Jeremia 39:1-40:6 – Jerusalem val voor Nebukadnesar en Jeremia word vrygelaat
Die boodskap wat Jeremia nou al vir amper 40 jaar geprofeteer het – dat die Here sy oordeel oor Juda en Jerusalem sal voltrek – word uiteindelik bewaarheid. Die profeet se woorde word ’n wrede werklikheid. Almal, selfs die Galdeërs, moes en het erken, Jeremia is en was ’n ware profeet.
Die verhaal van hierdie hoofstuk word ook in 2 Konings 24-25 en 2 Kronieke 36 met ’n bietjie meer detail vertel, hoewel interessant genoeg die profeet Jeremia as sodanig nie self daarin genoem word nie. Die fokus is daar vierkantig op die konings se lot in lyn met die fokus van die skrywers van Konings en Kronieke.
Die weergawe van Konings word egter ook amper woordeliks net so weergegee in Jeremia hoofstuk 52. Die presiese rede daarvoor is onbekend, hoewel dit nie vreemd in die OT is nie. ’n Mens vind immers dieselfde tipe oorname van verhale in bv. Konings en Jesaja – vgl. 2 Kon. 18-20 en Jesaja 36-39. Moontlik het die hoopvolle karakter van Jer. 52:31-34 – oor die begenadiging van Jojagin in die ballingskap – die redakteur geïnspireer om die boek van Jeremia op ’n hoopvolle noot te laat afsluit.
39:1-7 – Sedekia vlug, maar word in ballingskap na Babel weggevoer
Die finale beleg van Jerusalem duur net minder as twee jaar. In 586 v.C. word die stadsmuur oopgebreek en Jerusalem ingeneem. Sedekia en sy soldate het probeer wegkom deur in die nag te vlug, maar word gou ingehaal en na Nebukadnesar in Ribla in Hamat (Sirië) gebring waar sy kinders doodgemaak is, sy oë uitgesteek is, en Sedekia met bronskettings na Babel geneem is.
Sedekia se gebrek aan insig in die benarde situasie waarin hy en die volk was sowel as sy weiering om die Here te vertrou en die woord van die Here aan hom te gehoorsaam, ly tot ’n wrede einde van sy lewe. Die laaste gesig wat hy sien, is dié van sy kinders wat doodgemaak word terwyl hy dit moet aanskou. Met sy eie oë uitgesteek, strompel hy blind en in skande in ballingskap na Babel. Sy lewe eindig in ’n doodloopstraat.
39:8-14 – Die arm mense sowel as Jeremia word vrygelaat
Die paleis van die koning en die huise van die volk in die stad word afgebrand en die mure van Jerusalem verwoes (dié mure wat Nehemia weer later sou herbou). Die mense wat in die stad oorgebly het saam met dié wat na die Galdeërs oorgeloop het, word in ballingskap weggevoer (Jer. 52 praat van altesaam 4 600 mense). Volgens 2 Kon. 25 het dit ’n maand ná die val van die stad plaasgevind en het dit die verwoesting van die tempel ingesluit.
Ironies genoeg ontvang die arm grondlose mense wat oorbly die wingerde en landerye van die grondbesitters wat in ballingskap weggevoer is. Hulle is gou aangevul en bygestaan deur ’n klomp Judeërs wat uit Moab, Ammon en Edom – die nasies net oos van die Jordaan – teruggekom het (Jer. 40:11-12).
Jeremia word baie spesifiek ná die beleg van Jerusalem begenadig en vrygelaat in opdrag van Nebukadnesar: “Vang vir Jeremia, kyk goed na hom, moet hom nie kwaad aandoen nie en doen vir hom wat hy vir jou sê.” Jeremia se reputasie was dus baie wyd bekend.
39:15-18 – Die Here seën vir Ebed-Melek
Let op hoe die Here sy profeet steeds gebruik, selfs in die midde van die ontwrigting van die inname en val van Jerusalem. Terwyl hy nog gevange is in die binneplaas van die paleiswag, kry hy ’n woord vir Ebed-Melek, die ontmande Kussiet, wat Jeremia vroeër gehelp het (Jer. 38), dat die Here nie sal toelaat dat hy uitgelewer word aan die Galdeërs nie en dat hy sal kan ontsnap: “Omdat jy op My vertrou het, sal jy ontsnap, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom, sê die Here.”
Daarmee word Ebed-Melek, en natuurlik ook Jeremia, se vertroue op die Here skerp gekontrasteer met die gebrek aan vertroue van Sedekia. Daarmee sê die teks: vertroue op die Here word deur Hom beloon, wantroue gestraf. Hulle lewens illustreer op grafiese wyse die boodskap van Psalm 1:6:
“Ja, die Here sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddelose mense loop dood.” (BDV).
40:1-6 – Jeremia se vrylating word in meer detail beskryf
Die teks begin met ’n woord van die Here wat aan Jeremia aangekondig word, maar nooit gelewer word nie, behalwe as ’n mens die woorde in die mond van die hoof van die lyfwag, Nebusaradan, as die woord van die Here aanvaar.
Hoewel dit met die eerste oogopslag nie regtig sin maak nie, kan dit op ironiese manier tog wees dat die wantroue en gebrek aan insig van Sedekia hiermee nog skerper veroordeel word, deurdat selfs hierdie Galdeër insig in God se handelinge toon en daarmee saamwerk, terwyl die koning dit nie kon regkry nie.
Dié weergawe van Jeremia se vrylating gee ook meer detail as dit vergelyk word met die weergawe in Jer. 39:11-14. Jeremia is reeds geboei saam met die ander ballinge, maar nog in Jerusalem, toe Nebusaradan hom laat haal en vrylaat. Die Galdeër gee Jeremia ’n paar opsies, maar sê uiteindelik vir hom voor wat hy moet doen – bly in Juda “of gaan waar dit jou ook al pas.”
Jeremia kry kos en geskenke (beloning?) en kies om te bly in Mispa in Juda: “tussen die mense wat in die land oor was.” Getrou aan sy roeping tot die einde toe, al sou dit ook beteken dat hy weer aan ontbering sou blootgestel word.
Boodskap
Jeremia 39 kontrasteer die gebrek aan insig en vertroue van Sedekia met die visie en vertroue van Jeremia, sowel as dié van Ebed-Melek, die ontmande Kussiet wat vroeër vir Jeremia ingetree het by die koning. Sedekia eindig blind in ballingskap. Jeremia en Ebed-Melek vind genade en vryheid. Selfs die hoof van die lyfwag van die Galdeërs, Nebusaradan, toon meer insig in die wil van die Here as koning Sedekia!
“In some respects, Zedekiah’s faithlessness is of the most troublesome sort among people of faith. His faithlessness is not rejection of the Lord but an inability to act in courage when pressures mount. Like the church at Laodicea in Rev 3:15, Zedekiah was neither hot nor cold, and he paid a terrible price for his indecision.” (Keown, Word kommentaar).
Jeremia beleef ook die wonder dat sy woorde bewaarheid word. Hy troon as die ware profeet uit bó sy tydgenote wat as valse profete ontmasker word.
Dit is egter versoberend om te besef dat die feit dat Jeremia se woorde bewaarheid is, en dat hy vrygelaat is, nie beteken het dat Jeremia se situasie as gevolg daarvan regtig verbeter het nie. Sy lot was steeds in die hande van onbevoegde en dwase leiers, soos die volgende hoofstukke sal aantoon. Hy kry wel hier ’n geleentheid vir asemskep voor die volgende uitdagings vir hom sou kom in die pad wat hy met die Here loop.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.