Jakobus 5 – Volhard in gebed
Raak stil voor die Here met ’n kort gebed. Lees die teksgedeelte deeglik deur. Let op vir temas in die gedeelte. Vra jouself af: Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek hieronder geskryf het.
My bydrae
Jakobus sluit sy brief af met vier verdere bydraes wat die uitdagings van die lewe met die voorsiening van die Here verbind. Hy rig dié boodskappe aan die rykes om hulle te waarsku, aan die lydendes om hulle tot geduld in lyding aan te spoor, en aan die hele geloofsgemeenskap om met integriteit te lewe, en veral nie op te hou om te bid nie, want dit is kragtig en effektief. Ek deel dit as volg in:
- Dit is dwaas om skatte te vergader in die laaste dae – 5:1-6
- Wees geduldig in lyding – 5:7-11
- Leef met integriteit – 5:12
- Bid gelowig – dit is kragtig en effektief – 5:13-20