Jes 43:16-21 – Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit
Jes 43:16-21 – Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit
16So sê die Here, wat in die see ‘n pad maak, ‘n deurgang in die magtige waters, 17wat strydwaens en perde laat opruk, ‘n leërmag, ja, ‘n magtige een – saam lê hulle daar, hulle staan nie op nie; hulle is geblus, soos ‘n lamppit uitgedoof – 18“Moenie dinge van vroeër in herinnering roep nie; op vorige gebeure moet julle nie die aandag vestig nie. 19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit gaan nou uitspruit. Kan julle dit nie besef nie? Selfs in die woestyn sal Ek ‘n pad maak, in die wildernis riviere. 20Die wilde diere sal My eer, die jakkalse en steenuile, omdat Ek water in die woestyn, ja, riviere in die wildernis gee, om my uitverkore volk te laat drink. 21Die volk wat Ek vir my gevorm het – my lof sal hulle verkondig.
Jesaja 43 is ryk aan beloftes. Ons het in Januarie al twee perikope daaruit gelees. Jesaja 43:1-7, waarin ons die belofte gehoor het dat ons kosbaar is in God se oë; dat ons behoort aan Hom. Jesaja 43:10-15, waarin ons die belofte gehoor het dat God sal optree, en wie kan dit ongedaan maak? Daar het ons gehoor dat God se beloftes ten doel het dat Hy ‘n nuwe begin met ons kan maak as ons afgedwaal het. Dat Hy dit doen ter wille van ons, sodat ons Hom weer kan ken en in Hom kan glo. Dat Hy dit doen, sodat ons weer die verlossende woorde kan toeëien: “Jy is Myne.”
Maar, dit beteken terselfdertyd dat dit nie net ter wille van onsself is wat God ons lot verander en ‘n nuwe begin vir ons moontlik maak nie. Dit is waaroor vandag se leeswerk in Jesaja 43:16-21 gaan. God verlos ons ook ter wille van Homself, want Hy het ons “vir Hom” geskep, sodat ons sy lof kan verkondig. Hy wil ons verlos sodat ons sy getuies in hierdie wêreld kan wees. En die rede daarvoor word in die volgende gedeelte uitgespel, as jy vandag jou leeswerk met die volle prentjie wil afrond. Dat God op dié manier getrou bly aan Homself, selfs al moet Hy telkens die eerste stap neem om ons tot Hom te bekeer (Jes 43:22-28). Dit is nog ‘n groot belofte!
Let op hoe God in vandag se gedeelte sy vernuwende werk begrond in dinge wat Hy al in die verlede gedoen het. Hy het ‘n pad deur die Rooi See gemaak in die woestyn. Hy het die farao se soldate met die terug stromende waters uitgewis: “Saam lê hulle daar, hulle staan nie op nie; hulle is geblus, soos ‘n lamppit uitgedoof!” Maar, die Here sê terselfdertyd: “Moenie die dinge van vroeër in herinnering roep nie!” Interessant! Daarmee sê die Here eintlik twee goed. Aan die een kant moet hulle nie langer hulle verknies oor hulle sonde en die ballingskap nie. Die Here gaan iets nuuts doen. Hy gaan hulle verlos. Maar, miskien nog dieper, sê die Here aan die ander kant: “You ain’t see nothing yet!” Die dinge wat Ek gaan doen, gaan só omvattend nuut wees dat die hele skepping daarvan sal weerklink. Die dorre aarde sal waterryk raak. Die diere sal neerval om My te eer. Daar sal genoeg water wees om my uitverkore volk hulle dors te laat les. En die volk wat Ek “vir My” gevorm het, sal my lof aan almal verkondig. Watter droom van ‘n belofte! God sal jou lot verander, sodat jy oral daarvan kan vertel. Want, dit sal aan Hom die eer bring wat Hom toekom!
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-42-43-die-dienaar-van-die-here-leer-mense-om-god-te-ken/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar