval, die uitskot van menslike lewe, verbrand en vernietig is. God se beloftes en die vervulling daarvan deur die Dienskneg van die Here maak van die ballingskap egter ‘n smeltkroes waardeur die volk gereinig en gereed gemaak word vir die nuwe uitdaging van gehoorsaamheid.
Ons kan dus soos hulle moed skep. God is nie ‘n vreemdeling onder ons nie. Hy neem selfs die slegte en die wrange gevolge van ons dwase keuses en bou dit om tot kreatiewe ruimtes vir nuwe geleenthede. Dink na oor jou eie ervarings van vasgevalde situasies. Neem die beloftes van herstel in hierdie gedeelte as getuienis van God se goedheid wat ook jou onbesonne optredes kan omdraai. God is daar. Hy is die enigste God. Hy is die enigste wat vooraf kan sê wat sal gebeur en dit dan deurvoer. Hy dra jou en jou laste dag vir dag (Ps 68:20). Hy beloon dié wat na Hom soek (Hebr 11:6). Of soos Die Boodskap vertaal: Hy sal jou “met oop arms ontvang.” “He cares enough to respond” (The Message).
(Ons kom later in die jaar weer terug na Jesaja 43 en die verwante gedeelte in 2 Korintiërs 5)
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-42-43-die-dienaar-van-die-here-leer-mense-om-god-te-ken/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar