Spreuke 8 – Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak
Ek gaan die res van die weke tot aan die einde van die kerkjaar op Vrydae fokus op die beloftes in Spreuke. Spreuke is baie duidelik daaroor dat God se beloftes vervul word binne ‘n verhouding met Hom: “Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.” (Spr 3:5-6). Maar, dit beteken steeds dat hierdie beloftes met gesag na ons toe kom. Dit is betroubare beloftes wat God self aan ons gee om op te vertrou.
Spreuke 8 – Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak
1Is dit nie Wysheid wat uitroep, en Verstandigheid wat haar stem laat opklink nie? 2Op die top van die hoogtes langs die pad, waar die hoofpaaie bymekaarkom, het sy stelling ingeneem. 3Langs die poorte, by die ingang na die stad, by die toegang tot die poortdeure, roep sy opgewonde uit: 4“Na julle, manne, roep ek; my stem is gerig tot mensekinders. 5Kry tog insig in vernuf, onverstandiges; onnoseles, bring die hart tot insig! 6Luister, want oor gepaste dinge praat ek – en oor my lippe kom wat reg is. 7Want die waarheid, dit verkondig my mond, en afstootlik vir my lippe is goddeloosheid. 8Wat reg is, kenmerk al die woorde uit my mond, niks daarin is geslepe of verdraai nie; 9dit is alles duidelik vir wie insig toon, en gepas vir hulle wat kennis verwerf. 10Aanvaar my vermaning, en nie silwer nie, aanvaar kennis eerder as goud.” 11Ja, Wysheid is beter as koraal, en niks wat begeerlik is, kan met haar vergelyk word nie. 12“Ek, Wysheid, die kennis van goeie oordeel verkry ek. 13Ontsag vir die Here is om die kwaad te haat; verwaandheid, hoogmoed, ‘n verkeerde pad en ‘n verdorwe mond haat ek. 14Ek beskik oor raad en vindingrykheid; ek, insig, beskik oor krag. 15Deur my regeer konings, en hooggeplaastes vaardig regverdige dekrete uit. 16Deur my voer aanvoerders bevel, ook vooraanstaandes – almal wat regverdige beslissings neem. 17Wie my liefhet, het ek self ook lief, en wie my soek, sal my vind. 18Welvaart en eer is by my, bestendige rykdom en geregtigheid. 19My vrugte is beter as goud, as fyngoud, my opbrengs beter as uitgesoekte silwer. 20Op die pad van geregtigheid loop ek – presies op die paaie van regverdigheid – 21om hulle wat my liefhet, besittings te laat erf. Hulle voorraadkamers maak ek vol. 22“Die Here, Hy het my geskep as die eerste van sy werke, voor sy dade van lank gelede. 23In die verre verlede is ek gevorm, aan die begin, voor die aarde. 24Daar was nog nie oerwaters nie, toe is ek voortgebring; daar was nog nie fonteine ryk aan water nie. 25Voordat berge ingeplant is, voor heuwels daar was, is ek voortgebring, 26toe Hy nog nie grond en oop weivelde gemaak het nie – die eerste grondsoorte van die vasteland. 27Toe Hy die hemele gevestig het, was ek daar. Toe Hy die horison afgemerk het oor die oppervlak van die watermassa; 28toe Hy die wolkehemel daarbo gevestig, die fonteine van die oerwater sterk gemaak het; 29toe Hy vir die see sy grens vasgestel het, dat die water nie sy bevel sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het, 30was ek ‘n lieflingskind aan sy sy – ek was dag ná dag sy vreugde, terwyl ek die hele tyd voor Hom speel. 31Terwyl ek op die bewoonbare deel van sy aarde speel, het ek vreugde gevind in die mensekinders. 32“Daarom, seuns, luister na my! Gelukkig is hulle wat op my paaie bly. 33Luister na my vermaning en word wys; moet dit nie in die wind slaan nie. 34Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou. 35Ja, wie my vind, het die lewe gevind; hy geniet die goedkeuring van die Here. 36Maar wie my ontbeer, doen sy lewe geweld aan; almal wat my haat, het die dood lief.”
Die Wysheid word soos vroeër in Spreuke (1:20-33) as ‘n vrou voorgestel. In vier dele word haar waarde besing (Spr 8:1-11), die omvattende inhoud van haar wysheid uitgespel (Spr 8:12-21), haar impak as eersteling van die skepping op alles wat bestaan (Spr 8:22-31), en die lewe wat sy gee vir dié wat na haar luister (Spr 8:22-36). Die Wysheid laat jou regtig leef!
Let op dat die Wysheid beskikbaar is vir gewone mense in die gewone lewe, om die waarheid te sê, nie net vir Israeliete of gelowiges nie, maar vir alle mense. Dit is verder uiters insiggewend vir my dat die wysheid beskikbaar is oral waar besluite geneem moet word. Dit lei ‘n mens af dat van kruispaaie, stadspoorte, en ingange gepraat word. Dit is waar die wysheid dan ook gevind sal word, nie soseer in die onttrekking van die gewone lewe nie, maar in die hitte van die stryd, in die besig wees en worsteling in en met die lewe, daar waar besluite gevra en geneem moet word. Vers 17 tref my besonderlik, en is natuurlik verbind aan die deurlopende refrein deur die boek: “Wie my liefhet, het ek self ook lief, en wie my soek, sal my vind.” God gee graag vir dié wat na wysheid, na Hom, soek.
Die gordyn word nog verder oopgetrek om die karakter van die Wysheid aan ons bekend te maak. Let op hoe die wysheid se voorrang bo alles uitgespel word. Telkens word gesê dat die wysheid voor alles was, van die begin af, voor die skepping in aanskyn geroep is (aarde, water, berge, grond, hemelgewelf, wolke ens). ‘n Mens moet natuurlik nie te letterlik hiermee omgaan nie, omdat dit poëties bedoel is (fondamente van die aarde is afgesteek, soos ‘n mens ‘n huis se fondamente sou afsteek – Spr 8:29). Die punt is net dat die Wysheid voor alles was, en in alles gebruik is. Omdat die Wysheid dus van die begin af daar was, en haar in alles verlustig het, veral in die mense, roep Spreuke alle mense op om na haar te luister. In die luister na die Wysheid lê die sin van die lewe opgesluit: “Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak.” (8:34). Waar Spreuke 8:1-11 gesê het dat die Wysheid in die lewenskeuse haar stem laat hoor, sê hierdie gedeelte dat daar ook elke dag na haar geluister moet word, tyd gemaak moet word om na haar stem te luister en: “by die kosyne van my ingange wag te hou” (Spr 8:34). Die woord huis kan hier op die tempel dui, hoewel in die konteks dit eintlik op enige ruimte dui waar tyd geneem word om stil genoeg te word om te luister. Dit is nogal ‘n diepsinnige belofte wat die moeite werd is om na te streef: “Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou.”
Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-81-36-die-wysheid-laat-jou-regtig-leef/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar