Jeremia 42 – Die Here waarsku teen ’n vlug na Egipte

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnSoos hierdie hoofstuk ontvou, kom ’n mens agter hoe genadig die Here is, maar ook hoe wispelturig en hardkoppig sy mense is.

  • Aan die eenkant antwoord die Here die gebed van Jeremia op versoek van die leiers en die volk en spel presies uit wat hulle moet doen.
  • Aan die ander kant kom ’n mens alreeds uit die antwoord van die Here agter dat die moontlikheid skraal gaan wees dat die leiers en die volk dié woord gaan gehoorsaam, soos Jeremia 43 duidelik sal wys.

42:1-6 – Joganan en sy mense vra na die wil van die Here

’n Mens het die hoop dat daar uiteindelik iemand gaan wees wat na die wil van die Here sal vra en inderdaad sal besluit om dit te doen.  Maar, helaas, dié hoop beskaam, soos dit al vele kere in Jeremia die geval was.

Joganan en al die mense versoek dat Jeremia die Here om sy wil vra, waarheen hulle moet gaan en wat hulle moet doen.  Hulle gee hoog op: “Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur.”  Jeremia belowe om dit te doen en niks vir hulle van God se woord weg te steek nie.

42:7-19a – Jeremia ontvang die woord van die Here dat hulle in Juda moet bly

Ná tien dae ontvang Jeremia die woord van die Here dat hulle in die land moet bly.  Daar is vier dinge wat vir my uitstaan van dié woord:

1. Let op dat Jeremia moeite doen om die woord van die Here te kry, nie maar net sy eie interpretasie daarvan óf wat Joganan-hulle moontlik sou wou hê nie.  Hy was baie bewus van wat Joganan eintlik wil hê moet gebeur, soos hy later aan in die hoofstuk te kenne sal gee.  Maar hy luister totdat hy hoor wat God wil hê moet gebeur.

2. Let ook op hoe dit verband hou met die roeping wat Jeremia van die begin af ontvang het: “As julle in hierdie land bly, sal Ek julle bou en julle nie platslaan nie, julle vestig en julle nie afbreek nie.” (vgl. Jer. 1:10).  Die antwoord van die Here is in lyn met die opdrag wat Hy vir Jeremia reg van die begin af gegee het.

3. Let veral op hoe dit min of meer dieselfde boodskap is as wat aan die Jode in ballingskap gegee word (Jer. 29).  Die plek waar die Jode is, is dus nie die belangrike punt nie, maar hulle gehoorsaamheid aan die opdrag wat die Here op daardie oomblik in die plek waar hulle is, vir hulle gee.  ’n Belangrike perspektief vir enigiemand om in die oorweging van die wil van die Here ingedagte te hou.

4. Aan die belofte van seën word egter ook ’n belofte van oordeel gevoeg dat as hulle nie in Juda bly nie, maar na Egipte toe aftrek, sal die oorlog waarvoor hulle bang is, hulle daarheen agtervolg en hulle sal daar sterf deur oorlog, hongersnood en pes: “Julle wat van Juda oor is: Moenie na Egipte toe gaan nie!

42:19b-22 – Jeremia waarsku hulle dat hulle ongehoorsaamheid hulle lewe op die spel plaas

Jeremia is egter nie onbewus van wat Joganan en sy mense eintlik dink nie.  Daarom verklaar hy in geen onseker taal: “Weet vir seker, ek waarsku julle vandag, julle maak ’n fout!  Julle lewe is op die spel …” Hulle het gevra dat hy die Here namens hulle raadpleeg, maar hy weet ook hulle sal nie doen wat hy vir hulle van die Here af verkondig nie.  Dit beteken dat die woord van oordeel oor hulle voltrek sal word: “op die plek waar julle so graag wil gaan woon.”

Boodskap

Hierdie hoofstuk dra eerstens die boodskap dat die toekoms van die volk Juda en Israel nie lê by die agtergeblewenes in die land nie, want dit is duidelik dat hulle nie na die Here wil of gaan luister nie, en op pad is na Egipte toe.  Die toekoms van die volk lê in ’n nougesette luister na die Here, in hierdie stadium óf in ballingskap in Babel óf in onderdanigheid aan Babel in die land.  Dít is wat die Here duidelik aan hulle almal kommunikeer.  Joganan kry dit nie reg om dié woord van die Here te aanvaar en te omhels nie.  Met hulle trek na Egipte, verlaat hulle die ruimte waarin die Here hulle wou seën.

Hierdie hoofstuk dra tweedens die boodskap dat hoor en doen saamgaan.  As ’n mens die moeite doen om te hoor wat die Here sê, moet jy doen wat Hy sê, anders bewys jy jou as ’n dwaas.  Soos die broer van Jesus, Jakobus, veel later sou sê: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”  (Jak. 1:22).

’n Woord van wysheid en waarskuwing: in die toepassing van dié boodskap op ’n mens se eie lewe, moet jy waak daarteen om dit reglynig op jou eie situasie toe te pas.  Wat ook al jou eie situasie is, jy is nie werklik in ballingskap in Babel óf werklik ’n agtergeblewe in Juda nie.  Daarom is jou opsies ook nie vergelykbaar met dié van die Jode s’n nie.

’n Mens kan nie uit hierdie gedeelte direk en onafhanklik van ander faktore aflei óf jy moet bly óf jy moet ry – by wyse van spreke – in jou eie konteks nie.  Net soos jy dit nie uit enige vorige gedeelte van Jeremia (of die res van die Bybel) direk kan aflei of jy moet ry of bly nie.  Daar is vele ander geestelike onderskeidingstekens wat jy kan en moet inspan om die wil van die Here agter te kom:

  • die vrede wat skeidsregter speel in jou hart (Kol. 3:15; Fil. 4:6-7),
  • die bewussyn van nood of behoeftes waartoe die Here jou roep (Fil. 1:24-25; Hand. 16:6-10),
  • die oortuiging wat die Heilige Gees in jou hart en gewete bring (Rom. 9:1; Gal. 3:5; 1 Joh. 2:20),
  • die gesamentlike onderskeiding van medegelowiges (Matt. 18:19-20), om maar net ’n paar te noem.

Wat die boodskap van Jeremia 42 wel is vir jou, is ’n aanduiding dat jy – soos Jeremia – moet soek na die wil van die Here in jóú situasie.  Die Here sal antwoord:  “Vra, en vir julle sal gegee word.  Soek, en julle sal kry.  Klop, en vir julle sal oopgemaak word.  Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”  (Luk. 11:9-10).

Maar dan moet jy ook vooraf reeds besluit om te doen wat die Here van jou vra.  Dán sal die belofte van die Here aan die volk hier by Jeremia ook vir jou waar wees, dat Hy jou sal bou en vestig in die roeping wat Hy vir jou het (Jer. 42:10).

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d