Jakobus 4 – Tree met respek vir mekaar en in afhanklikheid van God op
Raak stil voor die Here met ’n kort gebed. Lees die teksgedeelte deeglik deur. Let op vir temas in die gedeelte. Vra jouself af: Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek hieronder geskryf het.
My bydrae
Jakobus gaan dieper in op die bron van die destruktiewe kragte wat in ‘n hele aantal van die gemeentelede aan die werk is en wat in die oorloë en gevegte te siene is wat onder hulle voorkom. Dié onmin en konflik kom van die “begeertes wat in julle ledemate oorlog voer.”
Hy raai hulle dus aan om op drie maniere daarmee te handel:
- Vertrou God vir sy voorsiening – 4:1-10
- Moenie van mekaar kwaadpraat nie – 4:11-12
- Leef afhanklik van God – 4:13-17
4:1-10 – Vertrou God vir sy voorsiening
Uit Jakobus se beskrywing van die onderlinge oorloë en gevegte onder lede van die geloofsgemeenskap, is dit duidelik dat hulle aandag moet gee aan hulle verhouding met God, hulle verhouding met hulleself en hulle begeertes en omstandighede, sowel as aan hulle verhouding met mekaar .
Die onderlinge konflik en onmin – metafories beskryf as moord – kom van hulle begeerte na besittings wat vererger word deurdat hulle dié wat wel iets het, met jaloesie bejeën. In plaas daarvan om die Here te vertrou vir sy voorsiening en van Hom te vra wat hulle nodig het, veg hulle met mekaar, en veroorsaak dit vyandskappe en stryd.
Daarom moet hulle in die eerste plek aandag gee aan hulle verhouding met God. Hulle gebedsverhouding met Hom moet herstel word. Hulle tree eintlik as vreemdelinge teenoor God op – soos egbrekers – terwyl hulle vriende kan wees! Dit moet hulle bedroef maak en laat huil – nie om die situasie só te laat nie, maar om dit reg te stel. Hulle moet as vriende van God leef, tot Hom nader, met Hom gemeenskap beoefen.
In die tweede plek moet hulle aandag gee aan hulle verhouding met hulleself en hulle begeertes. Dit sluit in dat hulle op God se voorsiening vertrou en nie net van Hom dinge vra wat eintlik net hulle wellus sal bevredig nie. Soos Paulus daaroor geskryf het: “Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank. En die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4:5-7).
Dit sluit in dat hulle die duiwel sal weerstaan, in terme van die versoeking waarvoor hulle eie begeertes hulle stel, soos in die Ons Vader verwoord: “bring ons nie in versoeking nie, maar red ons van die Bose” (Matt. 6:13). Dit sluit ook in dat hulleself aan God verbind in dade – “reinig die hande” – en gedagtes – “suiwer julle harte”.
En die rede vir dié manier van doen en leef, is dat: “God met jaloersheid waak oor die Gees wat Hy in ons laat woon.” Hy verwys hier na ‘n redelike algemene Skrifbeginsel, eerder as na ‘n direkte aanhaling (vgl. Eks. 34:24; Sag. 8:2). God wil ons vriend wees, nie ons vyand nie. Daarvoor kan ons Hom vertrou.
4:11-12 – Moenie van mekaar kwaadpraat nie
In die derde plek moet hulle aandag gee aan hulle verhouding met mekaar. Hulle moenie van mekaar kwaadpraat nie, veral nie wanneer dit gebore is uit hulle jaloesie oor wat die ander besit nie. Dan raak hulle soos regters wat ‘n oordeel uitspreek oor mekaar, en God se voorsiening in ander se lewens beoordeel, en selfs veroordeel. Deur mekaar te respekteer, respekteer hulle eintlik vir God self.
4:13-17 – Leef afhanklik van God
Die somtotaal van sy boodskap aan hulle is dat hulle in afhanklikheid van God moet leef. Dit moet so wees in terme van hulle beplanning van hulle werkslewe. Dit geld ook in terme van hulle omgee vir ander: “As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, geld dit vir hom as sonde.” God seën ons immers om tot ‘n seën te wees.
Boodskap
Om ‘n vriend van God te wees, is die grootste geskenk wat ‘n mens kan kry. Dít is immers waarom Hy sy Gees in ons laat bly, sodat ons onbelemmerde kontak met Hom kan geniet. Al sy voorsiening en vrygewige genade kom na vore in dié verhouding met Hom. Daarom kan ons met oorgawe werk aan ons verhouding met Hom, kan ons ons begeertes voor Hom bring en van Hom afhanklik lewe. En kan ons in deernis teenoor mekaar optree, sonder om in gevegte betrokke te raak oor dít wat ons dink ander het wat meer is as wat ons self besit.
LUISTER
Dink na oor wat God vir jou prakties deur hierdie gedeelte wil sê. Vra jouself af: Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee?
LEEF
Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed en skryf dit neer in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan.
Tags: Jakobus
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus