Skip to main content

Jakobus 4 – Tree met respek vir mekaar en in afhanklikheid van God op

JakobusLEES

Raak stil voor die Here met ’n kort gebed. Lees die teksgedeelte deeglik deur. Let op vir temas in die gedeelte. Vra jouself af: Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek hieronder geskryf het.

My bydrae

Jakobus gaan dieper in op die bron van die destruktiewe kragte wat in ‘n hele aantal van die gemeentelede aan die werk is en wat in die oorloë en gevegte te siene is wat onder hulle voorkom. Dié onmin en konflik kom van die “begeertes wat in julle ledemate oorlog voer.

Hy raai hulle dus aan om op drie maniere daarmee te handel:

  • Vertrou God vir sy voorsiening – 4:1-10
  • Moenie van mekaar kwaadpraat nie – 4:11-12
  • Leef afhanklik van God – 4:13-17

4:1-10 – Vertrou God vir sy voorsiening

Uit Jakobus se beskrywing van die onderlinge oorloë en gevegte onder lede van die geloofsgemeenskap, is dit duidelik dat hulle aandag moet gee aan hulle verhouding met God, hulle verhouding met hulleself en hulle begeertes en omstandighede, sowel as aan hulle verhouding met mekaar .

Die onderlinge konflik en onmin – metafories beskryf as moord – kom van hulle begeerte na besittings wat vererger word deurdat hulle dié wat wel iets het, met jaloesie bejeën. In plaas daarvan om die Here te vertrou vir sy voorsiening en van Hom te vra wat hulle nodig het, veg hulle met mekaar, en veroorsaak dit vyandskappe en stryd.

Daarom moet hulle in die eerste plek aandag gee aan hulle verhouding met God. Hulle gebedsverhouding met Hom moet herstel word. Hulle tree eintlik as vreemdelinge teenoor God op – soos egbrekers – terwyl hulle vriende kan wees! Dit moet hulle bedroef maak en laat huil – nie om die situasie só te laat nie, maar om dit reg te stel. Hulle moet as vriende van God leef, tot Hom nader, met Hom gemeenskap beoefen.

In die tweede plek moet hulle aandag gee aan hulle verhouding met hulleself en hulle begeertes. Dit sluit in dat hulle op God se voorsiening vertrou en nie net van Hom dinge vra wat eintlik net hulle wellus sal bevredig nie. Soos Paulus daaroor geskryf het: “Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank. En die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4:5-7).

Dit sluit in dat hulle die duiwel sal weerstaan, in terme van die versoeking waarvoor hulle eie begeertes hulle stel, soos in die Ons Vader verwoord: “bring ons nie in versoeking nie, maar red ons van die Bose” (Matt. 6:13). Dit sluit ook in dat hulleself aan God verbind in dade – “reinig die hande” – en gedagtes – “suiwer julle harte”.

En die rede vir dié manier van doen en leef, is dat: “God met jaloersheid waak oor die Gees wat Hy in ons laat woon.” Hy verwys hier na ‘n redelike algemene Skrifbeginsel, eerder as na ‘n direkte aanhaling (vgl. Eks. 34:24; Sag. 8:2). God wil ons vriend wees, nie ons vyand nie. Daarvoor kan ons Hom vertrou.

4:11-12 – Moenie van mekaar kwaadpraat nie

In die derde plek moet hulle aandag gee aan hulle verhouding met mekaar. Hulle moenie van mekaar kwaadpraat nie, veral nie wanneer dit gebore is uit hulle jaloesie oor wat die ander besit nie. Dan raak hulle soos regters wat ‘n oordeel uitspreek oor mekaar, en God se voorsiening in ander se lewens beoordeel, en selfs veroordeel. Deur mekaar te respekteer, respekteer hulle eintlik vir God self.

4:13-17 – Leef afhanklik van God

Die somtotaal van sy boodskap aan hulle is dat hulle in afhanklikheid van God moet leef. Dit moet so wees in terme van hulle beplanning van hulle werkslewe. Dit geld ook in terme van hulle omgee vir ander: “As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, geld dit vir hom as sonde.” God seën ons immers om tot ‘n seën te wees.

Boodskap

Om ‘n vriend van God te wees, is die grootste geskenk wat ‘n mens kan kry. Dít is immers waarom Hy sy Gees in ons laat bly, sodat ons onbelemmerde kontak met Hom kan geniet. Al sy voorsiening en vrygewige genade kom na vore in dié verhouding met Hom. Daarom kan ons met oorgawe werk aan ons verhouding met Hom, kan ons ons begeertes voor Hom bring en van Hom afhanklik lewe. En kan ons in deernis teenoor mekaar optree, sonder om in gevegte betrokke te raak oor dít wat ons dink ander het wat meer is as wat ons self besit.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou prakties deur hierdie gedeelte wil sê. Vra jouself af: Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee?

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed en skryf dit neer in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jakobus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms