Skip to main content

Josua 5:1-15 – God gee moed vir die stryd deur sigbare tekens

27 Maart

Josua 5:1-15 – God gee moed vir die stryd deur sigbare tekens

1Toe al die konings van die Amoriete aan die westekant van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete langs die see hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het totdat hulle deurgetrek het, het hulle harte ineengekrimp, sodat hulle nie meer moed gehad het vir die Israeliete nie. 2In dié tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny weer die Israeliete ‘n tweede keer.” 3Josua het toe vir hom klipmesse gemaak en die Israeliete besny by Ghibeat Ha-araloot. 4En dit is die rede waarom Josua die besnydenis moes doen: Die hele volk wat uit Egipte getrek het, die mans, al die krygsmanne, is op pad in die woestyn dood, gedurende die uittog uit Egipte. 5Die hele volk wat weggetrek het, was immers besny; maar al die volksgenote wat in die woestyn gebore is terwyl hulle op pad was, gedurende hulle uittog uit Egipte, is nie besny nie. 6Want veertig jaar lank het die Israeliete in die woestyn rondbeweeg, totdat die hele nasie krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, tot niet was, hulle wat nie na die stem van die Here geluister het nie, vir wie die Here gesweer het dat Hy hulle nie die land sal laat sien wat die Here aan hulle voorvaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee nie – ‘n land wat oorloop van melk en heuning. 7Maar hulle kinders het Hy in hulle plek gestel. Dit is hulle wat Josua besny het, want hulle was onbesnede, omdat hulle nie op pad besny is nie. 8Toe die hele volk klaar besny is, het hulle net waar hulle was in die kamp gebly, totdat hulle gesond was. 9Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek die bespotting van Egipte van julle afgewerp.” Daarom is die naam van hierdie plek Gilgal; dit is vandag nog so. 10Terwyl die Israeliete by Gilgal gekamp het, het hulle op die veertiende dag van die maand teen die aand die Pasga gevier in die vlaktes by Jerigo. 11Die dag ná die Pasga, presies op daardie dag, het hulle van die vrug van die land geëet – ongesuurde brood en gebraaide koring. 12Die manna het opgehou die dag ná hulle van die vrug van die land geëet het. Daar was nie meer manna vir die Israeliete nie. Hulle het in daardie jaar van die opbrengs van die land Kanaän geëet. 13Toe Josua naby Jerigo was, het hy opgekyk. Reg voor hom staan daar skielik ‘n man met ‘n ontblote swaard in sy hand. Josua gaan toe na hom en vra hom: “Is Jy vir ons, of vir ons vyande?” 14Hy het geantwoord: “Nee, maar Ek is die bevelvoerder van die leër van die Here; daarom het Ek gekom.” Josua het neergeval met sy gesig teen die grond, diep neergebuig, en vir Hom gesê: “Wat wil my Heer vir sy dienaar sê?” 15Die bevelvoerder van die leër van die Here het Josua geantwoord: “Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilig.” Josua het toe so gemaak.

In die eerste vier hoofstukke van Josua vertel die skrywer vir ons hoe die Here Israel se geestelike verbintenis aan Hom al hoe stewiger gemaak het. In die eerste plek was daar die belofte van God se teenwoordigheid saam met die opdrag om nougeset volgens sy Woord op te tree (Jos 1). In die tweede plek het die twee verkenners die volk laat moed skep met die verhaal van Ragab. Israel het nou geweet dat daar alreeds mense in Kanaän was wat, soos hulle, die Here gedien het, en deur Hom beskerm is (Jos 2). In die derde plek het die Here die noodsaak van absolute gehoorsaamheid aan sy begeleiding onderstreep met die verbondsark wat die voortou in die volk se Intog moet neem. In aansluiting daarby het die reiniging van die hele volk gevolg om hulle voor te berei vir die tog deur die Jordaan. Dit is gevolg deur die wonder van die opdamming van die rivier – soos met die Rietsee – sodat hulle droogvoets kon deurtrek (Jos 3-4). Dit word nou in hoofstuk vyf deur drie ander geestelike insette – sigbare tekens – in hulle lewens gevolg.

1) Josua kry die opdrag om klipmesse (van vuurklip) te maak en al die Israeliete te besny as teken daarvan dat hulle aan die Godsvolk behoort. Die feit dat klipmesse gebruik is, bring onmiddellik die soortgelyke handeling van Sippora in herinnering. Sy het haar seun Gersom se voorhuid afgesny om die toorn van die Here oor Moses se nalatigheid om dit te doen, af te weer (Eks 4). Die besnydenis was regtig ‘n fundamentele vereiste vir die volk van God. Die eerste geslag Israeliete in die woestyn het, nes Moses met sy seun, in gebreke gebly om die besnydenis van hulle kinders in stand te hou. Die tweede geslag het dus as onbesnedenes die land betree. Hulle word nou net ná die Intog in die beloofde land opgeroep om dit reg te stel. Want, dit is ‘n fundamentele vereiste van die verbond. Hulle sou net as deel van die verbondsvolk aan die “Heilige Oorlog” kon deelneem. Daar moes dus weer ‘n besnydenis wees. Die teks sê ‘n “tweede keer”. Dit gryp waarskynlik terug na die “eerste keer” toe Abraham sy hele familie besny. Soos almal in sy tyd besny is, só word hierdie tweede geslag Israeliete nou besny. Daarmee het die Here die Israeliete bevry van: “die bespotting (smaad) van Egipte. Letterlik staan daar dat die smaad van Egipte “weggerol” is van hulle, ‘n woord wat ook die stam (gll) vir die naam Gilgal (gilgāl) vorm. Gilgal – die “heuwel van voorhuide” of te wel Ghibeat Ha-araloot – word daarmee ook die Israeliete se basis.

2) Net hierna word die eerste paasfees in die land Kanaän gevier waarmee hulle bevryding uit Egipte herdenk en in stand gehou is. Dit was ‘n uiters belangrike opvolg van die besnydenis, want net dié wat aan die geloofsgemeenskap behoort het (deur die besnydenis), kon deelneem aan die paasfees en die boodskap van verlossing daarin vir hulleself toeëien. Dit was ‘n sigbare teken van hulle voortgaande deel wees van die geloofsgemeenskap. Soos dit die geval ook in die Nuwe Testamentiese geloofsgemeenskap is met die doop (inlywing) en die nagmaal (inblywing). Let op dat die manna hierna wegbly, want hierdie wondervoorsiening van die Here was nie meer nodig nie. Hulle was nou in die land van melk en heuning. Hulle kon die opbrengs van die land gebruik. Dit sou nou voortaan die voorsiening van die Here wees.

3) Dan op pad na Jerigo verskyn daar skielik ‘n man met ‘n ontblote swaard in sy hand, die bevelvoerder van die leër van die Here, ‘n sigbare teken van God se teenwoordigheid. Let op dat Josua hom aanspreek as “my Heer” en dat die bevelvoerder dieselfde opdrag vir Josua gee as toentertyd vir Moses by die brandende doringbos, om sy sandale uit te trek weens die heiligheid van die plek (Eks 3). Dit is dus die Here self wat hulle in die geveg sal begelei. God gee dus hierdeur op ‘n sigbare wyse vir Josua moed om die stryd in God se Naam aan te pak. Let ook op dat die bevelvoerder nie kant kies tussen Josua-hulle en hulle vyande nie, toe Josua Hom daaroor uitvra nie, maar doodgewoon verklaar dat Hy nou gekom het om die oordeel van God op die volke van Kanaän uit te voer. Dit is ‘n “Heilige Oorlog”.  Die vraag is dus eerder aan wie se kant Josua en die volk gaan wees. Waar hulle die kant van die Here kies, en sy opdragte uitvoer, sal hulle aan die doel van hulle bestaan kan beantwoord. Dit is, om die beloofde land in te neem.

Lees meer: https://bybelskool.com/josua-52-12-die-godsvolk-word-bevestig-deur-die-besnydenis-en-die-viering-van-die-paasfees/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.