Psalm 126 – Dié wat met trane saai, sal met gejuig maai
Ps 126 – Dié wat met trane saai, sal met gejuig maai
1‘n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was ons soos mense wat droom. 2Daarna is ons monde met gelag gevul, ons tonge met jubelkrete. Toe is onder die nasies gesê: “Die Here het iets groots gedoen aan hierdie mense.” 3Die Here het iets groots aan ons gedoen. Ons was verheug. 4Verander weer ons lot, Here, soos stroombeddings in die Negev. 5Dié wat met trane saai, sal met jubelkrete maai. 6Die draer van die saadsak wat loop en huil, sal beslis terugkom met jubelkrete terwyl hy sy gerwe dra.
Die Psalmis herinner die pelgrims aan die lotsverandering van Sion met die terugkeer uit ballingskap. Dit was tegelykertyd iets so onwerklik soos in ‘n droom en iets wat die verbeelding aangegryp het. Dit het hulle monde met gelag en hulle lewens met gejuig gevul. Dit het hulle oortuig dat die Here dit goed bedoel het met hulle. En die nasies is met ontsag vir God gevul: “Die Here het iets groots gedoen aan hierdie mense.”
Maar hulle het ook geweet dat die terugkeer na die land en na God (Jer 30:3), nie net politiese en godsdienstige dimensies sou insluit nie, maar ook ekonomiese en ekologiese dimensies (Am 9:14). Dit is immers so uitvoerig in Jeremia se Boek van Vertroosting uitgespel, onder andere met ‘n grondkooptransaksie (Jer 30-34). En dié toekoms het nog nie voluit aangebreek nie. Daarom is die Psalm nie net ‘n loflied wat die Here prys vir die feit dat Hy iets groots aan hulle gedoen het nie, maar ook ‘n gebed: “Verander weer ons lot, Here.” Daar was net te veel dinge wat nie reg was nie, veral in terme van die situasie in die land wat weer heropgebou moes word, en hulle boerderye wat weer ekonomies aan die gang moes kom. Die terugkeer uit ballingskap het God se goeie bedoelings met hulle bevestig. Daarom kon hulle met vertroue die Here nader om nou weer hulle lot te verander. Die Psalmis gebruik die beeld van die stroombeddings in die Negev (woestyn in die Suide) wat in ‘n oogwink in ‘n vloedwater kan verander met goeie reëns. Dít is wat hulle van die Here vra dat Hy hulle droë lewens weer vrugbaar sal maak. Sy gebed is egter ook ‘n verbintenis om die saad te saai, al is dit al huilende en met trane in die oë. Die situasie wat moontlik agter hierdie metafoor sit, is die feit dat ‘n deel van die koringsaad uiteindelik teruggehou moes word, om te sorg dat daar in die volgende seisoen weer brood is vir die familie. Alles kan nie gemaal word vir brood nie. ‘n Deel moes teruggehou word om ‘n toekoms te verseker, al is dit met trane omdat dit moontlik nou swaar is vir die familie om broodsgebrek te lei, totdat die saad vrug gedra en ‘n opbrengs gebring het. Maar, hulle is steeds afhanklik van die Here vir die reën en die groei. Sonder die saai van die saad sal niemand die vrug sien nie. Maar, sonder die Here se seën sal die saai van die saad geen vrug oplewer nie. Die Psalmis vertrou daarom die Here dat die Here sal sorg dat hulle met gejuig kan maai en die oes van gerwe sal geniet, al beteken dit nou opoffering en hartseer.
Jesus verwys in die NT op dieselfde wyse na sy dood en opstanding: “As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.” (Joh 12:24). Daarmee gee Hy ons ‘n soortgelyke model en belofte vir die lewe, soos die Psalm sê: “Dié wat met trane saai, sal met gejuig maai.” Dit is steeds vandag die model vir ons geestelike lewe. Dit is steeds gebaseer op die vertroue wat ons in die Here kan hê. Soos Hy Homself al in ons lewe bewys het dat Hy ons lot kan verander, só kan ons Hom vertrou om dit weer te doen.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-126-die-wat-met-trane-saai-sal-met-gejuig-maai/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar