Skip to main content

Romeine 5:1-11 – Ons het vrede by God deur ons Here Jesus Christus

8 Junie

Romeine 5:1-11 – Ons het vrede by God deur ons Here Jesus Christus

1Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God. 3Maar dis nie al nie: Ons beroem ons ook op ons verdrukking, omdat ons weet verdrukking bewerkstellig volharding, 4en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. 5En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. 7‘n Mens sal nie maklik vir ‘n regverdige persoon sterf nie, al sou ‘n mens dalk nog die moed hê om vir so ‘n goeie persoon te sterf. 8God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Hoeveel te meer sal ons dan deur Hom van die oordeel gered word, noudat ons deur sy bloed geregverdig is! 10As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe verlos word noudat ons met Hom versoen is! 11Maar dis nie al nie; ons vind ons roem ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Romeine 5-8 spel die gevolge van God se vryspraak van die sonde – “geregverdig op grond van geloof” – in ons lewe uit.  Daar is nou vrede tussen ons en God sowel as vrye toegang tot die genade van God waarin ons nou kan vasstaan (vgl ook Hebr 10:19).  Let op hoe Paulus nou ook meesal praat van ons en nie jou of julle soos in die eerste paar hoofstukke nie, waarmee hy die gemeenskap van die gelowiges beklemtoon wat God geskep het tussen hulle, hy inkluis. Hierdie vrede met God kom deur die kruisdood – Hy het “op die regte tyd vir goddeloses gesterf” – en opstanding van Christus – Hy “lewe” vir ons. Die vrede is daarom nie ‘n blote gevoel nie, maar ‘n permanente posisie wat ons voor God beklee. Ons het vrede “by God”. Dit is ook nie iets wat ons bewerk of verdien het nie, want geen sondaar kan self vrede met God “maak” nie. Dit is ‘n vrede wat uit genade alleen gegee word vir elkeen glo. Soos Herbert Lockyer sê: “The sin-hating God met the sin-bearing Christ at Calvary and settled, once and for all, the sin question, providing a peace that knows no change.” (All the Promises of the Bible)

Let op hoe Paulus drie keer die woord “beroem” gebruik. Dit beteken “trots wees op” of “spog met”.

  1. Ons beroem ons (is trots) op die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God (vers 2). Dit gee ons die krag om te volhard.
  2. Ons beroem ons (is trots) op die verdrukking waaraan ons nou deel het (vers 3 – die vertaling “vreugde” – soos in die 1983-vertaling – dra nie die korrekte betekenis van die Griekse woord kauchaomai oor nie). Ons kan dus “trots wees” op ons ervarings van verdrukking, want dit bring volharding, en volharding bring betroubaarheid (beproefdheid / karakter), en dit skep weer op sy beurt ‘n oorvloed van hoop in ons. Dit is soos ‘n sirkel. Ons volharding in verdrukking versterk ons betroubaarheid. Ons betroubaarheid versterk ons hoop, en ons weet dat die hoop nie beskaam nie – ons sal dus nie teleurgestel word nie!
  3. Ons vind ons roem in (is trots op) God self van wie ons die versoening ontvang het (vers 11).

Maar, die vlam wat die hoop in die eerste plek in ons lewe aan die brand steek, is die liefde van God wat deur die Heilige Gees in ons hart uitgestort is. Dit is die voorsmaak van die heerlikheid van God (vgl Rom 8). Die geloof is die instrument waardeur ons geregverdig word en toegang het tot God se genade. Die hoop is die sekerheid wat God in ons skep dat ons deel sal hê aan die heerlikheid van God self. Maar die liefde is die vlam wat die geloof en hoop aansteek, en dít kom van God af. Niks kan ons geloof en hoop dus dwarsboom nie, want as God deur die kruisdood van Jesus sy liefde vir ons gewys het, hoeveel te meer sal Hy ons nie nou deur die opstandingslewe van Jesus van sy oordeel red nie.

Lees meer: https://bybelskool.com/romeine-5-vryspraak-lei-tot-vrede-en-vrye-toegang/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar