Skip to main content

Genesis 45:3-11 – God gebruik selfs slegte bedoelings om sy goeie bedoelings te laat seëvier

14 Februarie

Genesis 45:3-11 – God gebruik selfs slegte bedoelings om sy goeie bedoelings te laat seëvier

3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef my pa nog?” Sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle het verbysterd voor hom gestaan. 4Josef sê toe vir sy broers: “Kom tog nader na my!” Hulle het nadergegaan, en toe sê hy: “Ek is Josef, julle broer; julle het my verkoop om na Egipte geneem te word. 5Maar moet julle nou nie ontstel en julleself verwyt omdat julle my verkoop het en ek hier beland het nie; want dit is vir die behoud van lewens dat God my voor julle uit gestuur het. 6Ja, daar was nou al twee jaar lank hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle nakomelinge te vestig op aarde, en om julle in die lewe te hou met die oog op ‘n groot uitredding. 8Dus, dit is nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my as ‘n vader vir die farao aangestel, as ‘n heer vir sy hele huishouding en ‘n regeerder oor die hele Egipteland. 9Maak gou en trek op na my pa. Sê vir hom, ‘So sê u seun Josef: “God het my aangestel as heer oor die hele Egipte. Trek af na my toe. Moenie talm nie! 10Kom woon in die Gosenstreek, sodat pa naby my kan wees – pa en pa se kinders en kleinkinders, en ook pa se kleinvee en beeste en alles wat aan pa behoort. 11Ek sal pa daar van kos voorsien, want daar gaan nog vyf jaar lank hongersnood wees. Anders verarm pa – pa, pa se huis en almal wat aan pa behoort.” ’

Josef se opgewondenheid om sy broers te sien, borrel oor in ‘n stortvloed van woorde waarin hy soveel as moontlik probeer inprop van alles wat die afgelope twee dekades sedert hulle hom verkoop het, gebeur het. Hy brei ook uit, met amper te veel detail, van wat hy voorsien vir die toekoms. Maar, Josef sien terselfdertyd die vrees van sy broers en die diep skuldbesef van die onmenslike onreg wat hulle hom aangedoen het. Josef beklemtoon daarom tussen die baie detail oor die hongersnood en sy planne vir die toekoms ‘n baie belangrike perspektief. Dit is dat hulle nie verder moet sleg voel of bang wees omdat hulle hom verkoop het nie, want dit was alles deel van God se planne vir hulle almal. Hy gaan sover as om te sê: “Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God.” Vier keer beklemtoon hy God se werk in die gebeure tot dusver: “God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.” Dat hulle hom verkoop het, is so. En hulle het reeds al daarvoor skuld erken. Maar, dié slegte bedoelings het in God se beplanning ‘n goeie uitkoms gehad. Die hele familie het daarby baat gevind deurdat hulle nou in Egipte aan die lewe gehou sou kon word sodat die belofte van God dat hulle ‘n groot volk gaan word, vervul kan word.

Watter ongelooflike geestelike insig het Josef nie. Dit gee ‘n mens ‘n nuwe perspektief op die belofte wat  Paulus in Romeine 8:28 onderstreep dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet. Ons kan in die lig van die Josefverhaal met groter waardering hierdie belofte van God vasgryp. Trouens, dit rig ons lewens op die dieper belofte van die hiernamaals. Soos Josef sy broers as ”eerste” vooruitgegaan het, sodat “baie broers” uiteindelik nie net aan die lewe gehou kon word deur die kos in Egipte nie, maar in die proses ook geestelike volwasse kon word, só het Jesus dit ook vir ons gedoen. Ons is ook besig om te groei om soos Jesus te word. En Hy doen dit op ‘n besondere wyse deur presies die onontwykbare lyding waaraan ons in hierdie lewe blootgestel word. Sommige daarvan verdiend, soos Josef sy broers op verskillende wyses laat “ly” het met sy optrede en opdragte. Sommige daarvan onverdiend, soos dit die geval was met Josef se ontvoering en slawerny. Dat alles ten goede meewerk, dra dus nie net die boodskap dat alles aan die einde uitwerk nie, maar dat ons in die proses die tipe mense word wat God van ons wil maak. Lyding – verdiend en onverdiend – is die smeltkroes van geestelike groei.

Wat ons daaruit moet leer, is dat sonder lyding min van waarde ooit in ons eie lewe tot stand kom. En daarmee saam, dat ons moet toelaat dat hierdie geestelike proses in ander se lewe sy loop neem. Ons moet ander nie te gou afskryf, omdat hulle nie op dieselfde plek in hulle geestelike lewe as ons is nie.

Lees meer: https://bybelskool.com/genesis-45-josef-omhels-sy-broers-en-verklaar-dat-alles-god-se-werk-was/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.