Jeremia 40:7-41:18 – Juda word verder lamgelê in ’n leierskapstryd
Hierdie hoofstuk gee vir ons perspektief op die dilemma waarin die agtergeblewe Joodse gemeenskap verkeer het ná die koning en ander leiers weggevoer is. Hulle was onmiddellik veral in die krisis van ’n leierskapstryd gedompel.
Aan die eenkant het Nebukadnesar vir Gedalja – een van die vier amptenare wat in Sedekia se tyd leiding geneem het – in bevel van die land geplaas. Gedalja was ’n voorstander van onderhorigheid aan Nebukadnesar en Babel. Hy kon egter nie die uitdagings om dié volk te lei, hanteer nie, selfs nie toe hy gewaarsku word teen die ander leiers wat hom wou doodmaak nie.
Aan die ander kant het daar militêre leiers oorgebly wat hulleself aanvanklik onder Gedalja se goewerneurskap kom stel het, maar gou probleme met hom ondervind het. Onder hulle was daar Ismael en Joganan wat elkeen sy eie rol sou speel in die magstryd wat hier ontvou. Daarom word die twee ook eerste genoem in die lysie van bevelhebbers in vers 8.
Let op hoe elkeen van dié leiers ’n ander beleid van onderhorigheid aan die wêreldmagte van hulle tyd volg – aan die Galdeërs (Gedalja), die Ammoniete (Ismael), en Egipte (Joganan) – wat geweldige onderlinge stryd en konflik tot gevolg gehad het. Nie een van die leiers het regtig die Here in die proses geken nie. Selfs Joganan wat uiteindelik wel vir Jeremia vra om die Here te raadpleeg, slaan dié raad in die wind en gee pad na Tagpanges in Egipte, waar daar ’n Joodse kolonie was (hfst. 42). Hoe tragies.
40:7-41:3 – Gedalja se beleid van onderhorigheid aan Babel
Gedalja het waarskynlik ingesien dat Nebukadnesar toegeeflik was teenoor dié wat onderhorigheid aan hom voorgestaan het. Dit was immers ook iets wat Jeremia voorgestaan het, en waarvoor hy vrygelaat is.
Gedalja volg dus ’n beleid van onderhorigheid aan Babel en verseker die ander leiers dat hulle nie bang hoef te wees om hulle aan die Galdeërs te onderwerp nie: “Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dit sal goed gaan met julle.”
Hy bly ook in Mispa agter om die Galdeërs ter wille te wees en bied aan dat die manskappe kos en huisvesting in die omgewing kan kry. Dié beleid laat ’n klomp Judeërs uit Moab, Ammon en Edom – die lande oos van die Jordaan – na Juda in Mispa terugkeer en hulle het ’n groot wyn- en vrugteoes ingesamel.
Joganan waarsku egter vir Gedalja teen Ismael dat dié eintlik reeds onderhorigheid aan die Ammoniete gesweer het en daarop uit was om Gedalja om die lewe te bring. Gedalja glo dit egter nie, selfs nie toe Joganan aanbied om Ismael in die geheim dood te maak nie.
Ismael, uit die koninklike geslag, het egter presies gedoen waarteen Joganan vir Gedalja gewaarsku het en sommer verder gegaan en behalwe vir Gedalja ’n hele aantal van die Judeërs sowel as van die agtergeblewe Galdese soldate doodgemaak.
41:4-10 – Ismael se beleid van samewerking met die Ammoniete
Ismael se bloeddorstigheid ken egter geen perke nie. Toe daar tagtig mans uit Sigem, Silo en Samaria aankom, waarskynlik pelgrims weens die tekens van vas wat beskryf word, en die offers wat hulle wou bring, ontvang Ismael hulle met trane, maar maak hulle op slinkse manier dood. Tien ontsnap deurdat hulle hom omkoop met ’n klomp weggesteekte kos wat hulle aan hom bekend maak. Die res word in die put van koning Asa gegooi. Daarna het hy al die ander mense van Mispa bymekaargemaak en na die Ammoniete ontvoer.
41:11-18 – Joganan se beleid van onderhorigheid aan Egipte
Joganan tree egter met spoed op teen Ismael en kry al die mense wat weggevoer is terug, hoewel Ismael ontsnap met agt man na die Ammoniete. Daarmee word Joganan die leier van die oorblywendes. Hy is egter bang vir die Galdeërs omdat Gedalja doodgemaak is, en hulle nou vir die koning se wraak bang was. Daarom nader hulle vir Jeremia om vir hulle te bid, soos ons in die volgende hoofstuk sal lees.
Boodskap
Die leierskap krisis wat Juda in die twee dekades ná die dood van koning Josia beleef het met die opeenvolgende swak leierskap van Joahas, Jojakim, Jojagin en Sedekia gaan in ’n seker sin net voort in die tyd van ballingskap. Gedalja tree aanvanklik reg op, maar luister nie na die goed bedoelde waarskuwings van Joganan wat boonop in die kol is nie. Ismael tree met ’n ongebreidelde bloeddorstigheid op wat eintlik net in tragedie kan eindig. Gelukkig dat Joganan daar ook ’n reddende rol speel, hierdie keer aanvaar met waardering deur die volk. Maar ook hy sal uiteindelik nie die ware toets van leierskap kan deurstaan nie, en dit is om nie net te vra na God se leiding nie, maar dit inderdaad te volg, al kos dit ook baie moed om die Here te vertrou.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.