Skip to main content

Psalm 29 – Die Here gee krag aan sy volk, en seën hulle met vrede

5 Januarie

Psalm 29 – Die Here gee krag aan sy volk, en seën hulle met vrede

1‘n Psalm. Van Dawid. Gee eer aan die Here, godeseuns! Gee eer aan die Here vir sy heerlikheid en krag! 2Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid. 3Die stem van die Here is oor die waters, die God van heerlikheid laat dit dreun, die Here is bo die magtige waters, 4die stem van die Here is kragtig, die stem van die Here is glansryk. 5Die stem van die Here breek seders, die Here versplinter die seders van die Libanon. 6Hy laat hulle bokspring soos ‘n kalf, Libanon en Sirjon soos jong buffels. 7Die stem van die Here splyt rotse met vlamme. 8Die stem van die Here laat die woestyn bewe, die Here laat die woestyn by Kades bewe. 9Die stem van die Here laat wildsbokke lam, dit stroop bosse kaal. Sy hele paleis sê: “Heerlikheid!” 10Die Here troon oor die vloed, ja, die Here troon as koning vir ewig. 11Die Here gee krag aan sy volk, die Here seën sy volk met vrede.

’n Mens kan dink, selfs al doen jy baie moeite om die Bybel daagliks te lees, dat God se stem net soos ’n bandopname is. Iets wat in die verlede van krag was, maar nie meer so sterk vandag funksioneer nie. Psalm 29 herinner ons egter daaraan dat die stem van die Here nie maar net ’n opname uit die verre verlede is nie, maar ’n lewendige uitsending, wat hier en nou effektief is. Soos die weerlig die seders versplinter, so is die stem van die Here wat die belofte bring dat Hy krag gee aan sy volk; dat Hy sy volk seën met vrede (vers 11). As gelowiges kan ons daarop staatmaak. Hy sal van Hom laat hoor, sodat ons met krag en vrede gevul kan word.

Die Psalm bely dus tereg dat hierdie Here meer is as die kragte en fenomene van die natuur (anders as in die Baälgodsdiens). God is wel die immanente Een wat in die natuur en die natuurkragte teenwoordig is. Maar, Hy is ook transendent daarbo verhewe. Soos onder andere in die opdragte aan die “seuns van God” in vers 1 gesien kan word. God se stem het dus ‘n alles veranderende krag. Hy laat van Hom hoor in die hemel en op die aarde!

God is egter ook die Een wat “troon” oor die vloed, omdat Hy die koning is vir ewig. Hy kan dus ook die storms tot bedaring bring, soos Jesus dit ‘n paar keer In die NT gedoen het (Mrk 4:35-41). Daarom is Hy die Een aan wie ons eer verskuldig is. Wat Hom verheerlik vir die krag en vrede wat Hy bring. Wat voor Hom neerbuig en Hom aanbid vir sy glansryke heiligheid.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-29-die-god-van-die-natuur-sorg-ook-vir-sy-kinders/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar