1 Korintiërs 15:12-20 – Christus se opwekking uit die dood waarborg ons eie opstanding uit die dood
1 Korintiërs 15:12-20 – Christus se opwekking uit die dood waarborg ons eie opstanding uit die dood
12Maar as Christus verkondig word, dat Hy uit die dood opgewek is, waarom sê sommige van julle dat daar nie ‘n opstanding van dooies is nie? 13As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. 14En as Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. 15Boonop word ons as valse getuies vir God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het – wat Hy dan nie opgewek het nie, as dit so is dat dooies nie opgewek kan word nie. 16Want as dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. 18Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore. 19Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. 20Maar nou, Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes.
Daar is mense in die kerk vandag wat hulleself nog Christene noem, maar wat Jesus se opstanding uit die dood ontken. Vir die moderne mens sou dit dan aanstoot gee om in iets te glo wat nie wetenskaplik moontlik is nie. Hulle sal bv sê, Jesus het figuurlik in sy dissipels se harte opgestaan, of in hulle gedagtes, maar niks meer nie. Talle teoloë dink ook so. Gelukkig begin sommige van dié teoloë die band met die Christendom losmaak. En ‘n mens moet dit verwelkom. Dit is ‘n eerliker pad. Ek wens meer van hulle wil dit doen. Hoe dit nou ook al sy, dit is natuurlik nie waar nie. Die Nuwe Testament getuig van die feitelike opstanding van Jesus uit die dood. Jy kan gerus ‘n preek van my lees wat op die feitelikheid van die opstanding fokus. Die punt van Paulus in hierdie gedeelte is:
- As die dooies nie opgewek word nie, is Christus nie opgewek nie.
- As Christus nie opgewek is nie, is jy nog steeds in jou sonde.
- As Christus nie opgewek is nie, is al jou geliefdes wat al dood is, verlore.
- As jy in Christus glo – hoe jy dit ook al verwoord – maar dit is NET vir hierdie lewe, is jy die mees patetiese mens – dit is wat “bejammerenswaardigste van alle mense” beteken.
Jy sien, dit is nie maar om ’t ewe wat jy glo of nie. Elke deeltjie van ons geloofsbelydenis is belangrik. Daar kan nooit ‘n diversiteit wees in wat ons glo nie. Net ‘n diversiteit in die tipe mense wat glo nie – uit elke taal, en volk, en nasie, mans en vrouens. Ons kan verskil van mekaar in hoe ons lyk, hoe ons praat, waarvan ons hou, maar nooit oor die waarheid nie. Dit is die waarheid wat ons een maak, nie diversiteit nie. Dink maar net watter destruktiewe gevolge is daar as jy bv net die maagdelike geboorte van Jesus as ‘n fundamentele waarheid in die geloof laat vaar. As jy daarvan praat as ‘n tienerswangerskap, asof Maria rond geslaap het. Onmiddellik bring jy die Goddelikheid van Jesus se geboorte in gedrang. Is Jesus doodgewoon ‘n buite-egtelike kind. Kan Hy vir jou sondes niks beteken nie.
Dieselfde geld die opstanding uit die dood. As Jesus nie opgestaan het uit die dood, kan jy ook nie opstaan uit die dood nie. Is jou geloof sinloos. Is jou geloof doodgewoon pateties. “Maar nou”, sê Paulus, “Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes.” Dit het alles verander. Indien jy daaraan vashou. Indien jy jou lewe daardeur laat bepaal. Want dan kan jy die belofte vir jouself toeëien: soos Christus werklik en liggaamlik uit die dood opgestaan het, sal jy ook werklik en liggaamlik uit die dood in ‘n nuwe lewe opstaan.
Lees meer (my preek van vanoggend in Somerstrand): https://wp.me/p3yY2R-3ih
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Marinda Hattingh
Báie dankie weereens vir prontuit die waarheid verkondig soos altyd!
Chris van Wyk
My voorreg, Marinda.