Skip to main content

Jeremia 39:1-40:6 – Jerusalem val voor Nebukadnesar en Jeremia word vrygelaat

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie boodskap wat Jeremia nou al vir amper 40 jaar geprofeteer het – dat die Here sy oordeel oor Juda en Jerusalem sal voltrek – word uiteindelik bewaarheid.  Die profeet se woorde word ’n wrede werklikheid.  Almal, selfs die Galdeërs, moes en het erken, Jeremia is en was ’n ware profeet.

Die verhaal van hierdie hoofstuk word ook in 2 Konings 24-25 en 2 Kronieke 36 met ’n bietjie meer detail vertel, hoewel interessant genoeg die profeet Jeremia as sodanig nie self daarin genoem word nie.  Die fokus is daar vierkantig op die konings se lot in lyn met die fokus van die skrywers van Konings en Kronieke.

Die weergawe van Konings word egter ook amper woordeliks net so weergegee in Jeremia hoofstuk 52.  Die presiese rede daarvoor is onbekend, hoewel dit nie vreemd in die OT is nie.  ’n Mens vind immers dieselfde tipe oorname van verhale in bv. Konings en Jesaja – vgl. 2 Kon. 18-20 en Jesaja 36-39.  Moontlik het die hoopvolle karakter van Jer. 52:31-34 – oor die begenadiging van Jojagin in die ballingskap – die redakteur geïnspireer om die boek van Jeremia op ’n hoopvolle noot te laat afsluit.

39:1-7 – Sedekia vlug, maar word in ballingskap na Babel weggevoer

Die finale beleg van Jerusalem duur net minder as twee jaar.  In 586 v.C. word die stadsmuur oopgebreek en Jerusalem ingeneem.  Sedekia en sy soldate het probeer wegkom deur in die nag te vlug, maar word gou ingehaal en na Nebukadnesar in Ribla in Hamat (Sirië) gebring waar sy kinders doodgemaak is, sy oë uitgesteek is, en Sedekia met bronskettings na Babel geneem is.

Sedekia se gebrek aan insig in die benarde situasie waarin hy en die volk was sowel as sy weiering om die Here te vertrou en die woord van die Here aan hom te gehoorsaam, ly tot ’n wrede einde van sy lewe.  Die laaste gesig wat hy sien, is dié van sy kinders wat doodgemaak word terwyl hy dit moet aanskou.  Met sy eie oë uitgesteek, strompel hy blind en in skande in ballingskap na Babel.  Sy lewe eindig in ’n doodloopstraat.

39:8-14 – Die arm mense sowel as Jeremia word vrygelaat

Die paleis van die koning en die huise van die volk in die stad word afgebrand en die mure van Jerusalem verwoes (dié mure wat Nehemia weer later sou herbou).  Die mense wat in die stad oorgebly het saam met dié wat na die Galdeërs oorgeloop het, word in ballingskap weggevoer (Jer. 52 praat van altesaam 4 600 mense).  Volgens 2 Kon. 25 het dit ’n maand ná die val van die stad plaasgevind en het dit die verwoesting van die tempel ingesluit.

Ironies genoeg ontvang die arm grondlose mense wat oorbly die wingerde en landerye van die grondbesitters wat in ballingskap weggevoer is.  Hulle is gou aangevul en bygestaan deur ’n klomp Judeërs wat uit Moab, Ammon en Edom – die nasies net oos van die Jordaan – teruggekom het (Jer. 40:11-12).

Jeremia word baie spesifiek ná die beleg van Jerusalem begenadig en vrygelaat in opdrag van Nebukadnesar: “Vang vir Jeremia, kyk goed na hom, moet hom nie kwaad aandoen nie en doen vir hom wat hy vir jou sê.”  Jeremia se reputasie was dus baie wyd bekend.

39:15-18 – Die Here seën vir Ebed-Melek

Let op hoe die Here sy profeet steeds gebruik, selfs in die midde van die ontwrigting van die inname en val van Jerusalem.  Terwyl hy nog gevange is in die binneplaas van die paleiswag, kry hy ’n woord vir Ebed-Melek, die ontmande Kussiet, wat Jeremia vroeër gehelp het (Jer. 38), dat die Here nie sal toelaat dat hy uitgelewer word aan die Galdeërs nie en dat hy sal kan ontsnap: “Omdat jy op My vertrou het, sal jy ontsnap, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom, sê die Here.”

Daarmee word Ebed-Melek, en natuurlik ook Jeremia, se vertroue op die Here skerp gekontrasteer met die gebrek aan vertroue van Sedekia.  Daarmee sê die teks: vertroue op die Here word deur Hom beloon, wantroue gestraf.  Hulle lewens illustreer op grafiese wyse die boodskap van Psalm 1:6:

Ja, die Here sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddelose mense loop dood.” (BDV).

40:1-6 – Jeremia se vrylating word in meer detail beskryf

Die teks begin met ’n woord van die Here wat aan Jeremia aangekondig word, maar nooit gelewer word nie, behalwe as ’n mens die woorde in die mond van die hoof van die lyfwag, Nebusaradan, as die woord van die Here aanvaar.

Hoewel dit met die eerste oogopslag nie regtig sin maak nie, kan dit op ironiese manier tog wees dat die wantroue en gebrek aan insig van Sedekia hiermee nog skerper veroordeel word, deurdat selfs hierdie Galdeër insig in God se handelinge toon en daarmee saamwerk, terwyl die koning dit nie kon regkry nie.

Dié weergawe van Jeremia se vrylating gee ook meer detail as dit vergelyk word met die weergawe in Jer. 39:11-14.  Jeremia is reeds geboei saam met die ander ballinge, maar nog in Jerusalem, toe Nebusaradan hom laat haal en vrylaat.  Die Galdeër gee Jeremia ’n paar opsies, maar sê uiteindelik vir hom voor wat hy moet doen – bly in Juda “of gaan waar dit jou ook al pas.”

Jeremia kry kos en geskenke (beloning?) en kies om te bly in Mispa in Juda: “tussen die mense wat in die land oor was.”  Getrou aan sy roeping tot die einde toe, al sou dit ook beteken dat hy weer aan ontbering sou blootgestel word.

Boodskap

Jeremia 39 kontrasteer die gebrek aan insig en vertroue van Sedekia met die visie en vertroue van Jeremia, sowel as dié van Ebed-Melek, die ontmande Kussiet wat vroeër vir Jeremia ingetree het by die koning.  Sedekia eindig blind in ballingskap.  Jeremia en Ebed-Melek vind genade en vryheid.  Selfs die hoof van die lyfwag van die Galdeërs, Nebusaradan, toon meer insig in die wil van die Here as koning Sedekia!

In some respects, Zedekiah’s faithlessness is of the most troublesome sort among people of faith. His faithlessness is not rejection of the Lord but an inability to act in courage when pressures mount. Like the church at Laodicea in Rev 3:15, Zedekiah was neither hot nor cold, and he paid a terrible price for his indecision.” (Keown, Word kommentaar).

Jeremia beleef ook die wonder dat sy woorde bewaarheid word.  Hy troon as die ware profeet uit bó sy tydgenote wat as valse profete ontmasker word.

Dit is egter versoberend om te besef dat die feit dat Jeremia se woorde bewaarheid is, en dat hy vrygelaat is, nie beteken het dat Jeremia se situasie as gevolg daarvan regtig verbeter het nie.  Sy lot was steeds in die hande van onbevoegde en dwase leiers, soos die volgende hoofstukke sal aantoon.  Hy kry wel hier ’n geleentheid vir asemskep voor die volgende uitdagings vir hom sou kom in die pad wat hy met die Here loop.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.