Galasiërs 4:1-7 – Ons is nie meer slawe nie, maar erfgename van God
Galasiërs 4:1-7 – Ons is nie meer slawe nie, maar erfgename van God
1Hiermee bedoel ek: Solank as die erfgenaam nog minderjarig is, verskil hy niks van ‘n slaaf nie, alhoewel hy die eienaar van alles is. 2Maar hy staan onder die beheer van voogde en bestuurders, tot die tyd aanbreek wat deur sy vader bepaal is. 3Net so is dit ook in ons geval: Toe ons nog minderjarig was, was ons as slawe onderwerp aan die elementêre beginsels van die wêreld; 4maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, 5sodat Hy dié onder die wet kon loskoop, sodat ons as sy kinders aangeneem kon word. 6En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep: “Abba, Vader!” 7Jy is dus nie meer slaaf nie, maar seun; en as jy seun is, is jy ook erfgenaam deur God.
Met die inleiding: “Hiermee bedoel ek…” borduur Paulus voort op sy argument in Galasiërs 3 dat hulle slegs deur die geloof kinders van God in Christus Jesus is (ons hanteer Galasiërs 3 volgende week). Dit is omdat hulle aan Christus behoort, dat hulle die nageslag van Abraham is en, ooreenkomstig die belofte, erfgename (Gal 3:29). Hy praat nou verder oor wat dit beteken om ‘n erfgenaam te wees. Solank ‘n erfgenaam nog minderjarig is, is hy nie selfstandig nie. Hy kan nie sy regte oor sy erfenis uitoefen nie. Sy voogde en bestuurders beheer dit namens hom. Maar wanneer die tyd aanbreek wat sy vader bepaal het, neem hy die erfenis in besit. Dit is wat nou gebeur het met ons bekering. Ons is deur God as sy kinders aangeneem. Hy het sy Gees in ons harte gestuur as teken van ons status as erfgename van God. Ons is dus nie meer slawe nie, maar kinders. Ons weet dit deur die werk van die Heilige Gees in ons harte wat in ons roep: “Abba, Vader.”
Daarom is ons nou vry mense, vry van die wet, en vry van die sonde. So seker soos ons is dat Christus God behaag, so seker kan ons wees dat ons God ook behaag, want Christus is in ons. En alhoewel ons daagliks steeds sondes doen: “buig God se genade oor ons” soos Maarten Luther sê. Daarom kan sonde ons nie die genade van God laat betwyfel nie. Ons sekerheid is van Christus, daardie magtige Held wat die wet, die sonde, die dood en alle booshede oorwin het. Solank as wat Hy aan die regterhand van God sit om vir ons te bid, het ons niks om van die toorn van God te vrees nie. Dit is waarom dit vir Paulus so swaar is wat hy van die mense van Galasië agterkom. Hulle stel hulle eie kindskap, hulle eie vryheid, in gevaar deur onder die druk van die Joodse gelowiges die wet te probeer nakom, om hulle metafories gesproke in ‘n hok van moets en moenies op te sluit. Hoe kan ‘n mens dit aan jouself doen om die weg van die wet bewandel deur jou te steur aan die besnydenis, die feeste, die seremonies, die dieet reëls, as Christus jou dan vry gemaak het daarvan? Dit maak nie sin nie. Die voorskrifte verslaaf jou en maak dat jy nie na die lewende stem van God in die Woord alleen sal luister nie, maar na die reeks voorskrifte in die wet wat reeds vervul is en behalwe vir die morele wette nie meer van toepassing is op die lewe van ‘n kind van God nie.
Nee, sê Paulus, ons moet vasstaan in die genade wat God vir ons gegee het. Dit is vanuit ‘n Geesvervulde hart wat ons die Here dien, nie vanuit ‘n uiterlike nakoming van die wet nie. Trouens, soos jy agterkom dat daar in jou ‘n beweging is na die goeie, dws van binne af, sonder dat daar ‘n uiterlike voorskrif is wat jou dwing om die goeie te doen nie, is dit soos ‘n beëdigde verklaring van die Heilige Gees, ‘n “affidavit”, wat getuig van Christus wat gestalte kry in jou (Maarten Luther). Hoe meer Christus ‘n werklikheid in jou word, hoe meer is daar ‘n honger na God en sy Woord en hoe meer ervaar jy dat jy die vrug van sy genade in jou lewe begin dra. En hoe meer dié dinge toeneem, hoe sekerder kan jy wees dat die Here waarlik in jou hart en lewe aan die werk is, dat Hy gestalte in jou begin kry. Dat jy jou erfenis in besit geneem het. Eerder as om dat die wet te probeer nakom in allerlei voorskrifte, moet jy op Christus fokus en jouself daagliks daaraan herinner dat God in Christus met jou tevrede is. Jy is sy kind. Jy is nie meer ‘n slaaf nie. Nie van die wet nie. Ook nie van die sonde nie. En kan jy Hom dien in die vryheid wat Hy jou gegee het om Hom en Hom alleen te aanbid.
Lees meer (preek): https://bybelskool.com/galasiers-4-ons-is-kinders-van-die-belofte-sola-scriptura/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar